Hosea 1
1
1Die Here het gepraat met Hosea seun van Beëri. Dit was in die tyd toe vier konings ná mekaar koning van Juda was. Die konings was Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Jerobeam seun van Joas was toe koning van Israel.
Julle is nie meer my volk nie
2Die Here het begin om met Hosea te praat. Die Here het vir Hosea gesê:
“Jy moet trou en jy moet kinders kry. Jou vrou en jou kinders sal ontrou wees, want al die mense in die land is altyd ontrou aan die Here.”
3Hosea het toe gegaan en hy het met Gomer getrou. Gomer was die dogter van Diblajim.
Gomer het swanger geword en sy het 'n seun gekry vir Hosea.
4Die Here het toe vir Hosea gesê:
“Jy moet die seun Jisreël noem, want die tyd is naby wanneer Ek die nageslag van koning Jehu sal straf. Ek sal hulle straf, want hulle het baie mense vermoor in die stad Jisreël.
“Ek sal hulle koning wegvat, die land Israel sal nie meer 'n koning hê nie.
5“Daardie dag sal Ek vyande laat kom om oorlog te maak teen Israel, en hulle sal die mense van Israel oorwin in die Jisreël-vallei.”
6Gomer het weer swanger geword en sy het 'n dogter gekry.
Die Here het gesê:
“Jy moet haar noem
‘Nie-Weer-Goed-Wees-Nie,’
“want Ek sal nooit weer goed wees vir die mense van Israel nie. Nee, Ek sal hulle wegvat uit hulle land, Ek sal dit doen.
7“Maar vir die mense van Juda sal Ek goed wees. Ek is hulle God die Here, en Ek sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens en oorlog nie, nie met soldate op perde nie.”
8Gomer se dogter, Nie-Weer-Goed-Wees-Nie, het grootgeword en sy het nie meer aan haar ma gedrink nie. Gomer het toe weer swanger geword en sy het 'n seun gekry.
9Die Here het gesê:
“Jy moet hierdie seun noem ‘Nie-My-Volk-Nie,’ want julle is nie meer my volk nie, en Ek is nie meer julle God nie.”
Julle is my volk
10“Maar eendag sal die Israeliete
so baie wees
soos die sand by die see,
'n mens kan dit nie meet of tel nie.
Ek het vir hulle gesê:
‘Julle is nie my volk nie,’
maar daardie dag
sal die mense vir hulle sê:
‘Julle is kinders van die God wat lewe.’
11Dan sal die mense van Juda
en die mense van Israel
bymekaarkom
en hulle sal een volk wees.
Hulle sal vir hulle een leier kies
en hulle sal die land terugvat.
Ja, daardie dag
sal daar belangrike dinge
gebeur in Jisreël.
12Julle moet vir julle broers sê:
‘Julle is my volk,’
en vir julle susters moet julle sê:
‘Die Here sal weer goed wees
vir julle.’ ”
Currently Selected:
Hosea 1: ABA
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.
HOSEA 1
1
1Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas.
Die Israeliete is ontrou aan die Here
2'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea.
Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.
3Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak. 5Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte.
6Gomer het weer swanger geraak en sy het 'n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê:
Noem haar Sonder-ontferming,
want Ek gaan My nie weer oor Israel ontferm
en hulle sonde vergewe nie.
7Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.
8Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en 'n seun gekry. 9Die Here het gesê:
Noem hom Nie-my-volk-nie,
want julle is nie my volk nie
en Ek is nie julle God nie.
'n Nuwe toekoms vir Israel
10Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.” 11Dan sal die Judeërs en die Israeliete weer een word en vir hulle een leier aanwys en die beheer van die land oorneem. Daardie dag sal Jisreël se val groot wees.
12Sê maar solank vir julle broers: “My volk,” en vir julle susters: “Dié vir wie daar ontferming is.”
Currently Selected:
:
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.