YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 26

26
’n Loflied vir die Here
1Daardie dag
sal almal in die land van Juda
hierdie lied sing:
“Ons stad is nou sterk!
Ons is omring deur die mure
van God se redding.
2Maak oop die poorte
vir almal wat regverdig is.
Laat die getroues binnekom.
3U bewaar elkeen
wat op U vertrou in vrede,
die mense wie se gedagtes
op U gerig is.
4Vertrou deurgaans op die Here,
want die Here God
is vir altyd ’n veilige toevlug.
5Hy verneder die trotses,
en die arrogante stad
gooi Hy in die stof neer.
Hy gooi die mure om!
6Die arm en verdrukte mense
vertrap dit
onder hulle voete.
7“Die pad van die regverdige
is reguit.
Regverdige Een, U maak die pad
van die regverdige gelyk.
8 Here, ons doen graag
wat U van ons vra.
Ons enigste begeerte
is om u Naam te eer.
9Heelnag lank soek ek na U,
in die môre smag ek na U.
Eers wanneer U kom
om die aarde te oordeel,
sal mense leer om te doen
wat reg is.
10Uit die goedheid wat U
aan die bose mense bewys,
leer hulle nie wat reg is nie.
Selfs waar daar reg geskied,
doen hulle nog die verkeerde
en steur hulle nie aan die mag
van die Here nie.
11O Here, hulle luister nie
wanneer U hulle dreig nie.
Wys hulle dat U gretig is
om u volk te beskerm.
Miskien kry hulle dan skaam.
Laat u vuur u vyande verteer.
12Here, U sal ons vrede gee.
Alles wat ons bereik het,
het U vir ons gedoen.
13 Here ons God,
ander het oor ons regeer,
maar ons aanbid U alleen.
14Dié wat ons gedien het,
is nou dood en weg.
Hulle sal nooit weer
terugkom nie!
U het hulle gestraf
en hulle vernietig,
en hulle is lankal vergete.
15Ons prys U, Here!
U het ons volk groot gemaak.
U het ons landsgrense uitgebrei!
So het U u mag getoon.
16Here,
in ons nood het ons U gesoek.
Ons het na U geroep
toe U ons gestraf het.
17Ons is soos ’n swanger vrou
wat inmekaarkrimp van pyn.
Só, Here,
was ons in u teenwoordigheid.
18Ons was swanger,
en het inmekaargekrimp
van pyn,
maar ons het geboorte gegee
aan wind.
Ons kon nie die wêreld red nie.
Daar is nie inwoners
vir die wêreld gebore nie.
19“Tog het ons dié versekering:#26:19 Tog het ons dié versekering kom nie in die grondteks voor nie.
Dié wat aan God behoort,
sal lewe.
Hulle liggame sal weer opstaan!
Dié wat in die aarde slaap,
staan op en sing van vreugde!
Soos die dou lewe gee,
so gee U krag tot lewe.
Die aarde sal hulle
wat gesterf het
weer lewend teruggee.”
Herstel vir Israel
20Gaan huis toe, my volk,
en sluit die deure agter julle.
Kruip weg
vir ’n kort rukkie
tot sy toorn bedaar het.
21Kyk, die Here kom
van die hemel af
om die mense
van die aarde
te straf oor hulle sondes.
Die aarde sal nie meer
dié wegsteek
wat vermoor is nie.
Hulle sal uitgebring word
sodat almal hulle kan sien.

Currently Selected:

JESAJA 26: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy