YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 60

60
Toekomstige glorie van Jerusalem
1“Staan op, Jerusalem,
laat jou lig skyn
sodat alle volke dit kan sien!
Want die Here se heerlikheid
skyn op jou.
2Duisternis kom oor die aarde,
donkerte oor al die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy teenwoordigheid.
3Nasies sal stroom na jou lig,
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou.
Hulle kom almal bymekaar.
Jou seuns kom uit ver lande.
Jou dogtertjies
word op die heup gedra.
5Jy sal dit sien, jou oë sal blink,
en jou hart sal bons van vreugde,
want handelaars van oor
die hele wêreld
bring hulle skatte na jou,
die rykdom van baie lande.
6Troppe kamele kom na jou toe,
jong kamele
uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
om daarmee die lof
van die Here te besing.
7Die kleinvee van Kedar
word vir jou gegee.
Die ramme van Nebajot
is tot jou beskikking.
Hulle sal aanvaarbaar wees
vir offers op my altare.
Ek sal my heerlike tempel
nog verder verheerlik.
8“Wat sien Ek aangesweef kom
soos wolke,
soos duiwe na hulle neste toe?
9Die eilande sien op na My,
die skepe van Tarsis
is heel voor
om jou kinders van ver af te bring,
saam met hulle skatte,
tot eer van die Here jou God,
die Heilige van Israel,
want Hy het jou laat skitter
met sy glans.
10“Vreemdes sal jou stede
herbou,
hulle konings sal
tot jou diens wees.
Ek het jou in woede gestraf,
maar in my genade
sal Ek My oor jou ontferm.
11Jou stadshekke sal
heeldag en heelnag oop wees,
sodat die rykdom van die nasies
na jou gebring kan word
en die konings in ’n triomftog
die stad binnegelei sal word.
12Die nasie of koninkryk
wat jou nie dien nie,
sal verdwyn en vernietig word.
13“Die pragtige bome
van die Libanon
sal na julle toe kom,
die woude vol sipresse,
platane en denne.
Dit sal gebruik word
om my heiligdom te versier.
My tempel sal heerlik wees.
14Die kinders van jou
verdrukkers
sal voor jou kom buig.
Almal wat op jou neergesien het,
sal jou voete kom soen.
Hulle sal jou noem:
die Stad van die Here,
Sion#60:14 Sion verwys na die tempelberg in Jerusalem. van die Heilige van Israel.
15“Waar jy voorheen verstoot is,
gehaat en deur almal vermy,
gee Ek jou nou blywende roem,
en maak Ek jou ’n vreugde,
geslag na geslag.
16Jy sal die melk
van nasies drink,
aan ’n koninklike bors drink.
Dan sal jy weet
dat Ek, die Here,
jou Redder en Verlosser,
die Magtige van Jakob is.
17Ek ruil jou brons vir goud,
jou yster vir silwer,
jou hout vir brons
en jou klippe vir yster.
Vrede en regverdigheid
sal jou heersers wees!
18Geweld sal verdwyn
uit jou land,
ja, ondergang en verwoesting
van binne jou grense.
Redding sal om jou wees
soos stadsmure,
en almal wat die stad binnekom,
sal My loof.
19Bedags sal dit nie die son wees
wat vir jou lig verskaf nie,
en snags sal jy nie die maan
nodig hê vir lig nie,
want die Here
sal vir altyd jou lig wees,
en jy sal roem in jou God.
20Jou son sal nooit weer
ondergaan,
of die maan afneem nie.
Want die Here sal jou lig wees
vir altyd.
Jou dae van hartseer
het op ’n einde gekom.
21Al jou inwoners
sal regverdig wees.
En hulle sal die land
vir altyd besit,
want Ek sal hulle
met my eie hande plant,
om my roem te vermeerder.
22Die kleinste onder hulle
sal duisende word,
die swakste
’n sterk nasie.
Ek is die Here.
Wanneer die tyd daarvoor kom,
sal Ek dit doen.”

Currently Selected:

JESAJA 60: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy