YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 25

25
Abraham trou weer
1Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura. 2Ketura en Abraham se seuns was Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag.
3Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Dedan se nageslag was die mense van Assur, Letus en Leüm.
4Midian se seuns was Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Hulle was almal die nageslag van Ketura.
5Isak het alles gekry wat Abraham gehad het.
6Abraham het vir die kinders van sy byvrou Ketura presente gegee terwyl hy nog gelewe het, en hy het hulle weggestuur na die ooste, weg van Isak.
Abraham sterf en word begrawe
7Abraham het 175 jaar oud geword. 8Hy was baie oud. Hy het gesterf en hy is begrawe. 9Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpela-grot oorkant Mamre. Dit was op die grond wat voorheen behoort het aan Efron die Hetiet. Efron was die seun van Sogar. 10Abraham het voorheen hierdie stuk grond gekoop by die Hetiete en hy het sy vrou Sara daar begrawe.
11Ná Abraham se dood het God Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.
Ismael se nageslag
12Hier is 'n lys van die nageslag van Ismael, Abraham en Hagar se seun. Hagar was Sara se slavin. Sy het uit Egipte gekom. 13Hier is die name van Ismael se nageslag: Ismael se oudste seun was Nebajot. Die ander seuns was Kedar, Adbeël, Mibsam, 14Misma, Duma, Massa, 15Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16Dit is die name van Ismael se twaalf seuns. Hulle was leiers van hulle families en stamme. Hulle het in kampe en klein dorpies gewoon. Die plekke en die seuns het dieselfde name gehad.
17Ismael het 137 jaar oud geword. Toe het hy gesterf en hulle het hom begrawe.
18Ismael se nageslag het tussen Gawila en Sur gewoon. Sur was oos van Egipte naby Assur. Ismael het weg van sy familie gaan woon.
Isak en Rebekka se seuns
19Hier is die verhaal van Isak, Abraham se seun.
20Toe Isak 40 jaar oud was, het hy getrou met Rebekka, die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram. Sy was die suster van Laban die Arameër.
21Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy kon nie kinders kry nie. Die Here het geluister na sy gebed, en sy vrou Rebekka het swanger geword. 22Die kinders in haar het baie teen mekaar geskop, en sy het gesê: “Hoekom skop die kinders so?”
Sy het gaan bid en vir die Here gevra hoekom dit gebeur.
23Die Here het vir haar gesê:
“Die twee kinders in jou
sal mekaar se vyande word.
Hulle sal twee volke word.
Die een volk sal sterker wees
as die ander volk,
en die oudste
sal die jongste dien.”
24Toe die kinders gebore is, was dit 'n tweeling. 25Toe die eerste seun gebore is, sien hulle hy is rooi en hy het baie hare op sy lyf, so baie hare soos op 'n dier se vel. Daarom het hulle hom Esau genoem. 26Daarna is sy broer gebore. Sy broer se hand het aan Esau se voet vasgehou. Hulle het hom Jakob genoem. Isak was 60 jaar oud toe die twee seuns gebore is.
27Die seuns het grootgeword, en Esau kon goed jag. Hy het gehou van die veld. Jakob was 'n rustige man en hy het geboer met skape en bokke. 28Isak was meer lief vir Esau, want Isak het gehou van wildsvleis. Maar Rebekka was meer lief vir Jakob.
Esau gee sy regte weg
29Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het van die veld gekom en hy was baie moeg. 30Esau sê toe vir Jakob: “Ek is baie honger. Gee my asseblief van daardie rooi sop van jou.”
Daarom het hulle Esau ook Edom genoem.
31Maar Jakob sê vir hom: “Gee dan vir my eers die regte wat jy het omdat jy eerste gebore is.”
32Toe sê Esau: “Goed. Ek is baie honger. Ek voel ek sal sterf. Die regte sal my niks help wanneer ek dood is nie.”
33Jakob sê toe: “Jy moet dit eers vir my belowe.”
Esau het dit belowe en hy het sy regte vir Jakob gegee. 34Jakob het vir Esau brood en die lensiesop gegee. Esau het dit geëet en hy het opgestaan en geloop. So het Esau sy regte weggegee. Dit was nie vir hom belangrik nie.

Currently Selected:

Genesis 25: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy