Genesis 45
ABA
45
Josef sê vir sy broers wie hy is
1Josef kon nie meer vir die mense wegsteek hoe hy voel nie. Hy het gesê al die ander mense moet weggaan van hom. Net sy broers het by hom gebly. Toe het hy vir sy broers gesê wie hy is. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die #45:2 farao: Hulle het die koning van Egipte “die farao” genoem. Dit is 'n woord in die Egiptiese taal en dit beteken “Groot huis”farao se huis dit gehoor het. 3Josef het vir sy broers gesê: “Ek is Josef. Lewe Pa nog?”
Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was te bang vir hom.
4Toe sê Josef vir sy broers: “Kom asseblief nader na my toe.”
Hulle het nader gekom, en hy het vir hulle gesê: “Ek is julle broer Josef, julle het my verkoop, en die mense wat my gekoop het, het my na Egipte gebring. 5Julle moenie sleg voel en vir julleself kwaad wees omdat julle my verkoop het nie. God het my gestuur om voor julle hiernatoe te kom sodat ek mense se lewens kan red. 6Dit is nou die tweede jaar dat daar #45:6 hongersnood: Wanneer daar min kos is om te eethongersnood in die land is. Dit sal nog vyf jaar lank so droog wees dat die mense nie sal kan ploeg en plant nie. 7God het my vóór julle gestuur om julle te help sodat daar van julle mense in die land kan aanhou lewe en sodat ek baie mense kan red. 8Dit was nie júlle wat my hiernatoe laat kom het nie, dit was Gód. Hy het my gekies om vir die farao te sê wat hy moet doen. Ek is ook die hoof van die farao se hele huis, en die hoof oor die hele Egipte.
9“Gaan nou dadelik na Pa toe en sê vir hom sy seun Josef sê: ‘God het my die hoof oor die hele Egipte gemaak. Pa moet na my toe kom, moenie wag nie. 10Pa kan in Gosen woon en naby my wees, jy en jou kinders en jou kleinkinders en jou skape en bokke en beeste, alles wat aan Pa behoort. 11Dan kan ek vir Pa hier sorg, want daar sal nog vyf jaar lank min kos wees. As Pa na my toe kom, dan sal Pa nie arm word nie, jy en jou seuns en almal by jou.’
12“Julle kan sien dit is ek, en Benjamin kan ook sien dit is ek, Josef, wat met julle praat. 13Gaan vertel vir Pa ek is 'n belangrike man in Egipte. Vertel vir hom van alles wat julle hier sien, en maak gou, bring Pa na my toe.”
14Toe sit Josef sy arms om sy broer Benjamin se nek en hy huil. Benjamin het ook vir Josef omhels en gehuil. 15Josef het al sy broers gesoen en hy het by hulle gestaan en huil. Daarna het sy broers met hom gepraat.
16Die mense in die farao se huis het hiervan gehoor en gesê: “Josef se broers het hiernatoe gekom.”
Die farao en sy #45:16 amptenaar: Iemand wat vir die koning gewerk het en wat hom moes help om die land te regeeramptenare was bly daaroor. 17Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers hulle moet in Egipte kom woon. Hulle moet hulle goed op hulle donkies laai. Hulle moet kos saamneem en eers teruggaan na Kanaän. 18Hulle moet hulle pa en hulle families gaan haal en dan na my toe kom. Ek sal vir hulle die beste plek in Egipte gee, en hulle sal hier lekker kan lewe. 19Jou broers moet waens uit Egipte saamneem vir hulle kinders en vroue. Hulle pa moet ook daarop ry en hiernatoe kom. 20Hulle moenie hartseer wees oor hulle goed wat daar sal agterbly nie, want hier sal hulle die beste kry wat hier in Egipte is.”
21Die seuns van Jakob het toe gedoen wat die farao gesê het. Josef het vir hulle waens gegee soos die farao gesê het, en ook padkos. 22Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy 300 #45:22 stukke silwer: Geld. Een stuk silwer of “*sikkel” het omtrent 11,4 gram geweeg. Hierdie 300 stukke silwer het omtrent 3,42 kilogram geweegstukke silwer en vyf maal meer klere gegee.
23Josef het tien donkies vir sy pa gestuur waarop hulle die beste goed van Egipte gelaai het, en ook tien donkie-merries met koring en brood en kos. Dit was padkos vir sy pa. 24Josef het sy broers teruggestuur na Kanaän en hy het vir hulle gesê: “Moenie vir mekaar kwaad word en stry op die pad nie.”
25Hulle het weggegaan uit Egipte en hulle het in Kanaän aangekom by hulle pa Jakob. 26Hulle het vir hom vertel dat Josef nog lewe en dat hy die hoof is oor die hele Egipte. Jakob het groot geskrik en hy was baie ontsteld. Hy het hulle nie geglo nie. 27Jakob se seuns het vir hulle pa alles vertel wat Josef gesê het. Toe Jakob die waens sien wat Josef vir hom gestuur het om op te ry, het hy opgewonde geword 28en gesê: “Ek is tevrede. My seun Josef lewe nog. Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Bybel vir almal