YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 21

21
Jesus gaan Jerusalem triomfantlik binne
1Toe Jerusalem begin naderkom, het Jesus en sy dissipels die dorpie Betfage, geleë teen die Olyfberg, bereik. Hy het twee dissipels vooruit gestuur 2met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle, en julle sal ’n donkie daar vasgemaak sien staan met ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle hier vir My. 3As iemand protesteer, sê dan: ‘Die Here het hulle nodig. Hy sal hulle nou-nou terugstuur.’” 4Dit het gebeur om die profesie te laat vervul:
5“Sê vir die volk van Israel#21:5a Grondteks vir die dogter van Sion.:
‘Kyk, julle Koning
kom na julle toe.
Hy is saggeaard
en Hy ry op ’n donkie,
ja, op die vul
van ’n pakdier.’”#21:5b Sag 9:9.
6Die twee dissipels het toe gegaan en gemaak soos Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en haar vul gebring, hulle bo-klere op hulle gesit en Jesus het op die donkie#21:7 Grondteks op hulle. gaan sit.
8Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei. 9Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep:
“Prys God#21:9a Grondteks Hosanna. Dit was aanvanklik ’n hulproep red tog! Later ’n lofprysing. vir die Seun
van Dawid!
Geseënd is die Een wat kom
in die Here se Naam!
Prys God in die hoogste hemel!”#21:9b Ps 118:25-26.
10Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?”
11Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”
Jesus maak die tempel skoon
12Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi 13en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf:
‘My huis is bedoel
om ’n huis van gebed te wees,
maar julle het daarvan
’n rowersnes gemaak.’#21:13 Jes 56:7; Jer 7:11.
14Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak.
15Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld 16en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?”
“Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?#21:16 Ps 8:3.
17Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het.
Jesus vervloek die vyeboom
18Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword 19en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel.
20Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?”
21Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. 22Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”
Jesus se bevoegdheid word bevraagteken
23Weer terug by die tempel was Jesus besig om onderrig te gee toe die priesterhoofde en familiehoofde na Hom toe kom en vra: “Watter soort volmag het jy om mense uit die tempel te jaag? Wie het jou hierdie volmag gegee?”
24Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê watter soort volmag Ek het om hierdie dinge te doen. Maar dan moet julle eers vir My hierdie vraag beantwoord: 25‘Kom die doop wat Johannes beoefen het, van God af, of was dit maar ’n bloot menslike saak?’”
Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, gaan hy vir ons sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’
26“Maar as ons sê dit was maar net ’n bloot menslike saak, sal ons vir die volk moet oppas, want vir hulle is Johannes ’n profeet.”
27Gevolglik het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.”
Daarop was Jesus se reaksie: “Dan gaan Ek ook nie julle vraag beantwoord nie.”
Die twee seuns wat in die wingerd moes gaan werk
28“Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’ 29‘Ek is nie lus nie,’ was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk. 30Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag. Dié antwoord toe: ‘Ek maak so, Pa,’ maar hy het tog nie gaan werk nie. 31Wie van die twee was die gehoorsame een?”
Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.”
Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan. 32Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie. Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar. En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”
Die gelykenis van die slegte druiweboere
33“Luister na nog ’n gelykenis. Die eienaar van ’n landgoed het ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het ook ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy dit aan boere ver-huur en na die buiteland vertrek. 34Teen die tyd van die druiwe-oes stuur hy toe van sy slawe om sy deel van die oes te gaan haal. 35Die boere het sy slawe egter gegryp; hulle het die een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n derde een met klippe doodgegooi. 36Vervolgens het die eienaar nog ’n groter groep slawe gestuur en die boere het dieselfde met hulle gedoen.
37“Einde ten laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink: ‘Hulle sal my seun tog sekerlik ontsien.’ 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood en dan vat ons sy erfenis!’ 39Toe gryp hulle hom, smyt hom uit die wingerd en vermoor hom.
40“Wat dink julle,” het Jesus gevra, “sal die eienaar van die wingerd met hierdie boere doen wanneer hy terugkom?”
41Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie skurke ’n verskriklike dood laat sterf en die wingerd aan ander mense verhuur wat gereeld sy billike deel van die oes aan hom sal gee.”
42Jesus sê toe vir hulle: “Julle het tog seker al in die Skrif die volgende gelees:
‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoekklip van die gebou geword.
Dit is die Here wat dit gedoen het
en dit is vir ons wonderlik!’#21:42 Ps 118:22-23.
43“Daarom verseker Ek julle: God se koninkryk sal van julle af weggeneem word en aan ’n volk gegee word wie se lewe by koninkryksmense pas#21:43 Grondteks wat die vrugte daarvan sal voortbring.. 44Elkeen wat teen hierdie klip val, sal verpletter word en die een op wie hý val, sal vergruis word.”
45Toe die priesterhoofde en die skrifkenners hierdie gelykenisse hoor, het hulle besef dat Jesus op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom arresteer, maar hulle was bang om dit te doen omdat die skare geglo het dat Hy ’n profeet was.

Currently Selected:

MATTEUS 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy