YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 17

17
Jesus bid vir die dissipels
1Jesus het dit alles vir die dissipels gesê, en daarna het Hy opgekyk na die hemel en gebid. Hy het gebid: “Vader, die tyd het nou gekom. Nou moet U vir die mense wys dat Ek ook God is. Dan kan Ek ook weer vir die mense wys dat U God is. 2U het gesê Ek regeer oor al die mense. Daarom kan Ek die ewige lewe gee vir die mense wat U vir My gegee het. 3As hulle die ewige lewe het, dan beteken dit hulle ken U, die enigste ware God, en hulle ken My, Jesus Christus, U het My na die wêreld gestuur.
4“Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen. 5Vader, nou moet U My na U toe neem. Dit sal vir die mense wys dat Ek ook God is. U moet vir hulle wys dat Ek by U was en dat Ek ook God was voordat die wêreld daar was.
6“U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen. 7Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom. 8Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het.
9“Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U. 10Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is. 11Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe.
“ Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk. 12Toe Ek by hulle was, het Ek u Naam gebruik om hulle te beskerm, die Naam wat U vir My gegee het. Ek het hulle opgepas en hulle het nie verlore gegaan nie. Net een van hulle het verlore gegaan, en hy móés verlore gaan. So het dit waar geword wat in die Ou Testament geskryf is. 13Nou gaan Ek na U toe. Ek bid al hierdie dinge terwyl Ek nog op die aarde is, want Ek wil die mense bly maak wat U vir My gegee het. Ek wil hulle regtig baie bly maak.
14“Ek het vir hulle vertel wat U vir My gesê het, en die mense van die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie. Ek behoort ook nie aan die wêreld nie. 15Ek vra nie dat U hulle moet wegneem uit die wêreld nie. Ek vra dat U hulle moet beskerm teen die duiwel. 16Hulle behoort nie aan die wêreld nie, soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.
17“Wat U sê, is die waarheid. Gebruik die waarheid om hulle aan U te wy. 18U het My na die mense van die wêreld gestuur. So het Ek die mense wat U vir My gegee het, ook na die mense van die wêreld gestuur. 19Ek wy Myself aan U, Ek word 'n offer sodat die mense kan lewe wat U vir My gegee het. Dan kan U die waarheid gebruik om hulle aan U te wy.
20“Ek bid nie net vir hierdie mense nie. Ek bid ook vir die ander mense wat in My sal glo omdat hierdie mense vir hulle sal vertel van My. 21Vader, Ek bid dat hulle almal sal saamwerk. Dan sal hulle by Ons wees soos U by My is en soos Ek by U is. Dan sal die mense van die wêreld glo dat U My na die wêreld gestuur het. 22U het gesê Ek is God, en so het Ek ook vir hulle die ewige lewe gegee. Daarom kan hulle saamwerk, soos Ons saamwerk. 23Ek sal by hulle wees en U sal by My wees. Dan sal hulle waarlik saamwerk en die mense van die wêreld sal weet U het My na die wêreld gestuur. Hulle sal ook weet U is lief vir die mense wat U vir My gegee het, U is lief vir hulle, soos U lief is vir My.
24“Vader, Ek gaan nou na die hemel. Ek wil graag hê die mense wat U vir My gegee het, moet ook daar saam met My wees. Dan kan hulle sien Ek is God. U het vir My hierdie eer gegee, want U was lief vir My, ook voordat die wêreld daar was. 25 Regverdige Vader, die mense van die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en die mense wat U vir My gegee het, weet U het My na die wêreld gestuur. 26Ek het vir hulle vertel van U en Ek sal vir hulle nog meer vertel van U. Dan sal u liefde in hulle harte wees, die liefde wat U vir My het, en Ek sal by hulle wees.”

Currently Selected:

Johannes 17: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy