YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 1

1
Jesus belowe dat die Heilige Gees sal kom
1Teofilus, ek het in my eerste boek geskryf oor alles wat Jesus gedoen het en wat Hy vir mense geleer het toe Hy op aarde was, 2tot die dag toe Jesus na die hemel gegaan het. Jesus het mense gekies om sy apostels te wees, en voordat God Hom na die hemel geneem het, het Jesus vir die apostels gesê wat hulle moet doen wanneer Hy weg is. Die Heilige Gees het vir Jesus gesê wat Hy vir hulle moet sê. 3Nadat Jesus swaargekry en gesterf het, het Hy vir die apostels gewys dat Hy weer lewe. Hy het baie maal vir hulle bewys dat Hy weer lewe. Hy het 40 dae lank baie maal aan hulle verskyn en vir hulle vertel van God wat Koning is oor almal. 4Jesus het by die apostels gebly en Hy het vir hulle gesê hulle mag nie weggaan van Jerusalem nie. Hulle moes daar wag totdat alles gebeur het wat die Vader belowe het. Jesus het gesê: “Ek het al klaar vir julle vertel van hierdie belofte. 5Die belofte is: Johannes die Doper het julle met water gedoop, maar God sal julle met die Heilige Gees doop. Julle sal nie lank moet wag nie.”
God neem Jesus na die hemel
6Toe die apostels weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, sal U nou vir Israel weer 'n sterk volk maak wat sy eie koning het?”
7Maar Jesus het vir hulle gesê: “Julle mag nie weet wanneer die Vader die dinge sal doen wat Hy graag wil doen nie. Net Hy kan besluit wanneer Hy dit sal doen. 8Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld.”
9Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het God vir Jesus opgeneem na die hemel, terwyl die apostels gestaan en kyk het. En 'n wolk het vir Jesus toegemaak sodat hulle Hom nie meer kon sien nie. 10Terwyl Jesus weggegaan het en die apostels na die hemel gekyk het, het daar skielik twee manne by hulle gestaan, die manne het wit klere aangehad. 11Die manne het gesê: “Manne van Galilea, hoekom kyk julle so na die hemel? God het vir Jesus weggeneem na die hemel, maar dieselfde Jesus sal weer kom soos julle gesien het dat Hy weggaan na die hemel.”
Die gelowiges kies iemand in Judas se plek
12Die apostels was op die Olyf-berg, naby Jerusalem, so ver soos 'n mens op die Sabbatdag mag loop. Hulle het toe teruggegaan na Jerusalem. 13Toe hulle in Jerusalem kom, het hulle na die huis se bo-kamer gegaan waar hulle gebly het. Die apostels se name was: Petrus en Johannes en Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon die patriot en Judas die seun van Jakobus. 14Die apostels het altyd saam gebid, saam met 'n paar vroue. Jesus se ma Maria en sy broers het ook saam gebid.
15Eendag was daar omtrent 120 mense bymekaar. Toe het Petrus, die leier, opgestaan en vir hulle gesê: 16“Vriende, die Heilige Gees het lank gelede vir Dawid gebruik om in die Ou Testament iets te sê oor Judas. Julle weet dat Judas vir die Joodse leiers gesê het hoe hulle vir Jesus kan vang. Daardie woorde in die Ou Testament móés waar word, en dit hét gebeur. 17Want Judas was een van ons en hy het die werk van 'n apostel gedoen. 18Judas het 'n stuk grond gekoop met die omkoopgeld wat hy van die Joodse leiers gekry het. 'n Paar dae later het hy vooroor geval, sy maag het oopgebars en sy derms het uitgekom. 19Die mense van Jerusalem weet almal daarvan. Hulle noem daardie stuk grond in hulle eie taal ‘Akeldama,’ dit beteken ‘Bloedgrond.’ 20Want in die Psalms is daar geskryf:
“ Sy woonplek moet
'n woestyn word,
daar moet niemand woon nie,
“en
“ iemand anders moet
sy werk doen.
21“Ons moet nou 'n man kies in Judas se plek. Hy moet iemand wees wat die hele tyd by ons was toe die Here Jesus sy werk gedoen het op die aarde, 22van die tyd toe Johannes gedoop het totdat Jesus na die hemel gegaan het. Hy moet saam met ons 'n getuie wees dat Jesus weer lewe nadat Hy gesterf het. Ons moet so 'n persoon kies.”
23Hulle het toe twee manne se name genoem. Dit was Josef en Mattias. Josef se ander name was Barsabbas en Justus. 24Toe het hulle gebid en gevra: “Here, U ken almal se harte. U het een van hierdie twee manne gekies 25om in Judas se plek te werk en 'n apostel te wees. U moet vir ons wys wie dit is, want Judas het sy werk gelos en hy het na sy eie plek gegaan.”
26Hulle het lootjies getrek en die lootjie het gewys dit moet Mattias wees. Toe was Mattias ook 'n apostel saam met die elf apostels.

Currently Selected:

Handelinge 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy