YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 66

66
Oordeel en hoop
1So sê die Here:
“Die hemel is my troon
en die aarde my voetstoeltjie.
Kan julle ooit ’n tempel bou
wat so goed is?
Kan julle ’n huis bou
waarin Ek sal woon?
2My hand het alle dinge gemaak
en so het alles ontstaan.
Ek, die Here, het gepraat!
“Dit is die een wat Ek raaksien,
die een wat nederig is
en berou het oor sy sonde,
wat ontsag het vir my woord.
3Party mense offer bulle
en ander offer mense.
Sommige offer lammers as offer
en ander ’n hond se nek.
Party offer graan,
en ook offers van varkbloed.
Party offer wierook.
Dis alles afskuwelike offers.
Hierdie mense het besluit
om hulle eie pad te loop.
Hulle skep behae
in hulle afskuwelikhede.
4Daarom sal Ek hulle moet straf
en oor hulle bring
wat hulle die meeste vrees.
Toe Ek geroep het,
het niemand geantwoord nie;
toe Ek gepraat het,
het niemand geluister nie.
Hulle het gedoen
wat in my oë verkeerd is.
Hulle het gekies om te doen
juis dit wat Ek haat.”
5Luister na die boodskap
van die Here,
en bewe oor wat Hy sê:
“Julle naaste familie
haat julle
en verstoot julle omdat
julle lojaal aan My is.
‘Laat die Here Homself bewys,’
sê hulle,
‘sodat ons julle vreugde
kan sien!’
Maar hulle sal in die skande kom.
6Luister! Die stad is in oproer.
Hoor die geraas in die tempel!
So klink dit wanneer die Here
sy vyande terugbetaal
oor alles wat hulle gedoen het.
7“Voordat sy geboortepyne kry,
het Jerusalem al klaar
’n seun in die wêreld gebring.
8Wie het al ooit so iets gehoor?
Wie het al ooit
so iets gesien?
Word ’n land in een oomblik gebore?
Word ’n nasie in een dag
voortgebring?
Maar Jerusalem#66:8 Grondteks Sion. het skaars
geboortepyne gekry
of haar babas is reeds gebore.
9Bring Ek hierdie nasie
tot by die punt van geboorte
en laat nie ’n geboorte
plaasvind nie?
Dit is wat die Here vra.
Sou Ek ’n geboorte laat geskied
en niks word gebore nie?
sê jou God.
10“Juig saam met Jerusalem!
Wees bly saam met haar,
julle wat haar liefhet.
Wees bly saam met haar,
julle wat oor haar gehuil het.
11By haar sal julle gevoed word
totdat julle genoeg het.
Julle sal haar oorvloed geniet.”
12Want dis wat die Here sê:
“Ek sal haar vrede maak
soos ’n rivier.
Die skatte van die nasies
sal na haar toe stroom.
Haar kinders
sal aan haar drink.
Sy sal hulle in haar arms dra
en hulle op haar skoot vertroetel.
13Soos ’n moeder haar kind troos,
so troos Ek julle.
Julle sal veilig wees in Jerusalem.”
14Wanneer julle hierdie dinge
sien gebeur,
sal julle bly wees.
Julle sal uitspruit
soos groen gras.
Die mag van die Here
sal geopenbaar word
aan dié wat Hom dien,
maar sy vyande sal Hy straf.
15Kyk, die Here kom met vuur.
Sy oorlogwaens
is soos ’n stormwind.
Hy kom sy vyande straf
met die wraak van sy woede.
Hy voltrek sy straf
met vuur.
16Met vuur en sy swaard
kom die Here om al wat leef
te straf.
Baie sal sterf weens die Here
se woede.
17“Hulle wat hulleself wy
en reinig
om die tuin binne te gaan,
wat varkvleis en muise
en afskuwelike dinge eet,
sal saam
tot ’n verskriklike einde kom,”
sê die Here.
18“Ek weet wat hulle doen
en wat hulle dink.
Daarom maak Ek
al die nasies en volke bymekaar.
Hulle sal kom
en my heerlikheid sien.
19“Ek sal ’n teken
onder hulle oprig
en Ek stuur almal
wat die oordeel oorleef het
uit na ander nasies toe,
na Tarsis, na Pul, na Lud
met sy bedrewe boogskutters,
na Tubal, na Griekeland,
en al die ver eilande,
na almal wat nog nie
van My en my heerlikheid
gehoor het nie.
Hulle sal vir al die nasies
van my heerlikheid vertel.
20Hulle sal die oorblyfsel van jou volk
terugbring uit al die nasies
na my heilige berg
as ’n offer vir die Here.
Hulle sal ry op perde en waens,
op drastoele, muile
en kamele.
Net soos Israel voorheen gedoen het,
sal hulle graanoffers in rein skottels
na die huis van die Here bring,”
sê die Here.
21“Ek sal sommige van hulle
wat terugkom,
aanstel as priesters en Leviete.
Ek, die Here, sê so.
22“Soos die nuwe hemel
en die nuwe aarde
wat Ek gaan maak,
sal bly bestaan,”
sê die Here,
“so sal julle as my volk
bly bestaan.
23Van week tot week
en van maand tot maand
sal alle mense kom
en voor My neerbuig,”
sê die Here.
24“As hulle uitgaan uit die stad,
sal hulle die lyke sien
van dié wat teen My
opstandig was.
Want die wurms
wat aan hulle vreet,
sal nooit vrek nie.
En die vuur
waarin hulle brand,
sal nooit ophou brand nie.
Alle mense
wat daar verbygaan,
sal met afsku
vervul wees.”

Currently Selected:

JESAJA 66: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy