YouVersion Logo
Search Icon

TITUS 1

1
Paulus skryf aan sy geloofskind Titus en stuur ’n seëngroet
1Hierdie brief kom van Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek is gestuur om dié wat God gekies het, tot geloof te lei en om hulle die waarheid te leer wat hulle wys hoe om godvrugtig te lewe. 2Hierdie waarheid gee aan hulle die vooruitsig op die ewige lewe wat God aan hulle beloof het nog voor die wêreld geskep is – en Hy kan nie lieg nie. 3En nou, op die regte tyd, het Hy hierdie boodskap bekendgemaak, en ons verkondig dit aan almal. Dit is deur die opdrag van God ons Verlosser dat ek vertrou word om hierdie werk vir Hom te doen.
4Hierdie brief word gerig aan Titus, my ware kind in die geloof wat ons met mekaar deel. Mag die genade#1:4 Of onverdiende goedheid. en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser met jou wees.
Advies aan Titus en die gemeente op Kreta
5Ek het jou op die eiland Kreta agtergelaat om ons werk daar af te rond en om ouderlinge in elke dorp aan te stel soos ek jou beveel het.
6’n Ouderling moet gerespekteer wees vir sy goeie lewe. Hy moet getrou wees aan sy vrou#1:6 Of moet net een vrou hê, of net een keer getroud wees. Grondteks die eggenoot van net een vrou wees., en sy kinders moet gelowiges wees wat nie wild of opstandig is nie. 7As bestuurder van God se huishouding moet ’n ouderling#1:7 Grondteks opsiener. ’n onberispelike lewe lei. Hy moenie arrogant of humeurig wees nie; hy moet hom ook nie aan drank vergryp of gewelddadig of geldgierig wees nie. 8Hy moet gasvry wees en alles wat goed is, liefhê. Hy moet met wysheid lewe en regverdig wees. Hy moet ’n toegewyde en gedissiplineerde lewe lei. 9Hy moet ’n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is; dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is.
10Want daar is baie wat opstandig is teen die regte onderrig; hulle is praatjiesmakers en mislei mense. Dit is veral waar van dié uit die Jodedom#1:10 Grondteks uit die besnydenis.. 11Hulle moet tot swye gebring word. Deur hulle verkeerde leer laat hulle hele gesinne van die waarheid afwyk – en dit vir skaamtelose winsbejag. 12Een van hulle eie mense, ’n profeet uit Kreta, het van hulle gesê: “Die Kretensers is almal leuenaars; hulle is wilde diere en lui vrate.”#1:12 ’n Uitspraak van die wyse Kretensiese priester Epimenides, uit die sesde eeu vC. 13Dit is waar. Berispe hulle dus so streng moontlik om hulle weer gesond in die geloof te maak. 14Hulle moet ophou om na Joodse mites en na die opdragte van mense te luister wat hulle rug op die waarheid gedraai het.
15Enigiets is rein vir dié wie se harte rein is. Maar niks is rein vir hulle wat korrup en ongelowig is nie, want hulle gedagtes en gewetens is besoedel. 16Sulke mense gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. Hulle is verwerplik en rebels, ware deugniete wat tot niks goeds in staat is nie.

Currently Selected:

TITUS 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy