HABAKUK 1:1-11

HABAKUK 1:1-11 NLV

Die boodskap wat die profeet Habakuk in ’n visioen ontvang het. Here, hoe lank moet ek nog roep om hulp? U luister nie na my nie. “Geweld!” roep ek baie hard, maar U red my nie. Waarom laat U my die onreg en die ellende om my sien? Waar ek ook al kyk, sien ek vernietiging en geweld. Ek is omring deur mense wat daarvan hou om te stry en te baklei. Die wet het sy krag verloor en is onbruikbaar. Reg seëvier ook nie in die howe nie. Daar is baie meer goddelose mense as dié wat reg doen. Daarom is die regsuitsprake verdraaid. Die Here het geantwoord: “Kyk na die nasies en staan verbaas! Let op en staan verstom! Ek doen iets in jou leeftyd, iets wat jy nie sou glo as iemand anders jou dit vertel nie. Ek laat toe dat die Galdeërs die nuwe wêreldmag word. Hulle is wreed en gewelddadig, ’n nasie wat die wêreld deurkruis om ander se woonplekke af te neem. Hulle is bekend vir hulle verskriklike wreedheid. Hulle doen net wat hulle wil en niemand kan hulle keer nie. Hulle perde is vinniger as luiperds. Hulle is vurige mense, erger as wolwe teen skemeraand. Soos arende duik hulle neer op hulle prooi. “Hulle beur vorentoe, gereed vir geweld. Hulle leërs kom aangestorm soos ’n wind uit die woestyn. Hulle versamel krygsgevangenes soos sand. Hulle maak ’n bespotting van konings en lag regeerders uit. Al die vestings minag hulle. Teen die mure stapel hulle grondwalle op en neem die vestings in. Hulle swiep verby soos die wind, en verdwyn. Maar hulle is skuldig, hulle verafgod hulle eie krag.”
NLV: Nuwe Lewende Vertaling
Share