YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 5

5
Jesus roep sy eerste dissipels
1Eendag was Jesus op die strand van die See van Galilea besig om te preek, en groot menigtes het na Hom toe gebeur om na die woord van God te luister. 2Hy het twee leë skuite aan die waterkant gesien waar vissermanne dit gelos het om hulle nette te was. 3Jesus het in een van die skuite geklim en die eienaar, Simon, gevra om dit ’n entjie in die water te stoot. Hy het in die boot gaan sit en die skares van daar af geleer.
4Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Vaar nou dieper in en gooi julle nette uit om te vang.”
5“Meneer,” het Simon geantwoord, “ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.” 6En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het! 7Hulle het hul maats in die ander skuit geroep om te kom help en gou was albei skuite so vol vis dat dit amper gesink het.
8Toe Simon Petrus besef wat gebeur het, val hy op sy knieë voor Jesus en sê: “Here, gaan asseblief weg van my af – ek is ’n te groot sondaar.” 9Want hy was verbyster deur die groot visvangs, net soos die ander by hom. 10Sy kollegas, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was net so verbaas.
Jesus het vir Simon geantwoord: “Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!”
11En toe hulle aan wal kom, het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg.
Jesus genees ’n man met ’n ernstige velsiekte
12In een van die dorpe het Jesus ’n man met ’n gevorderde velsiekte raakgeloop. Toe die man Jesus sien, het hy diep voor Hom neergebuig en gesmeek om genees te word. “Here,” het hy gesê, “as U wil, kan U my gesond maak.”
13Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn. 14Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.” 15Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle siektes genees te word.
16Maar Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid.
Jesus genees ’n verlamde man
17Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk. 18’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom, 19maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus. 20Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.”
21“Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?”
22Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? 23Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’#5:23 Die bedoeling is waarskynlik dat sondevergewing op die oog af makliker is omdat dit nie waargeneem kan word nie, maar genesing wel.? 24Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”
25En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys. 26Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!”
Jesus roep Levi die tollenaar tot dissipel
27Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê.
28Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg.
29Kort daarna het Levi ’n feesmaal in sy huis aangebied met Jesus as die eregas. Baie van Levi se medetollenaars en ander gaste was daar. 30Maar die Fariseërs en skrifkenners wat aan die Fariseërparty behoort, het by Jesus se dissipels gaan kla: “Waarom eet en drink julle saam met sulke immorele karakters#5:30 Grondteks met tollenaars en sondaars.?”
31Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel. 32Ek het gekom om sondaars te roep om tot inkeer te kom, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”
Die nuwe en die oue
33Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Johannes die Doper se dissipels vas en bid gereeld en so ook die dissipels van die Fariseërs. Hoekom vier jou dissipels altyd fees?”
34Jesus het gevra: “Vas huweliksgaste dan terwyl hulle saam met die bruidegom feesvier? 35Eendag sal die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”
36Toe het Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om sy punt te illustreer: “Niemand skeur tog ’n stuk materiaal van ’n nuwe kledingstuk af en lap ’n ou kledingstuk daarmee nie. Want dan sal die nuwe kledingstuk geskeur word en boonop sal die nuwe lap nie eens by die ou kledingstuk pas nie. 37En niemand gooi nuwe wyn in ou wynsakke nie. Die nuwe wyn sal die ou wynsakke laat bars en die wyn uitstort en die wynsakke vernietig. 38Nuwe wyn moet in nuwe wynsakke gegooi word. 39Maar niemand wat die ou wyn drink, wil blykbaar die nuwe wyn hê nie. ‘Die oue is beter,’ sê hulle.”

Currently Selected:

LUKAS 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy