YouVersion Logo
Search Icon

Markus 9

9
1Jesus het vir die mense en vir sy dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
God sê Jesus is sy Seun
(Ook Matt 17:1-5,8-9; Luk 9:28-30,33-36)
2Ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem tot op 'n hoë berg. Daar was nie ander mense by hulle nie. Daar by hulle het Jesus toe skielik begin anders lyk. 3Sy klere het blink en baie wit geword. Niemand op die aarde kon dit witter maak nie. 4Elia en Moses het aan hulle verskyn en hulle het met Jesus gestaan en praat. 5Petrus sê toe vir Jesus: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente maak, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.”
6Petrus het nie geweet wat hy moet sê nie, want hy en die ander twee dissipels was baie bang. 7Daar het toe 'n wolk oor hulle gekom. Hulle het gehoor God praat uit die wolk. God het gesê: “ Dit is my Seun, Ek is lief vir Hom. Julle moet doen wat Hy sê.”
8Die drie dissipels het dadelik rondgekyk, maar hulle het net vir Jesus gesien, niemand anders nie. 9Jesus en sy dissipels het afgekom van die berg, en Jesus het vir hulle gesê hulle moet vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Hulle kon dit vertel nadat Hy, die Seun van die mens, weer begin lewe het. 10Die dissipels was gehoorsaam, maar hulle het met mekaar gepraat en gevra wat dit beteken om weer te begin lewe.
Jesus sê Elia het al klaar gekom
(Ook Matt 17:10-13)
11Die dissipels het vir Jesus gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes Elia moet kom voordat die Messias kom?”
12Jesus het vir hulle gesê: “ Elia moet eers kom om alles gereed te maak. Maar hoekom het die profete geskryf dat Ek, die Seun van die mens, baie swaar moet kry en dat die mense slegte dinge sal doen aan My? 13Ek sê vir julle: Elia het al klaar gekom, en die mense het met hom alles gedoen wat hulle wou doen. Dit het gebeur soos die profete oor hom geskryf het.”
Daar was 'n onrein gees in 'n seun, en Jesus het die seun gesond gemaak
(Ook Matt 17:14-21; Luk 9:37-43)
14Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is 'n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry. 15Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet. 16Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?”
17Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is 'n onrein gees in hom wat hom stom maak. 18Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.”
19Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.”
20Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond. 21Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?”
Die pa het gesê: “Vandat hy klein was. 22Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!”
23Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.”
24Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.”
25Toe Jesus sien dat 'n groot klomp mense na hulle toe hardloop, het Hy hard met die onrein gees gepraat en vir hom gesê: “Jy is 'n gees wat mense stom en doof maak. Ek sê vir jou: Gaan uit die seun uit! Jy moet nooit weer in hom inkom nie!”
26Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood. 27Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan. 28Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?”
29Jesus het hulle geantwoord: “'n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.”
Jesus praat die tweede maal oor sy dood
(Ook Matt 17:22-23; Luk 9:43-45)
30Hulle het van daar weggegaan en deur Galilea gegaan. Jesus wou nie hê iemand moes weet waar hulle is nie, 31want Hy was besig om vir sy dissipels te leer. Hy het gesê: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”
32Die dissipels het nog nie verstaan wat Jesus gesê het nie en hulle was te bang om vir Hom te vra wat sy woorde beteken.
Wie is die belangrikste?
(Ook Matt 18:1-2,5; Luk 9:46-48; Joh 13:20)
33Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Toe Jesus in die huis kom, het Hy vir die dissipels gevra: “Waaroor het julle met mekaar gestry terwyl julle geloop het?”
34Maar hulle het stilgebly, want terwyl hulle geloop het, het hulle met mekaar gestry oor wie die belangrikste is. 35Nadat Jesus gaan sit het, het Hy die twaalf dissipels geroep en vir hulle gesê: “As iemand die belangrikste wil wees, dan moet hy die minste belangrik van almal wees en dan moet hy almal dien.”
36Jesus het 'n kindjie geneem en Hy het die kindjie voor hulle laat staan. Hy het die kindjie in sy arms vasgehou en vir sy dissipels gesê: 37“Wanneer iemand vir een van die kinders wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom.”
As iemand nie teen Jesus en sy dissipels is nie, dan help hy vir hulle
(Ook Matt 10:42; Luk 9:49-50)
38Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”
39Maar Jesus het gesê: “Julle moet hom nie keer nie. As iemand my Naam gebruik om 'n wonderwerk te doen, dan sal hy nie gou sleg praat oor My nie. 40As hy nie teen ons is nie, dan help hy ons. 41As iemand vir julle 'n beker water gee omdat julle aan Christus behoort, dan sal God vir hom baie goeie dinge gee. Dit is seker.”
Dinge wat 'n mens laat ophou glo
(Ook Matt 18:6-9; 5:13; Luk 17:1-2; 14:34)
42“En as iemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat ophou glo, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle 'n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom in die see gooi. 43As dit jou hand is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om een hand te hê en die ewige lewe te ontvang, as om twee hande te hê en na die hel te gaan, na die vuur wat nooit ophou brand nie. 44 45En as dit jou voet is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om kreupel te wees en die ewige lewe te ontvang as om twee voete te hê en na die hel te gaan. 46 47As dit jou oog is wat jou laat ophou glo, ruk dit uit. Dit is beter om een oog te hê en die lewe te ontvang wat kom van God, die Koning, as om met twee oë na die hel te gaan. 48 Daar sal die wurms nie doodgaan nie en die vuur sal nie ophou brand nie. 49As 'n mens swaarkry, dan is dit soos om in vuur te brand, en swaarkry is nodig om elke mens te toets, soos sout nodig is vir kos. 50Sout is nodig vir kos, maar as die sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan dit nie meer sout wees nie. Julle moet wees soos goeie sout in kos, daarom moet julle in vrede met mekaar lewe.”

Currently Selected:

Markus 9: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy