YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 20

20
Die Here haat mense wat oneerlik is
1Wanneer jy te veel wyn gedrink het,
dan wil jy altyd spot.
Sterk drank laat jou 'n mens word
wat altyd wil raas.
Niemand wat dronk is,
sal wysheid kry nie.
2'n Mens is bang vir 'n koning,
so bang soos vir 'n leeu wat brul.
As jy die koning kwaad maak,
dan is dit gevaarlik, jy sal miskien sterf.
3Mense respekteer iemand wat nie wil twis nie,
elke dwaas wil graag stry.
4Die lui mens ploeg nie wanneer hy moet ploeg nie,
en wanneer dit tyd is om te oes,
dan soek hy koring om af te sny, maar daar is niks.
5Wanneer iemand goed dink
voordat hy vir ander mense sê wat hulle moet doen,
dan is dit soos water in 'n diep put.
Verstandige mense skep daaruit,
hulle luister na wat hy sê.
6Daar is baie mense wat sê hulle sal doen
wat hulle belowe,
maar daar is min mense wat regtig doen
wat hulle sê.
7'n Mens wat reg lewe, lewe eerlik,
en sy kinders wat ná hom kom, is gelukkig.
8Wanneer 'n koning op sy troon gaan sit
om te oordeel,
dan sien hy alles wat verkeerd is.
9Wie is daar wat kan sê:
“Ek het my lewe skoon gehou,
ek het nie sonde gedoen nie”?
Niemand.
10Die Here haat mense wat oneerlik is
wanneer hulle dinge weeg of meet.
11Jy kan sien hoe 'n jongmens is
wanneer jy kyk wat hy doen,
jy kan sien of hy skoon lewe en eerlik is.
12'n Mens het ore wat kan hoor
en oë wat kan sien,
en die Here het hulle gemaak.
13As jy nie arm wil word nie,
dan moet jy nie lief wees vir slaap nie,
as jy vroeg opstaan, dan sal jy genoeg kos hê
om te eet.
14Die persoon wat iets wil koop,
sê die goed is sleg,
maar wanneer hy weggaan,
dan is hy baie tevrede met wat hy gekoop het.
15Goud en edelstene is kosbaar,
maar wanneer iemand dinge weet,
dan is dit nog meer kosbaar.
16Wanneer iemand borg gestaan het
vir 'n mens wat hy nie ken nie,
wanneer hy belowe het om te betaal
wat iemand uit 'n ander land skuld,
dan moet jy sy klere vat as jý iets
van hom wil terugkry.
17As jy ander mense bedrieg het
om kos te kry,
dan smaak die kos miskien lekker in die begin,
maar later sal dit voel of jy klippies kou.
18As jy eers goed dink voordat jy planne maak,
dan sal jou planne slaag.
Jy moet vra wat ander mense dink
voordat jy besluit om oorlog te maak.
19Iemand wat skinder, sê dinge
wat ander mense nie moet weet nie,
jy moenie vriende wees met iemand
wat nie oppas wat hy sê nie.
20Wanneer iemand sy ouers vervloek,
dan sal hy sterf, dit sal donker wees rondom hom.
21Wanneer iemand later iets moet erf,
maar hy vat dit voordat hy dit moet kry,
dan sal daardie goed nie méér word nie.
22Wanneer iemand slegte dinge gedoen het aan jou,
dan moet jy nie sê jy sal ook slegte dinge
doen aan hom nie,
jy moet wag vir die Here, Hy sal jou help.
23Die Here haat mense wat oneerlik is
wanneer hulle dinge weeg,
weegskale wat nie reg weeg nie, is nie goed nie.
24'n Mens kan nie self weet
wat met hom sal gebeur nie.
Dit is die Here wat besluit wat met ons sal gebeur.
25'n Mens trek 'n vangstrik styf vir homself
wanneer hy iets wy maar nie dink
wat hy belowe nie, hy besef later wat hy belowe het.
26'n Koning wat wysheid het, kan uitvind wie skuldig is,
en hy straf hulle baie swaar.
27Die mens se gees is die lamp van die Here,
dit ondersoek alles wat 'n mens dink en doen.
28Wanneer 'n koning doen wat hy belowe
en hy hou sy belofte,
dan is hy veilig en hy hou aan om te regeer,
want hy doen wat hy belowe.
29Jongmanne is mooi omdat hulle sterk is,
oumense is mooi omdat hulle grys hare het.
30Wanneer iemand 'n pak slae kry,
dan hou hy op om verkeerde dinge te doen,
as jy hom slaan,
dan hou hy op om te dink aan verkeerde dinge.

Currently Selected:

Spreuke 20: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy