YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 8

8
Vroue wat vir Jesus en sy dissipels gesorg het
1Jesus het deur baie stede gegaan, van die een stad na die ander stad. Hy het oral die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die twaalf dissipels het saam met Hom gegaan. 2Daar was ook vroue by hulle. Jesus het hierdie vroue voorheen gesond gemaak toe Hy bose geeste uit hulle laat gaan het. Een van die vroue was Maria Magdalena. Sewe duiwels het uit haar uitgegaan. 3'n Ander vrou was Johanna, die vrou van Gusa. Gusa was die hoof van die mense wat in koning Herodes se paleis gewerk het. Susanna en nog baie ander vroue was ook by Jesus en sy dissipels. Hierdie vroue het hulle eie geld gebruik om vir Jesus en sy dissipels te sorg.
Die gelykenis van die saaier
(Ook Matt 13:1-9; Mark 4:1-9)
4Baie mense het na Jesus toe gekom uit al die stede wat daar naby was. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: 5“'n Man was besig om saad te saai en terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Daar het die mense op die saad getrap en die voëls het dit opgepik. 6Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Toe die saad begin groei, het dit gou droog geword omdat daar nie genoeg water in daardie grond was nie. 7Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het saam met die saad gegroei, en die dorings het die plantjies heeltemal toegegroei. 8Party van die saad het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het mooi gegroei, en daar was baie koring, 100 maal meer as wat die man gesaai het.”
Toe Jesus die gelykenis klaar vertel het, het Hy gesê: “As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê.”
Jesus sê hoekom Hy gelykenisse vertel
(Ook Matt 13:10-11; Mark 4:10-11)
9Jesus se dissipels vra toe vir Hom wat die gelykenis beteken. 10Jesus het gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy Koning is en dat Hy regeer. Maar die ander mense verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle gelykenisse.
“ Daarom kyk daardie mense,
maar hulle sien nie,
en hulle hoor,
maar hulle verstaan nie.”
Jesus sê wat die gelykenis van die saaier beteken
(Ook Matt 13:18-23; Mark 4:13-20)
11Jesus het toe vir die dissipels gesê wat die gelykenis beteken. Hy het gesê: “Die saad is die boodskap van God. 12Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap van God hoor, maar dan kom die duiwel en hy vat die boodskap weg uit hulle harte. Dan kan hulle nie glo nie, en dan red God hulle nie. 13Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en glo en bly is daaroor. Maar daar is nie 'n diep wortel nie, hulle hou nie aan om te glo nie. Wanneer hulle swaarkry, dan hou hulle op om te glo. 14Wanneer die saad tussen dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor, maar hulle is bekommerd oor baie dinge en hulle wil net ryk word en lekker lewe. Dan is hulle soos plante met vrugte wat nooit ryp word nie. 15Maar wanneer die saad in vrugbare grond val, is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en hulle glo dit met hulle hele hart. Hulle onthou die boodskap en hulle is soos plante wat altyd goeie vrugte dra.”
Die gelykenis van die lamp
(Ook Matt 5:15; 10:26; 13:12; Mark 4:21-25)
16Jesus het ook gesê: “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan onder 'n emmer of steek dit onder die bed weg nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander. Dan kan almal in die kamer die lig sien. 17God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. 18Julle moet goed luister na die boodskap. Want as iemand verstaan en hy vertel vir almal dat God Koning is, dan sal God hom nog beter laat verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie, ook as hy dink dat hy verstaan.”
Jesus se ma en sy broers
(Ook Matt 12:46-47,50; Mark 3:31-32,35; Joh 15:14)
19Jesus se ma en broers het vir Hom kom kuier. Hulle kon nie naby Hom kom nie, want daar was te veel mense rondom Hom. 20Toe kom sê iemand vir Jesus: “Jou ma en jou broers staan hier buite en hulle wil jou graag sien.”
21Maar Jesus het vir hulle gesê: “My ma en my broers is die mense wat die boodskap van God hoor en doen wat God wil hê.”
Jesus maak die storm stil
(Ook Matt 8:23-27; Mark 4:35-41)
22Eendag het Jesus saam met sy dissipels in 'n boot geklim. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die ander kant van die see.”
Hulle het dit gedoen. 23Voordat hulle daar was, het Jesus aan die slaap geraak. Skielik het 'n sterk stormwind oor die see begin waai. Die boot het vol water geword en dit het gevaarlik geword vir hulle. 24Die dissipels gaan toe na Jesus toe en hulle maak Hom wakker. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, Meneer, ons sal verdrink.”
Toe Jesus wakker word, het Hy kwaai gepraat met die wind en die groot branders. 25Die wind het opgehou waai, en alles het stil geword. Jesus sê toe vir die dissipels: “Hoekom glo julle nie?”
Maar die dissipels het baie groot geskrik en hulle was baie verbaas. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie is hierdie Man? Hy sê vir die wind en die water hulle moet stil wees, en dan luister hulle na Hom!”
Jesus jaag onrein geeste uit 'n man
(Ook Matt 8:28-34; Mark 5:1-20)
26Jesus en sy dissipels het toe verder gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea. 27Toe hulle uit die boot klim, kom daar 'n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het 'n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon. 28Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval. Hy het hard geskree: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.”
29Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag. 30Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?”
En hy het geantwoord: “My naam is Legioen.”
Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het. 31Die duiwels het Jesus gesoebat om hulle nie na die onderwêreld te stuur nie. 32'n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen. 33Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink. 34Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. Hulle het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase. 35Die mense het gekom om te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, die duiwels het uit hom uitgegaan. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik. 36Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles. 37Al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, het vir Jesus gevra om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan. 38Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het die man weggestuur en Hy het vir hom gesê: 39“Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.”
Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het.
Jesus maak 'n dogtertjie en 'n vrou gesond
(Ook Matt 9:18-26; Mark 5:21-43)
40Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom, want almal het vir Hom gewag om te kom. 41'n Man het na Jesus toe gekom. Sy naam was Jaïrus. Hy was 'n belangrike man in die sinagoge. Hy het voor Jesus op die grond gekniel en hy het vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom. 42Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het. 43Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie. 44Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei. 45Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?”
Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.”
46Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.”
47Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. 48Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.”
49Een van Jaïrus se mense het daar aangekom terwyl Jesus besig was om te praat. Die man het vir Jaïrus gesê: “Jou dogtertjie is dood. Jy moenie die Meneer nog pla nie.”
50Maar Jesus het dit gehoor en Hy het vir Jaïrus gesê: “Jy moenie bang wees nie. Jy moet net glo, dan sal God jou dogter red.”
51Toe Jesus by Jaïrus se huis kom, wou Hy nie hê die ander mense moet saam met Hom in die huis ingaan nie. Hy het net vir Petrus en Johannes en Jakobus en die ouers van die kind saamgeneem. 52Die mense het almal gehuil en getreur oor die dogtertjie. Maar Jesus het gesê: “Julle moenie huil nie, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap.”
53Die mense het vir Jesus gelag, want hulle het geweet die dogtertjie is dood. 54Toe neem Jesus haar hand en Hy sê: “Kind, staan op.”
55Die dogtertjie het weer begin lewe en sy het dadelik opgestaan. Jesus het toe gesê hulle moet vir haar iets gee om te eet. 56Haar ouers was baie bly, maar Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand vertel wat gebeur het nie.

Currently Selected:

Lukas 8: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy