YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 42

42
Die dienaar vir wie die Here uitgekies het
1“Kyk, hier is die dienaar
wat Ek ondersteun.
Hy is die een wat Ek gekies het
en wat my guns geniet.
Ek het my Gees op hom laat kom.
Hy sal regspreek
oor die nasies.
2Hy sal nie roep
of hard skree nie.
Hy sal nie sy stem
in die openbaar laat hoor nie.
3Hy sal ’n geknakte riet
nie verder afbreek nie.
Mense wat dof brand
soos ’n lamppit
sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal in opregtheid
reg laat geskied.
4Hy sal nie moeg
of moedeloos word nie,
totdat reg en geregtigheid
op aarde gevestig is.
Selfs die kuslande en eilande
wag vir sy opdragte.”
5So sê God, die Here,
wat die hemel gemaak
en dit oopgespan het.
Hy het die aarde gemaak
en alles wat daarop is.
Hy gee asem vir almal op aarde,
lewe vir alles
wat daarop beweeg.
6“Ek, die Here, het jou geroep
om my reg te demonstreer.
Ek sal jou hand vat
en jou beskerm.
Ek sluit deur jou ’n verbond
met die volk.
En jy sal ’n lig vir die nasies wees
om hulle na My terug te lei.
7Jy sal die oë van blinde mense
oopmaak,
gevangenes
uit die tronk bevry,
mense wat in die gevangenis sit,
vrylaat.
8“Ek is die Here,
dit is my Naam.
My eer deel Ek
met niemand anders nie.
Die lof wat My toekom,
deel Ek nie met afgode nie.
9Alles wat Ek gesê het,
het net so gebeur.
En nou vertel Ek jou
van nuwe dinge wat gaan gebeur.
Voordat dit gebeur,
vertel Ek dit reeds aan julle.”
’n Loflied vir die Here
10Sing vir die Here
’n nuwe lied.
Besing sy lof
tot aan die uithoeke
van die aarde!
Sing, almal wat vaar op die see,
en alles in die see,
al die eilande
en dié wat daarop woon.
11Laat die woestyn en sy dorpe
saamsing.
Laat die dorpies van Kedar
bly wees.
Laat die mense van Sela
sing van vreugde.
Laat hulle hard roep
vanaf die bergpieke.
12Laat hulle
eer aan die Here bring.
Laat die eilande
sy lof verkondig.
13Die Here sal opruk
soos ’n baie sterk man.
Hy sal kom soos ’n soldaat
wat woedend is.
Hy gaan sy oorlogskreet aanhef.
Hy sal triomfeer oor sy vyande.
14“Ek het baie lank stilgebly.
Ek was stil
en Ek het My ingehou.
Maar nou skree Ek in my woede
soos ’n vrou wat geboorte gee.
Ek sal hyg en snak na asem.
15Ek maak die berge en heuwels
gelyk met die grond
en laat al die plante
daarop uitdroog.
Ek maak van riviere eilande
en laat die poele opdroog.
16Ek lei blindes op ’n nuwe pad,
op paaie
wat vir hulle onbekend is.
Ek maak die donkerte voor hulle
helder lig,
en die ongelyk plekke
maak Ek gelyk.
Ek gaan dit alles doen,
en hulle nie alleen los nie!
17Maar hulle
wat op afgode vertrou,
wat vir afgode sê:
‘Julle is ons gode,’
sal neerval
en skaam kry.”
Israel weier om te hoor en te sien
18“Luister, julle wat doof is!
Kyk, julle blindes, en sien!
19Wie is so blind
soos die Here se dienaar?
Wie is so doof
soos die boodskappers
wat Ek stuur?
Wie is so blind
soos my uitverkore volk,
blind soos die dienaar
van die Here?
20Julle sien en julle weet wat reg is,
maar weier om daarop
te reageer.
Julle ore is oop,
maar julle hoor niks.”
21Die Here se vreugde lê daarin
om sy gebooie groot
en heerlik te maak.
22Maar kyk hoe lyk sy volk!
Hulle is geplunder en gebuit.
Hulle is in vanggate gehou,
of in gevangenisse opgesluit.
Hulle het ander se buit geword
met niemand om te red nie.
Hulle is geplunder
sonder iemand wat sê:
“Gee hulle terug!”
23Is daar niemand onder julle
wat aandag gee
aan wat gebeur het nie,
sodat julle kan luister
en verwoesting vermy?
24Wie het Jakob oorgelewer
om buit te word?
Wie het Israel oorgegee
aan die verwoesters?
Is dit nie die Here
teen wie ons gesondig het nie?
Hulle wou nie
doen soos Hy vereis het nie.
Hulle wou nie
na sy woord luister nie.
25Daarom het Hy
sy gloeiende woede
teen hulle laat ontvlam
deur die geweld van oorlog.
Hulle het in vlamme opgegaan,
maar geweier om te verstaan.
Dit het hulle verteer,
maar hulle het nog
nie hulle les geleer nie!

Currently Selected:

JESAJA 42: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy