YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 18

18
U maak my vry
(Ook 2 Sam 22:1-51)
1Vir die leier van die koor: Van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het hierdie lied vir die Here gesing op die dag toe die Here hom gered het van sy vyande en van Saul.
2Dawid het gesing:
Here, ek is baie lief vir U, U maak my sterk.
3Here, U is my Rots, my veilige plek in die berge,
U maak my vry.
My God, U is my rots, ek voel veilig by U,
U is vir my soos 'n skild,
U is sterk en U red my, U is vir my 'n veilige plek.
4Here, ek wil U prys,
want U het my gered van my vyande.
5Die dood wou my vasbind met toue,
waterstrome het oor my gespoel
en wou my doodmaak.
6Toue van die doderyk het my vasgebind,
vangstrikke van die dood het my vasgevang.
7Wanneer dit sleg gaan, dan skree ek: Here!
Ek roep na my God, ek vra dat Hy my moet help.
Hy hoor my stem in sy paleis,
Hy hoor wanneer ek na Hom roep
en vra Hy moet my help.
8Die aarde het geskud en gebewe,
die fondamente van die berge
het gebewe en geskud,
want die Here was kwaad.
9Rook het uit sy neus gekom,
vuur het uit sy mond gebrand,
kole vuur het uit Hom gekom.
10Hy het die hemel oopgeskuif en Hy het afgekom,
daar was donker wolke onder sy voete.
11Hy het op 'n gerub geklim en Hy het gevlieg,
Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
12Dit was donker rondom Hom,
donker water en dik wolke het Hom toegemaak.
13Dit het geblink voor Hom, wolke het verbygegaan,
en daar was hael en kole vuur.
14Die Here het die donderweer laat raas in die lug,
die Hoogste God het hard gepraat,
en daar was hael en kole vuur.
15Die baie weerligstrale was sy pyle,
Hy het sy vyande na al die kante toe gejaag
en Hy het hulle laat vlug.
16Wanneer die Here met sy vyande raas,
wanneer die asem uit sy neus 'n stormwind word,
dan word die see leeg,
en die fondamente van die wêreld lê oop.
17Die Here steek sy hand uit die hemel
en Hy gryp my,
Hy tel my op uit die baie water.
18Hy red my van my sterk vyande,
van die mense wat my haat,
want hulle is te sterk vir my.
19Hulle val my aan wanneer ek swaarkry,
maar die Here hou my regop.
20Hy bring my na 'n plek waar ek vry is,
Hy red my, want Hy is lief vir my.
21Ek is onskuldig,
en die Here gee vir my wat ek moet kry,
ek het niks verkeerd gedoen nie,
en die Here beloon my.
22Ja, ek het gedoen wat die Here wil hê.
Wanneer my God my oordeel,
dan is ek nie skuldig nie.
23Ek het onthou wat Hy gesê het ek moet doen
en ek het gedoen wat Hy beveel het.
24Ek het alles gedoen wat Hy gesê het,
ek het aangehou om reg te doen.
25Ek is onskuldig,
my God het gesien ek doen niks verkeerd nie,
en Hy het my beloon.
26U doen wat U belowe het
vir die mense wat doen wat húlle belowe,
U is altyd goed vir die mense wat net goed doen.
27Wanneer mense rein is en by U mag wees,
dan is U by hulle.
Wanneer mense vals is,
dan is U te slim vir hulle.
28Ja, dit is U wat mense red
wat hulleself nie kan beskerm nie,
dit is U wat mense verneder
wat dink hulle is belangrik.
29Ja, Here, dit is U wat vir my lig gee,
dit is U, my God, wat lig maak
wanneer dit donker is om my.
30Ja, wanneer U by my is,
dan kan ek 'n klomp mense aanval,
wanneer my God by my is,
dan kan ek oor 'n hoë muur spring.
31Wat God doen, is alles reg,
wat die Here sê, is altyd waar.
Hy is soos 'n skild vir almal wat na Hom toe vlug.
32Die Here is die enigste God,
net ons God is 'n rots.
33Hy is die God wat my sterk maak vir die oorlog,
Hy laat my veilig lewe.
34Hy laat my so vas staan soos 'n ribbok,
Hy laat my veilig staan op hoë plekke.
35Hy leer vir my om oorlog te maak,
Hy maak my arms sterk
sodat ek die snaar van 'n brons-boog styf kan trek.
36Die skild wat U vir my gee, red my lewe,
U help my om regop te bly staan,
U help my, en dit gaan goed met my.
37U laat my vinnig hardloop, my voete gly nie.
38Ek volg en jaag my vyande,
ek kom tot by hulle, ek draai nie om
voordat hulle almal dood is nie.
39Ek slaan hulle, en hulle val,
hulle kan nie weer opstaan nie,
hulle lê voor my voete.
40U maak my sterk om oorlog te maak,
U laat my vyande op hulle knieë staan voor my.
41U laat hulle vlug, weg van my,
en ek kan die mense wat my haat, vir altyd stilmaak.
42Hulle skree en vra dat iemand hulle moet help,
maar niemand red hulle nie,
hulle roep na die Here, maar Hy antwoord hulle nie.
43Ek slaan hulle fyn soos stof
wat wegwaai in die wind,
ek trap op hulle soos ek trap op die modder in die paaie.
44U red my van my eie mense
wat opstandig is teen my,
U maak my die hoof van volke en U beskerm my.
Mense wat ek nie geken het nie,
doen nou wat ek sê.
45Wanneer hulle hoor van my,
dan luister hulle dadelik.
Mense uit ander lande kom kruip voor my.
46Hulle skrik en hulle kom uit hulle stede,
die stede wat sterk mure het.
47Die Here lewe!
Ek wil my Rots prys.
Ek sê die God wat my red,
is belangriker as alles.
48Hy is die God wat my help om mense te straf
oor die dinge wat hulle aan my gedoen het.
Hy laat volke voor my buig,
49Hy red my van my vyande,
Hy laat my staan hoog bo die mense wat teen my is,
Hy red my wanneer wrede mense my wil seermaak.
50Daarom, Here, ek sal U prys sodat die volke dit kan hoor,
ek sal sing oor u Naam.
51Die Here laat die koning wat aan Hom behoort,
altyd wen teen sy vyande,
Hy doen wat Hy vir sy gesalfde belowe het,
vir Dawid en sy nageslag, vir altyd.

Currently Selected:

Psalms 18: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy