YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 27

27
Isak wil vir Esau seën
1Isak was al baie oud. Hy kon nie meer sien nie. Hy roep toe sy oudste seun Esau en hy sê vir hom: “My seun.”
En Esau sê: “Hier is ek.”
2Toe sê Isak: “Ek is baie oud, en ek weet nie hoe lank ek nog sal lewe nie. 3Neem asseblief jou pyl en boog en gaan skiet vir my 'n wildsbok in die veld. 4Maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my. Ek wil dit eet en dan wil ek jou seën voordat ek sterf.”
Isak seën vir Jakob
5Rebekka het gehoor wat Isak vir sy seun Esau sê. Toe Esau na die veld gegaan het om 'n bok te gaan skiet, 6sê Rebekka vir haar seun Jakob: “Ek het gehoor jou pa praat met jou broer. Hy het vir Esau gesê 7dat hy 'n bok moet gaan skiet en dat hy dit vir hom moet gaarmaak. Jou pa wil dit eet en dan wil hy vir Esau seën voordat hy sterf. 8My seun, luister nou mooi na my en doen wat ek vir jou sê. 9Gaan vang gou twee mooi bok-lammers. Ek sal hulle gaarmaak soos jou pa daarvan hou. 10Dan bring jy dit vir jou pa sodat hy dit kan eet en sodat hy jou kan seën voordat hy sterf.”
11Jakob sê toe vir Rebekka: “Maar Esau se vel is vol hare en my vel is glad. 12Miskien voel Pa aan my, en dan dink hy dat ek met hom wil spot. Dan sal hy my vervloek en my nie seën nie.”
13Toe sê sy ma vir hom: “My seun, as jou pa jou vervloek, dan sal die straf op my kom. Jy moet luister na my. Gaan vang vir my die twee bokkies.”
14Jakob het gegaan en hy het die bokkies gevang en vir sy ma gebring. Sy het hulle gaargemaak soos sy pa daarvan hou. 15Toe neem Rebekka haar oudste seun Esau se klere wat by haar in die tent was, en sy trek dit vir haar jongste seun aan. 16Sy neem ook die bok-lammers se velle en sy trek dit om Jakob se arms en om sy gladde nek.
17Toe gee sy die lekker vleis en die brood wat sy gemaak het vir haar seun Jakob, 18en hy gaan na sy pa toe en sê vir hom: “Pa.”
En Isak sê: “Hier is ek. Wie is jy, my seun?”
19Jakob het vir sy pa gesê: “Ek is Pa se oudste seun Esau. Ek het gemaak soos Pa vir my gesê het. Sit asseblief regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.”
20Toe vra Isak vir sy seun: “Hoe het jy so gou 'n bok gekry, my seun?”
En Jakob antwoord: “Die Here, Pa se God, het my gehelp om gou 'n bok te kry.”
21Isak sê toe vir Jakob: “My seun, kom asseblief nader sodat ek aan jou kan voel. Is jy my seun Esau of nie?”
22Jakob het nader gekom na sy pa Isak toe, en Isak het aan hom gevoel. Hy sê toe: “Jou stem is soos Jakob se stem, maar jou arms voel soos Esau se arms.”
23Isak het nie geweet dat dit Jakob is nie, want Jakob se arms was vol hare soos sy broer Esau se arms. Isak het toe vir Jakob geseën. 24Maar hy het eers weer gevra: “Is jy regtig my seun Esau?”
En Jakob het gesê: “Ja, ek is.”
25Toe sê Isak: “My seun, bring vir my die wildsvleis, sodat ek daarvan kan eet, want Ek wil jou seën.”
Jakob gee dit toe vir hom, en hy het geëet. Jakob het ook wyn vir hom gebring, en hy het dit gedrink. 26Toe sê sy pa Isak vir hom: “My seun, kom asseblief nader en soen my.”
27En Jakob het nader gegaan en hom gesoen. Isak het die klere geruik wat Jakob aangehad het, en toe het hy vir Jakob geseën en gesê:
“My seun ruik soos die veld
wat die Here geseën het.
28Ek bid dat God vir jou
van die hemel se dou
sal gee
en die beste van alles wat uit
die aarde kom.
Ek bid dat jy baie koring
en wyn sal hê.
29Ek bid dat ander volke
jou sal dien en dat
die mense van ander lande
voor jou sal buig.
Jy sal die hoof wees
oor jou broer,
en hy sal voor jou buig.
As iemand jou vervloek,
dan sal die Here
hom vervloek,
en as iemand jou seën,
dan sal die Here hom seën.”
30So het Isak vir Jakob geseën.
Esau wil vir Jakob doodmaak
Toe Jakob weggaan van sy pa, kom Esau terug uit die veld waar hy die wildsbok geskiet het.
31Esau maak toe ook 'n lekker ete gaar en bring dit vir sy pa en sê vir hom: “Pa, sit asseblief regop en eet van my wildsvleis, sodat Pa my kan seën.”
32Isak vra toe vir hom: “Wie is jy?”
En hy antwoord: “Ek is jou oudste seun Esau.”
33Toe skrik Isak baie groot en hy begin bewe. Hy vra toe vir Esau: “Iemand het 'n wildsbok geskiet en hy het dit vir my gebring. Wie was dit? Ek het van alles geëet en ek het hom geseën voordat jy gekom het. En ek kan nie sy seën wegvat nie.”
34Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard geskree en begin huil. Hy sê toe vir sy pa: “Pa, seën asseblief ook vir my.”
35Isak het gesê: “Dit is jou broer wat my bedrieg het en wat jou seën gevat het.”
36En Esau sê: “Ja, sy naam is Jakob, hy is skelm. Hy het my twee maal bedrieg. Hy het my regte gevat en nou het hy ook my seën gevat. Kan Pa my ook seën?”
37Isak het vir Esau gesê: “Ek het klaar gesê Jakob sal jou hoof wees. Jakob se hele familie sal hom dien. Ek het hom geseën, en hy sal altyd baie koring en wyn hê. My seun, wat is daar nog wat ek vir jou kan gee?”
38Toe sê Esau vir sy pa: “Het Pa net een seën? Seën my ook asseblief.”
En Esau het hard begin huil.
39Sy pa sê toe vir hom:
“Jy sal ver weg woon
van die dinge van die aarde
wat mense ryk laat word,
ver van die dou
van die hemel daarbo.
40Jy sal moet oorlog maak
om te lewe
en jy sal jou broer
moet dien.
Maar as jy hard probeer,
dan sal jy vry word.”
41Esau het vir Jakob gehaat omdat sy pa vir Jakob geseën het. Esau het gedink: My pa sal nie meer lank lewe nie, en wanneer hy dood is, dan sal ek vir Jakob doodmaak.
Rebekka sê vir Jakob wat Esau wil doen
42Die slawe het vir Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het, en sy het iemand gestuur om vir Jakob te roep. Sy het vir hom gesê: “Pasop! Jou broer Esau is so kwaad dat hy jou wil doodmaak. 43My seun, luister nou mooi wat ek vir jou sê. Jy moet na my broer Laban toe vlug. Hy woon in die land Haran, 44jy moet 'n tyd lank by hom bly totdat jou broer nie meer kwaad is nie. 45Wanneer jou broer vergeet het wat jy aan hom gedoen het en nie meer vir jou kwaad is nie, dan sal ek iemand stuur om jou te roep. Hoekom moet ek altwee my seuns op een dag verloor?”
Isak stuur vir Jakob weg
46Rebekka het vir Isak gesê: “Ek het nou genoeg gehad van die twee Hetitiese vroue van Esau. As Jakob ook 'n Hetitiese vrou neem soos hierdie skoondogters, dan wil ek nie meer lewe nie.”

Currently Selected:

Genesis 27: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy