YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 33

33
Die verrassende ontmoeting tussen Jakob en Esau
1Toe Jakob opkyk, sien hy vir Esau en sy 400 man aankom. Jakob verdeel toe die kinders tussen Lea, Ragel en die twee slavinvroue. 2Hy plaas sy twee slavinvroue met hulle kinders heel voor, Lea en haar kinders agter hulle en heel laaste Ragel en Josef. 3Jakob self het heel voor gaan staan en sewe keer laag voor Esau gebuig. 4Maar Esau het aangehardloop gekom, hom om die nek geval en hom gesoen. Albei was in trane.
5Esau kyk toe na die vroue en kinders en vra: “Wie is hierdie mense saam met jou?”
“Dit is die kinders wat God in sy goedheid aan u dienaar gegee het,” antwoord Jakob. 6Eers kom die slavinvroue en hulle kinders nader en buig voor hom. 7Toe kom Lea met haar kinders en buig ook voor hom. Laaste kom Ragel en Josef en doen dieselfde.
8“En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” vra Esau.
“Dit is geskenke om u goeie guns te wen, my heer,” antwoord Jakob.
9“My broer, ek besit self baie,” sê Esau. “Laat wat aan jou behoort, joune bly.”
10“Nee, asseblief! Neem dit terwyl u my so goedgesind is,” sê Jakob. “Dis asof ek die glimlag van God sien. 11Neem asseblief die geskenke, want God was baie goed vir my. Ek het meer as genoeg vir myself.”
Jakob het só daarop aangedring dat hy dit moes neem, dat Esau dit uiteindelik aanvaar het.
12“Nou moet ons gaan,” sê Esau. “Ek sal julle vergesel.”
13Maar Jakob antwoord: “My broer, jy kan sien party van die kindertjies is baie jonk en die troppe vee het ook jong lammers en kalwers. As ons te vinnig trek, kan dit hulle dood beteken. 14Gaan gerus voor ons uit. Ons sal op ons gemak trek en u by Seïr weer sien.”
15“Goed,” sê Esau, “maar laat ek ’n paar van my manskappe agterlaat om julle te beskerm.”
“Dis regtig nie nodig nie,” sê Jakob. “Jou goeie gesindheid is vir my genoeg.”
16Esau is daardie dag nog terug Seïr toe. 17Jakob en sy geselskap het verder getrek na Sukkot toe. Daar bou hy vir hom ’n huis en maak hy skuilings vir die troppe vee. Dis hoekom die plek Sukkot#33:17 Sukkot beteken skuiling. genoem is. 18Later het hulle by Sigem in Kanaän aangekom ná hulle reis van Paddan-Aram af. Net buite die stad het hulle kamp opgeslaan. 19Hy het die grond waarop hy uitgekamp het vir 100 geldstukke#33:19 Grondteks 100 kesita; die waarde van ’n kesita kan nie meer bepaal word nie. gekoop van die familie van Gamor, Sigem se pa. 20Jakob het daar ’n altaar gebou en dit “God is die God van Israel”#33:20 Grondteks El-Elohej-Jisrael. genoem.

Currently Selected:

GENESIS 33: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy