YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 45

45
Die koning en sy bruid
1Vir die koorleier: Op die wysie van “Lelies”. Van die Koragiete. ’n Gedig. ’n Lied van die liefde.
2Mooi dinge roer my hart.
My gedig dra ek voor
aan die koning.
My tong is soos die pen
van ’n vaardige skrywer.
3U is die aantreklikste
van alle mense.
Minsame woorde
vloei uit u mond.
Daarom het God
u vir altyd geseën.
4Magtige krygsman,
maak u swaard aan u sy vas!
Glansryk en koninklik is u!
5Geklee in majesteit,
trek tog uit na die oorwinning.
Ter wille van waarheid,
sagmoedigheid en reg,
laat u regterhand
skrikwekkende dade verrig!
6U skerp pyle
laat volke voor u val.
Dit deurboor die hart
van u vyand.
7God vestig u troon vir altyd.
Opregtheid is die septer
waarmee u regeer.
8U het geregtigheid lief,
en haat die kwaad.
Daarom het God, u God,
u bo u tydgenote
met vreugde-olie gesalf.
9U klere is gegeur met mirre,
aalwyn en kaneel.
Uit paleise verfraai met ivoor,
maak snaarinstrumente u bly.
10Voor u is prinsesse
met juwele versier;
regs staan die koningin,
met Ofirgoud versier.
11Luister, o dogter,
luister wat ek sê.
Vergeet van jou mense
en jou familie.
12Jou skoonheid
betower die koning;
hy is jou heer, hom moet jy eer.
13Die dogter van Tirus sal kom
met geskenke,
rykes sal kom
om jou guns te wen.
14Binne wag die bruid
in prag getooi,
geklee in ’n rok
met goud versier.
15Sy gaan na die koning
in haar pragtige kleed.
Haar vriendinne,
almal jong meisies,
begelei haar na u toe.
16Met vreugde en gejuig
word hulle begelei
wanneer hulle ingaan
in die koning se paleis.
17U seuns sal regeer in die plek
van hulle voorvaders.
U sal hulle heersers maak
oor die hele wêreld.
18Ek sal u naam bekendmaak
deur die geslagte heen.
Daarom sal volke
u vir altyd prys.

Currently Selected:

PSALMS 45: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy