YouVersion Logo
Search Icon

2 Petrus 3

3
Wat sal gebeur wanneer die Here weer kom
1My vriende, dit is die tweede brief wat ek vir julle skryf. In hierdie brief en ook in die eerste brief wil ek vir julle help om reg te dink 2sodat julle kan onthou wat die gewyde profete voorheen gesê het. Julle moet ook die wette van die Here en Redder onthou, die wette wat Hy vir die apostels gegee het om vir julle te gee. 3Dit is belangrik dat julle dit moet weet: In die laaste dae van die wêreld sal daar mense kom wat baie sal spot met ander mense. Hulle sal spot en hulle sal die slegte dinge doen wat hulle graag wil doen. 4Hulle sal sê: “Die Here het belowe dat Hy weer sal kom, maar hoekom het Hy nog nie gekom nie? Want ons voorvaders het lank gelede gesterf, maar alles bly dieselfde soos dit van die begin af was toe God alles gemaak het.”
5Die mense wat spot, sal hierdie dinge sê, want hulle wil nie onthou dat die hemel lank gelede klaar daar was en dat die aarde uit die water gekom het nie. God het gesê dit moet so wees. Hy het die aarde uit die water laat kom. 6God het gesê die water moet oor die wêreld van daardie tyd vloei en dit moet die wêreld verwoes. 7Dit is ook God wat gesê het dat die hemel en die aarde wat nou daar is, nog daar moet wees en dat Hy dit sal verbrand op die oordeelsdag wanneer Hy die sondaars vir altyd sal laat sterf.
Die Here sal weer kom om sondaars te straf
8Maar my vriende, julle moenie hierdie een ding vergeet nie. Een dag is vir die Here soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar is vir Hom soos een dag. 9Party mense dink dat die Here 'n lang tyd neem om te doen wat Hy belowe het. Maar dit is nie waar nie. Nee, die Here is jammer vir julle, want Hy wil nie hê dat party mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat al die mense moet lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe.
10Maar die dag van die Here sal kom wanneer niemand sal dink dat dit sal gebeur nie. Daardie dag sal kom soos 'n dief wat kom wanneer niemand dink dat hy sal kom nie. Op daardie dag sal dit baie hard raas en dreun, en die hemel sal verdwyn. Die sterre in die lug sal smelt en verdwyn. Die Here weet wat almal op die aarde gedoen het en Hy sal hulle oordeel. 11God sal al hierdie dinge so laat verdwyn, daarom moet julle ook julle hele lewe aan God wy en daarom moet julle Hom dien. 12Julle moet wag vir die dag van God, julle moet wens dat die dag gou sal kom. Op daardie dag sal die hemel en die sterre verbrand en smelt en verdwyn. 13Maar ons wag vir die nuwe hemel en nuwe aarde wat God belowe het, daar sal mense altyd doen wat God wil hê.
14Daarom, my vriende, terwyl julle wag dat hierdie dinge sal gebeur, moet julle heeltemal reg lewe. Julle moet probeer om nie dinge te doen waaroor julle skaam sal moet wees nie, en julle moet in vrede lewe. 15Julle moet ook weet dat ons Here geduldig is omdat Hy mense wil red. Hy het vir ons liewe vriend, Paulus, wysheid gegee, en Paulus het ook hierdie dinge vir julle geskryf. 16Hy het dit ook in al sy briewe geskryf, briewe waarin hy oor hierdie dinge gepraat het. In sy briewe is daar party dinge wat 'n mens moeilik verstaan. Mense wat nog nie alles verstaan wat gelowiges moet weet nie en mense wie se geloof nog nie sterk genoeg is nie, verstaan hierdie moeilike dinge verkeerd. Hulle verstaan die ander boeke van die Bybel ook verkeerd. Omdat hulle dit doen, sal hulle verlore gaan.
Petrus prys God omdat Hy die gelowiges help
17My vriende, julle weet klaar dat hierdie dinge later sal gebeur. Daarom moet julle baie goed oppas, want daar is mense wat nie gehoorsaam is aan die wette van God nie. Julle moenie dat hulle vir julle ook laat lewe soos hulle lewe nie, want dan sal julle nie meer seker wees van die dinge wat julle glo nie. 18Nee, julle moet aanhou om meer en meer te glo in die genade van ons Here en Redder, Jesus Christus, en om Hom beter te leer ken. Daarom moet ons Hom prys, nou en vir altyd. Amen.

Currently Selected:

2 Petrus 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy