YouVersion Logo
Search Icon

Judas 1

1
Judas groet die mense wat hierdie brief lees
1Ek, Judas, skryf hierdie brief vir julle. Ek is 'n dienaar van Jesus Christus en ek is 'n broer van Jakobus. God het julle gekies om aan Hom te behoort. Julle weet dat God die Vader lief is vir julle en dat Jesus Christus julle goed oppas. 2Ons bid dat God baie goed sal wees vir julle, dat Hy vir julle baie vrede sal gee en baie lief sal wees vir julle.
Julle moet oppas vir mense wat vir julle verkeerd wil leer
3My vriende, ek wou baie graag vir julle geskryf het dat God vir ons en vir julle almal gered het. Maar dit is nou belangrik dat ek dadelik vir julle skryf en vir julle ernstig vra om aan te hou werk vir die goeie boodskap. Ons wat in Christus glo, hou vas aan hierdie boodskap. God het hierdie goeie boodskap klaar gegee vir die mense wat aan Hom behoort. 4Ek skryf nou hierdie dinge vir julle, want party mense het skelm na julle toe gekom. Hulle verander die boodskap van ons God se genade sodat hulle die slegte dinge kan doen wat hulle wil doen. Hulle is ook bang om vir mense te sê hulle behoort aan Jesus Christus, ons enigste Eienaar en Here. In die Ou Testament is lank gelede geskryf dat daardie mense die sondaars is, God sal vir húlle oordeel.
Drie voorbeelde in die Ou Testament: God oordeel sondaars
5Ek weet dat julle al hierdie dinge weet, maar ek wil dit weer vir julle sê. Die Here het lank gelede die mense van Israel uit die land Egipte gered. Maar later het Hy die mense wat nie in Hom geglo het nie, verlore laat gaan. 6Julle onthou ook die engele wat nie aangehou het om te doen wat hulle moes doen nie. Hulle het weggegaan uit hulle woonplek in die hemel. Die Here het hulle vir altyd vasgemaak met kettings en Hy het hulle in die donker plek laat bly totdat Hy hulle sal straf op die dag wanneer Hy almal sal oordeel. 7Julle moet ook onthou wat met die stede Sodom en Gomorra en die stede naby hulle gebeur het. Daardie mense het onsedelik gelewe en hulle wou ook graag seks hê met engele. Daarom is hierdie stede 'n duidelike voorbeeld, dit wys hoe die Here daardie sondes straf met die vuur wat altyd brand.
Nog drie voorbeelde uit die Ou Testament
8Hierdie vals leermeesters doen dieselfde verkeerde dinge soos daardie sondaars. Hulle droom en sien dinge, en daarom doen hulle sonde, hulle maak hulle liggame onrein met sonde. Hulle wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie en hulle sê slegte dinge van engele. 9Maar Migael, die groot engel, het nie dieselfde gedoen nie. Migael het met die duiwel gestry en getwis oor wie die liggaam van Moses mag kry. Migael het toe nie self slegte dinge gesê van die duiwel nie en hy het nie die duiwel ge-oordeel nie. Nee, Migael het vir die duiwel gesê: “ Die Here sal jou straf!”
10Maar hierdie mense wat nie die Here dien nie, sê slegte dinge van almal en alles wat hulle nie verstaan nie. Hulle verstaan party dinge, maar hulle verstaan soos wilde diere wat nie verstand het nie, en dit is daardie dinge wat hulle sal laat sterf. 11Dit sal sleg gaan met hierdie vals leermeesters, want hulle lewe verkeerd en hulle doen sonde soos Kain. Bileam het probeer om die Israeliete te verlei om sonde te doen, hy het dit gedoen sodat hy 'n beloning kon kry. Hierdie vals leermeesters lewe ook so. Hulle is so opstandig soos Korag, en die Here sal hulle verlore laat gaan.
12Julle is gelowiges en wanneer julle vóór die nagmaal saam eet omdat julle lief is vir mekaar, dan is hierdie vals leermeesters ook daar, hulle is soos gevaarlike rotse onder die water, rotse wat 'n skip kan laat sink. Hulle eet en drink en vier fees saam met julle, maar hulle sorg net vir hulleself en hulle is nie skaam daaroor nie. Hierdie vals leermeesters is soos wolke wat nie reën bring nie, die wind waai hulle weg. Hulle is soos vrugtebome wat nie vrugte dra nie. Hulle is so dood soos bome wat mense uit die grond getrek het, ja, hulle is heeltemal dood. 13Hulle sonde is soos die vuil skuim op die wilde branders van die see wanneer daar 'n storm is. So kan 'n mens hulle skandes sien. Hulle is soos sterre wat verdwaal het. Daarom het die Here vir hulle 'n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek.
14Henog, die sewende voorvader ná Adam, het ook die Here se boodskap gebring oor hierdie vals leermeesters. Hy het gesê: “ Julle moet dit weet: Die Here sal kom met sy tienduisende heilige engele 15om almal te oordeel. Die Here sal kom om al die sondaars te straf, Hy sal ook die mense straf wat Hom nie dien nie. Hy sal hulle straf oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het en oor al die slegte dinge wat hulle teen Hom gesê het.”
16Hierdie mense is altyd ontevrede met ander mense, hulle kla altyd oor alles, en hulle doen net die slegte dinge wat hulle self graag wil doen. Wanneer hulle praat, dan spog hulle en hulle sê mooi dinge van ander mense, maar hulle is nie eerlik nie. Hulle sê dit sodat hulle iets van daardie mense kan kry.
Judas sê wat die gelowiges moet doen
17My vriende, julle moet die woorde onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen gesê het. 18Hulle het vir julle gesê: “ In die laaste dae van die wêreld sal daar mense wees wat sal aanhou spot, terwyl hulle die slegte dinge doen wat hulle self graag wil doen.” 19Hierdie mense wat altyd wil spot, sê en doen dinge wat gelowiges vyande laat word van mekaar. Hierdie mense wat altyd wil spot, lewe soos mense van hierdie wêreld omdat hulle nie die Heilige Gees in hulle harte het nie.
20Maar, my vriende, julle moet aanhou om mekaar te help en te bemoedig. Julle moet mekaar bou soos mense 'n huis bou. Die goeie boodskap wat van God kom, moet die fondament wees. Julle moet luister na die Heilige Gees wanneer julle bid. 21God is lief vir julle, daarom moet julle mekaar goed oppas. Julle moet dit doen terwyl julle wag dat ons Here Jesus Christus vir julle die ewige lewe sal gee. Hy sal dit vir julle gee omdat Hy goed wil wees vir julle. 22Julle moet goed wees vir mense wat twyfel. 23Julle moet ander mense red voordat God hulle oordeel, julle moet hulle red soos 'n mens iemand red uit 'n vuur. Julle moet goed wees vir ander mense, maar julle moet versigtig wees en julle moet die dinge haat wat die sondaars doen. Julle moet ook hulle klere haat, hulle klere is heeltemal vuil van die sonde wat hulle doen.
Prys God
24God is baie sterk. Hy gebruik sy krag om julle op te pas sodat julle nie sal val en sonde doen nie. Hy kan julle laat staan voor Hom, die Koning, en julle sal sonder sonde wees. Julle sal baie bly wees. 25Ons behoort aan Jesus Christus, ons Here. Daarom moet ons vir God, ons Redder, prys. Net Hý is God, Hy is die Koning. Hy is baie sterk en Hy regeer van die tyd voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy regeer nou en vir altyd en altyd. Amen.

Currently Selected:

Judas 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy