YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 1

1
Esegiël sien die lig wat om die Koning, die Here, is
1Ek was tussen die Judeërs by die Kebar-kanaal in die land Babel. Die hemel het oopgegaan, en God het vir my dinge gewys. Dit was in die 30ste jaar, op die vyfde dag van die vierde maand. 2 Dit was in die vyfde jaar nadat die Babiloniërs vir koning Jojagin gevang het en hom weggevat het na die land Babel. Op die vyfde dag van die maand 3het ek, die priester Esegiël, seun van Busi, duidelik gehoor die Here praat met my. Dit was in Galdeër-land, by die Kebar-kanaal. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my.
4Ek het gekyk en ek het gesien daar kom 'n stormwind uit die noorde. Daar was 'n groot wolk, en rondom die wolk het vuur gebrand en die vuur het helder geskyn. Daar was iets in die vuur wat geblink het en wat soos metaal geskyn het. 5Vier diere het uit die blink metaal gekom, en dit is hoe hulle gelyk het: Hulle was soos mense, 6maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. 7Hulle bene was reguit en hulle voete was soos brons wat iemand blink gevryf het. Hulle voete het gelyk soos 'n bees se pote. 8Onder elkeen se vier vlerke, langs die vier kante, was hande, dit het gelyk soos 'n mens se hande. Die vier diere het almal gesigte en vlerke gehad. 9Elke dier se vlerke het geraak aan die vlerke van die dier langs hom. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Elke dier het reguit vorentoe beweeg. 10Elke dier het vier gesigte gehad. Voor was die gesig van 'n mens, regs was die gesig van 'n leeu, links was die gesig van 'n bul en agter was die gesig van 'n arend. 11Elke dier se boonste vlerke was oop en dit het geraak aan die vlerke van die twee diere links en regs langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. 12Elke dier het reguit vorentoe beweeg. Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet gaan. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. 13Die vier diere het gelyk soos kole vuur, en hulle het ook gelyk soos die fakkels wat heen en weer tussen hulle gaan. Die vuur het helder geskyn, en daar het weerlig uit die vuur gekom. 14Die diere het vinnig heen en weer gegaan soos weerlig. 15En terwyl ek so na hulle kyk, sien ek 'n wiel op die grond langs elkeen van die vier diere. 16Dit het gelyk of die wiele van chrisoliet gemaak was. Die wiele was almal dieselfde, en in elke wiel was daar nog 'n wiel, daardie wiel was dwars. 17Die wiele kon na enige kant toe beweeg, maar wanneer hulle beweeg het, dan kon hulle nie wegdraai nie. 18Die buitenste rande van die wiele was groot. Ek het geskrik vir hulle, want daar was oral oë rondom die rande van die vier wiele. 19Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele langs hulle ook beweeg, en wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan. 20Hulle het gegaan waar die Gees wou hê hulle moet wees, en die wiele het saam in die lug opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. 21Wanneer die diere beweeg, dan het die wiele ook beweeg. Wanneer die diere stilstaan, dan het die wiele ook stilgestaan. Wanneer die diere in die lug opgaan, dan het die wiele ook opgegaan, want die gees van die diere was in die wiele. 22Bokant die diere was 'n hemeldak. Die hemeldak het gelyk soos ys. Ek het bang geword toe ek dit sien. Die hemeldak was bokant hulle koppe en dit was hard en styf. 23Onder die hemeldak was die diere. Die boonste vlerke van elke dier was oop, en elke vlerk het geraak aan die vlerk van die dier langs hom. Met die ander twee vlerke het elke dier sy lyf toegemaak. 24Ek het gehoor hoe raas die vlerke van die diere. Dit was soos wanneer baie water raas, soos wanneer die Almagtige praat, soos wanneer baie mense bymekaar is, soos wanneer soldate raas. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle die vlerke laat sak.
25Iemand het gepraat bokant die hemeldak, bokant die diere se koppe. Wanneer die diere gaan staan het, dan het hulle hulle vlerke laat sak. 26Bokant die hemeldak wat bokant die diere se koppe was, was daar iets wat gelyk het soos saffierklip. Dit het gelyk soos 'n troon, en hoog bo-op die troon was daar iets wat gelyk het soos 'n mens. 27Iets het gelyk soos sy heupe, en bokant die heupe het dit vir my gelyk soos blink metaal, soos vuur, en om die vuur was 'n rand. Onderkant die heupe het dit vir my gelyk soos vuur, en om die vuur was lig. 28Die lig om die vuur was soos die reënboog op 'n reëndag. Dit was die lig wat om die Koning, die Here, is. Toe ek dit sien, het ek gaan lê met my gesig teen die grond. Ek het Iemand gehoor praat.

Currently Selected:

Esegiël 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy