YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 16

16
Jerusalem, ’n ontroue vrou
1Ek het nog ’n boodskap van die Here gekry: 2“Mensekind, konfronteer Jerusalem met haar afskuwelike sondes. 3Sê vir haar die oppermagtige Here sê: Jy is niks anders as ’n Kanaäniet nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet. 4Toe jy gebore is, het niemand vir jou omgegee nie. Jou naelstring is nie afgesny nie. Jy is nooit gewas nie. Niemand het jou met sout ingevryf of vir jou warm klere aangetrek nie. 5Niemand het in jou belanggestel om dit vir jou te doen nie. Niemand het vir jou omgegee of vir jou gesorg nie. Die dag toe jy gebore is, is jy in die veld gelos om dood te gaan. Niemand wou jou hê nie.
6“Maar Ek het verbygekom en jou daar gesien. Jy het hulpeloos in jou eie bloed gelê en skop. Terwyl jy daar in jou bloed gelê het, het Ek gesê: ‘Lewe!’ Ja, waar jy in jou bloed gelê het, het Ek vir jou gesê: ‘Lewe!’ 7Ek het jou gehelp om soos ’n veldplant te groei. Jy het grootgeword en ’n mooi juweel geword. Jou borste het vol geword en jou hare het gegroei. Maar jy was nog kaal en sonder klere. 8En toe Ek verbykom en jou weer sien, was jy oud genoeg om te trou. Daarom het Ek my jas vir jou aangetrek sodat jy nie kaal sou wees nie. Ek het ’n verbond met jou gesluit en met jou getrou, sê die oppermagtige Here. Jy het Myne geword.
9“Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas. En Ek het olie aan jou lyf gesmeer. 10Ek het vir jou duur klere gegee wat van linne en sy gemaak is en mooi uitgeborduur is, asook sandale wat van fyn leer gemaak is. 11Ek het vir jou mooi juweliersware gegee: armbande en halssnoere, 12’n ring vir jou neus en oorringe, en ’n pragtige kroon op jou kop. 13Jy was pragtig met jou goud en silwer. Jou klere was van fyn linne en mooi geborduur. Jy het die lekkerste kos geëet: fynmeel, heuning en olyfolie. Jy het mooier as tevore geword. Jy het soos ’n koningin gelyk. En jy was ook een! 14Jy het oor die hele wêreld bekend geword omdat jy so mooi was. Ek het jou skoonheid met my glans volmaak gemaak, sê die oppermagtige Here.
15“Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop. 16En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur? 17Jy het jou juwele en die goud en silwer gevat wat Ek vir jou gegee het, en daarvan beeldjies van mans gemaak. En jy het hulle aanbid. So het jy egbreuk teen My gepleeg. 18Jy het jou geborduurde klere gevat wat Ek jou gegee het, en vir jou afgode aangetrek. En jy het my olie en wierook gebruik om aan hulle te offer. 19Verbeel jou! Jy het die fynmeel en olyfolie en heuning wat Ek jou gegee het, voor hulle as ’n offer neergesit, sê die oppermagtige Here.
20“Jy het ook jou seuns en dogters, die kinders wat jy by My gehad het, gevat en aan jou afgode geoffer. Was dit nie genoeg dat jy ’n prostituut geword het nie? 21Moes jy ook my kinders slag en aan jou afgode offer? 22In al die jare wat jy egbreuk gepleeg en vreeslike sondes gedoen het, het jy nie een keer teruggedink aan die dae toe jy kaal in die veld gelê het nie. Daar het jy in jou eie bloed gelê en skop.
23“Jy gaan sekerlik vernietig word, sê die oppermagtige Here. Ná al die verskriklike dinge wat jy aangevang het, 24het jy ook ’n heiligdom vir jou afgode gebou. Jy het altare vir jou afgode op elke dorpsplein ingerig. 25Op elke straathoek het jy ’n afgodsaltaar gebou en jou skoonheid verkoop. Jy het jou lyf aangebied vir elkeen wat verbygaan. Jy het nie opgehou om jou as prostituut uit te huur nie. 26Jy het jouself ook verkoop aan jou goed bedeelde bure, die Egiptenaars. Jy het My baie kwaad gemaak deur aan te hou met jou afskuwelike dade. 27Daarom het Ek jou met die vuis geslaan en jou grense ingekort. Ek het jou oorgegee aan jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle was geskok deur jou afskuwelike gedrag! 28Jy het ook saam met die Assiriërs geslaap. Dit lyk of jy nie genoeg minnaars kon kry nie! En steeds was jy nie bevredig nie. 29Jy het toe ook daardie groot handelsreus Babilon by jou lys minnaars gevoeg. Maar steeds was jy nie bevredig nie!
30“Hoe siek is jy nie, sê die oppermagtige Here, dat jy aanhou om sulke dinge te doen! Jy is ’n prostituut wat geen skaamte ken nie! 31Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie. 32Jy is ’n slegte vrou wat ander mans verkies, maar nie jou eie man naby jou wil hê nie. 33Prostitute vra geld vir hulle dienste. Maar nie jy nie. Jy betaal jou minnaars! Van oral af koop jy hulle om sodat hulle na jou toe sal kom. 34Jy is die teenoorgestelde van ander prostitute. Niemand betaal jou vir jou liefde nie. Nee, jy betaal hulle!”
Oordeel oor Jerusalem se prostitusie
35“Daarom, prostituut, luister na wat die Here vir jou sê! 36So sê die oppermagtige Here: Jy het jou eer vir jou minnaars gegee en jou vir hulle kaal uitgetrek, en afskuwelike afgode aanbid. Jy het jou kinders as offers vir die afgode geslag. 37Daarom gaan Ek jou minnaars bymekaarmaak, die mense met wie jy saam plesier gehad het, dié wat jy liefhet en dié wat jy haat. En Ek gaan jou voor hulle kaal uittrek sodat hulle na jou kan kyk. 38Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek. 39Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat. 40Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap. 41Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.
42“Eers wanneer Ek my wraak teen jou laat uitwoed het, sal my woede afgekoel wees. Dan sal Ek kalm word en nie meer vir jou kwaad wees nie. 43Maar eers gaan Ek jou ten volle laat boet vir jou sondes, want jy het jou jongdae vergeet toe jy hierdie dinge gedoen het. So sê die oppermagtige Here. Want by al jou walglike sondes het jy ook hierdie afstootlike dinge gedoen. 44Mense wat spreekwoorde maak, sal van jou sê: ‘Die dogter is nes die ma.’ 45Jou ma het ook haar eie man en kinders verag, net soos jy. En jy is net soos jou susters, want hulle het hulle mans en kinders ook verag. Ja, jou ma was mos ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet.
46“Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het. 47Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref! 48So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. 49Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie. 50Hulle was trots en het afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle uitgeroei, soos jy gesien het.
51“Selfs Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het veel erger dinge gedoen as jou susters. Trouens, in vergelyking met jou lyk hulle regverdig! 52Jy moet jou skaam omdat jy met jou sondes jou susters geregverdig het. Skaam jou omdat jou sondes só afskuwelik is dat jou susters in vergelyking met jou regverdig lyk!
53“Eendag gaan Ek die lot van Sodom en haar dogters en Samaria en haar dogters verander. Dan sal Ek jou ook weer oprig. 54Daardie dag sal jy skaam voel oor alles wat jy gedoen het, oor jou sondes wat hulle goed laat voel het in vergelyking met jou. 55Ja, jou susters, Sodom en Samaria, en hulle mense sal herstel word. Dan sal jy en jou mense ook herstel word. 56Vroeër, toe jy trots was, het jy op Sodom neergesien. 57Maar nou is jou afskuwelike gedrag voor die hele wêreld ten toon gestel. Jy is nou die een op wie neergesien word: deur die mense van Edom#16:57 Grondteks Aram. Die Siriese vertaling en ’n aantal Hebreeuse manuskripte lees egter Edom. en die omgewing, en die mense van Filistea. Van alle kante af sien mense op jou neer. 58Dit is die straf op jou afskuwelike sondes, sê die Here.
59“Nou sê die oppermagtige Here: Ek gee jou wat jy verdien, want jy het jou plegtige eed geminag en jou verbond gebreek. 60Nogtans sal Ek onthou van die verbond wat Ek met jou gesluit het toe jy nog jonk was. Ek sal ’n ewige verbond met jou sluit. 61Dan sal jy skaam wees as jy die dinge onthou wat jy gedoen het. Ek maak jou jonger en ouer susters dan jóú dogters, selfs al is hulle nie deel van ons verbond nie. 62Ek sal weer my verbond met jou sluit, en jy sal erken dat Ek die Here is. 63Jy sal jou sondes onthou. En dan sal jy stilbly omdat jy skaam kry, dié dag as Ek jou vergewe vir alles wat jy gedoen het, sê die oppermagtige Here.”

Currently Selected:

ESEGIËL 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy