YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 26

26
Isak gee voor dat sy vrou sy suster is
1’n Swaar hongersnood het weer die land getref, soos in die tyd van Abraham. Daarom het Isak verskuif na Gerar waar Abimelek, die koning van die Filistyne, gewoon het.
2Daar verskyn die Here aan Isak en sê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly hier waar Ek vir jou sê. 3Bly in hierdie land as ’n uitlander. Ek sal met jou wees en jou seën. Ek sal hierdie hele land aan jou en jou nageslag gee, soos Ek aan jou pa, Abraham, beloof het. 4Ek sal jou nageslag so ontelbaar maak soos die sterre in die lug. Ek sal die hele land aan hulle gee. Jou nageslag sal die draer wees van seën vir al die nasies op die aarde. 5Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gehoorsaam was aan al my vereistes, bevele, voorskrifte en gebooie.”
6Isak het dus in Gerar gebly. 7Toe die inwoners navraag doen oor Rebekka, sê hy: “Sy is my suster.” Hy was bang hulle sal hom dalk doodmaak as hulle weet dis sy vrou, want Rebekka was baie mooi. 8Na hulle al ’n tyd lank daar gebly het, het Abimelek, die koning van die Filistyne, eendag deur die venster gesien hoe Isak vir Rebekka liefkoos.
9Abimelek het Isak laat roep en sê vir hom: “Sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”
“Dis omdat ek bang was iemand maak my dood om haar in die hande te kry,” antwoord Isak.
10“Hoe kon jy dit aan ons doen?” sê Abimelek. “Iemand kon maklik jou vrou geneem en by haar geslaap het. Dan sou jy skande oor ons gebring het!” 11Abimelek het toe in die openbaar gewaarsku: “Enigeen wat hierdie man of sy vrou kwaad aandoen, sal met die dood gestraf word.”
Twis met die bure
12Daardie jaar het Isak ’n baie groot oes gehad. Hy het honderd maal meer geoes as wat hy geplant het, want die Here het hom geseën. 13Hy het baie ryk geword en sy rykdom het aanhou vermeerder. 14Hy het groot troppe kleinvee en beeste gehad en baie slawe. Die Filistyne het daaroor jaloers geword op hom. 15Hulle het Isak se putte met grond toegegooi. Dit was putte wat sy pa, Abraham, se slawe nog in sy tyd gegrawe het.
16Abimelek sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons, want jy het sterker as ons geword!”
17Daarom het Isak na Gerarlaagte verskuif en daar gaan woon. 18Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het. 19Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry.
20Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek#26:20 Esek beteken rusie. omdat hulle daaroor rusie gemaak het. 21Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna#26:21 Sitna beteken aanklag.. 22Hy het weer verskuif en nog ’n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot#26:22 Rehobot beteken ruimte., “want,” het hy gesê, “uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees.”
23Isak het daarvandaan na Berseba toe getrek. 24Met sy aankoms daar het die Here die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.” 25Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die Here. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe.
’n Ooreenkoms met Abimelek
26Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër. 27“Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.”
28Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die Here met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit. 29Lê ’n eed af dat jy ons nie kwaad sal aandoen nie, net soos ons jou nie skade berokken het nie. Ons het jou net goed behandel en jou in vrede weggestuur. En kyk hoe seën die Here jou!”
30Isak het ’n groot fees voorberei en hulle het geëet en gedrink. 31Vroeg die volgende oggend het hulle onder eed ’n verdrag gesluit. Isak het hulle toe in vrede laat gaan. 32Daardie selfde dag kom rapporteer Isak se slawe oor ’n put wat hulle gegrawe het. “Ons het water gekry!” het hulle gesê. 33Isak noem toe die put Seba#26:33 Seba kan eed of sewe beteken.. Daarom is die naam van die stad nou nog Berseba, “put van die eed”.
34Toe hy 40 jaar oud was, het Esau met Jehudit, die dogter van Beëri, ’n Hetiet, getrou. Hy het ook met Basemat, die dogter van Elon, ook ’n Hetiet, getrou. 35Esau se twee vroue het egter vir Isak en Rebekka baie verdriet besorg.

Currently Selected:

GENESIS 26: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy