YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 46

46
Boodskappe vir die nasies
1Die Here het vir die profeet Jeremia boodskappe oor die nasies gegee.
Boodskappe oor Egipte
2Hy het die boodskap oor Egipte ontvang in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit gaan oor die Egiptiese koning, farao Neko, en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis langs die Eufraatrivier verslaan:
3“Kry julle wapens gereed,
ruk op vir die geveg!
4Saal die perde op,
bestyg hulle, ruiters!
Neem julle posisies in,
sit julle helms op.
Maak julle spiese blink,
trek julle wapenrusting aan!
5Maar wat sien Ek?
Die Egiptiese leër is verskrik,
hulle het teruggedraai.
Hulle beste vegters is verslaan
en kies die hasepad
sonder om eers terug te kyk.
Hulle word van alle kante
bedreig,
sê die Here.
6Selfs nie die vinnigstes
kan wegkom nie.
Die sterkste soldate
kan nie ontsnap nie.
Aan die noordekant,
by die walle
van die Eufraatrivier,
struikel hulle en val.
7“Wie is dit wat sy walle
oorstroom
soos die water van die Nyl,
soos riviere bruisende water?
8Dit is die Egiptiese leër.
Hy spog dat hy sy walle oorstroom,
soos die water van die Nyl,
soos riviere bruisende waters.
Hulle sê:
‘Ons sal optrek
en die aarde bedek.
Ons sal stede en hulle inwoners
saam verwoes.’
9Laat die perde optrek
en die strydwaens opruk!
Laat die vegters uittrek,
die mense uit Etiopië#46:9a Grondteks Kus. en Libië#46:9b Grondteks Put.,
vaardig met skilde,
en die mense uit Lidia#46:9c Grondteks Lud.,
bedrewe met die boog.
10Hierdie is
die Dag van
die oppermagtige Here,
die Almagtige.
Dit is ’n dag van vergelding,
om jou te wreek
op jou vyande.
Die swaard sal doodmaak
totdat dit genoeg het,
versadig is van julle bloed!
Dit is ’n offer vir
die oppermagtige Here,
die Almagtige,
in die noordelike gebied,
langs die Eufraatrivier.
11“Egipte, jy is soos ’n jong meisie.
Gaan na Gilead en kry salf!
Dit is eintlik tevergeefs,
want daar is geen medisyne
wat jou kan genees nie.
12Die nasies het gehoor
van jou skande.
Jou uitroepe vul die aarde.
Soldate val oor mekaar,
hulle slaan saam neer.”
13Die Here het weer vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee. Dit gaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val.
14“Kondig dit aan in Egipte!
Maak dit bekend in Migdol.
Maak dit bekend in Memfis#46:14 Grondteks Nof.
en Tagpanges!
Sê: Maak julle reg,
wees voorbereid,
want die geweld van oorlog
sal almal om julle tref.
15Waarom het jou soldate gevlug?
Hulle kan nie staan
voor die Here wat hulle
weggedryf het nie.
16Hulle struikel
en val oor mekaar en sê:
‘Kom ons gaan terug
na ons eie mense en
na waar ons gebore is.
Laat ons wegkom
van die swaard
van die vyand!’
17Hulle sal sê:
‘Farao, die koning van Egipte,
het ’n groot mond
wat ’n kans deur sy vingers
laat glip het!’”
18Die Koning wie se Naam
die Here, die Almagtige, is, sê:
“So waar as wat Ek lewe,
iemand sal kom
wat soos Tabor tussen die berge
of soos Karmel bo die see is.”
19Pak julle goed vir ballingskap,
inwoners van Egipte!
Memfis sal vernietig lê,
’n bouval sonder inwoners.
20“Egipte is soos ’n mooi jong
verskalf.
Maar ’n steekvlieg is op pad
uit die noorde.
21Egipte se huursoldate
is soos vetgemaakte kalwers.
Hulle bied nie weerstand
teen die vyand nie,
hulle draai om en hardloop weg.
Die dag van straf
het aangebreek.
22Egipte seil saggies weg
soos ’n slang wegseil,
want die vyand marsjeer
met mag en mening.
Hulle kom soos houtkappers
met byle teen haar.”
23Die Here sê:
“Hulle sal haar bos afkap,
al lyk dit ondeurdringbaar.
Want hulle is meer as sprinkane,
ontelbaar!
24Hulle sal die mense van Egipte
verneder
en oorlewer in die mag
van die mense uit die noorde.”
25Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes, straf, asook vir die farao en Egipte en al die ander gode. Ek gaan ook haar konings straf, ja, vir die farao en almal wat op hom vertrou. 26Ek sal hulle oorgee in die mag van dié wat hulle baie graag wil doodmaak, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy offisiere. As dit verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom woon.” Die Here sê dit sal gebeur!
27“Maar my dienskneg Jakob,
moenie bang wees nie,
moenie mismoedig wees nie,
Israel.
Al is julle ver weg,
sal Ek julle red.
Ek sal jou nageslag
uit ballingskap
terugbring.
Israel sal terugkom
en rus en vrede hê.
Niemand sal hulle bangmaak nie.”
28Die Here sê:
“Moenie bang wees nie,
my dienskneg Israel.
Ek sal altyd by julle wees.
Ek sal die nasies waarheen
Ek julle verdryf het,
heeltemal vernietig.
Maar vir julle
sal Ek nie vernietig nie!
Ek sal julle egter nie ongestraf laat nie.
Ek moet julle dissiplineer,
maar op regverdige wyse.”

Currently Selected:

JEREMIA 46: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy