YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 54

54
Toekomstige glorie van Jerusalem
1“Sing, kinderlose vrou
wat nooit ’n kind
voortgebring het nie.
Sing hard en vrolik,
juig van vreugde,
al het jy nooit ’n kind gehad nie!
Want die vrou
wat nie kon kinders hê nie,
sal nou meer kinders hê
as getroude vroue,”
sê die Here.
2“Maak jou woning groter.
Span jou tent wyer,
en moenie huiwer nie.
Maak die tentlyne langer
en slaan die penne dieper in.
3Want jy sal na links en regs
uitbrei.
Jou nageslag sal ander nasies
oorweldig
en in hulle stede gaan bly.
4“Moenie bang wees nie.
Jy sal nie weer
verneder word nie.
Moenie bang wees vir die skande
van voorheen nie.
Jy sal die skande van jou jeug
vergeet
en ook die vernedering
toe jy ’n weduwee was.
5“Jou Skepper
sal ook jou man wees.
Die Here, die Almagtige,
is sy Naam.
Die Heilige van Israel
is jou Redder.
Hy is die God
van die hele wêreld!
6Dit is die Here
wat jou teruggeroep het
van jou smart.
Jy was soos ’n jong vrou
wat deur haar man verstoot is,”
sê jou God.
7“Vir ’n kort rukkie
het Ek jou verstoot,
maar omdat Ek jou baie liefhet,
vat Ek jou terug.
8In ’n oomblik van woede
het Ek vir ’n kort rukkie
van jou weggekyk.
Maar nou sal Ek jou
vir altyd liefhê,”
sê die Here,
jou Redder.
9“Dit is soos in die tyd van Noag
toe Ek belowe het
dat die waters nooit weer
die aarde sal oorstroom nie.
So belowe Ek nou
dat Ek nooit weer
kwaad sal wees
en jou straf nie.
10Want die berge kan padgee
en die heuwels verdwyn.
Maar my liefde vir jou
sal nooit verander nie,
en my verbond van vrede
sal nooit gebreek word nie,”
sê die Here wat Hom oor jou
ontferm.
11“Stad wat verdruk is,
gestriem deur storms,
vir wie daar geen troos was nie,
jou mure bou Ek
met edelgesteentes,
en jou fondamente van saffier.
12Ek bou jou torings van robyne,
jou poorte van juwele,
en jou stadsmuur van kosbare
edelstene.
13Al jou inwoners
sal by die Here leer
en hulle sal altyd vrede geniet.
14Jou heersers sal
regverdig optree.
Tiranne sal ver wegbly van jou,
en jy het niks om te vrees nie.
Terreur sal nie naby jou kom nie.
15As iemand jou aanval,
sal dit nie Ek wees
wat dit bewerk het nie.
Wie jou aanval,
sal die onderspit delf.
16“Ek het ’n ambagsman gemaak
wat die vuur aanblaas
en wapens van vernietiging
daarin maak.
Net so het Ek die verwoester geskep
om verwoesting te saai.
17Maar geen wapen
wat teen jou gemik word,
sal iets teen jou kan uitrig nie.
Elke aanklag teen jou
sal jy weerlê.
Dit is die erflating
van die dienaars van die Here.
Aan hulle laat Ek reg geskied,”
verklaar die Here.

Currently Selected:

JESAJA 54: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy