YouVersion Logo
Search Icon

RUT 3

3
Naomi stuur Rut na die dorsvloer
1Naomi het vir haar skoondogter Rut gesê: “My dogter, dis tyd dat ek vir jou ’n vaste woonplek kry sodat jy in die toekoms versorg sal wees. 2Jy was mos saam met Boas se diensmeisies. Boas is ’n naby bloedverwant van ons. Kyk, hy gaan vannag gars op die dorsvloer dors. 3Gaan bad, sit reukwater aan en trek mooi klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4Let mooi op waar hy gaan slaap. Gaan dan soontoe, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om dan te doen.”
5“Ek sal presies so maak soos Ma vir my sê,” antwoord Rut. 6Sy het dié nag na die dorsvloer toe gegaan en gemaak soos haar skoonma gesê het.
’n Vrou by sy voete
7Nadat Boas klaar geëet het, was hy baie vrolik. Hy het langs die hoop graan gaan lê om te slaap. Rut het stilletjies nadergekom, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. 8Omtrent middernag skrik Boas wakker en draai om. Groot was sy verbasing toe hy agterkom dat ’n vrou daar by sy voete lê. 9“Wie is jy?” vra hy.
“Ek is Rut, u diensmeisie,” antwoord sy. “Ontferm u tog oor my, want u is my losser.”#3:9 Grondteks Sprei u vlerke oor u dienares uit.
10“Die Here seën jou, my dogter!” sê hy. “Jou lojaliteit en getrouheid aan jou skoonma is nou nog meer as voorheen. Jy het nie agter enige jong mans, ryk of arm, aangeloop nie. 11Wees verseker: Jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, my dogter. Ek sal doen wat nodig is, want almal in die dorp weet jy is ’n eerbare vrou. 12Daar is egter één probleem. Dit is so dat ek een van die lossers is, maar daar is ’n ander man wat nader verwant aan jou is as ek. 13Bly vannag hier. Môre-oggend sal ek met hom praat. As hy gewillig is om vir jou as losser op te tree, sal hy dit doen. Maar as hy nie gewillig is nie, dan sal ek so waar as die Here leef met jou trou. Bly nou lê tot môre-oggend.”
14Rut het by Boas se voete bly lê tot die oggend toe. Voordat dit lig genoeg was dat mense mekaar kon herken, het sy opgestaan. Boas het vir haar gesê: “Niemand moet weet dat hier ’n vrou by die dorsvloer was nie.” 15Boas het ook vir haar gesê: “Bring die mantel wat jy aan het en hou dit oop.” Hy meet toe ses mate#3:15 Grondteks ses gars. Dit kan dalk ses sea wees, wat ongeveer 26 kilogram is. gars vir haar daarin af en help haar om dit op haar rug te tel. Daarna is Boas dorp toe.
Wag en kyk wat gebeur
16Toe Rut by haar skoonma aankom, vra Naomi: “Wat het gebeur, my dogter?”
Rut vertel toe vir Naomi alles wat Boas gedoen het. 17Sy voeg by: “Hy het my selfs ses mate gars gegee en gesê: ‘Jy kan nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’”
18Naomi sê toe vir haar: “My dogter, wees maar geduldig totdat ons hoor wat verder gebeur. Die man sal nie rus voordat hy die saak vandag nog opgelos het nie.”

Currently Selected:

RUT 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy