EKSODUS 33
NLV
33
Die Here gaan nie verder saam
nie
1Die Here het vir Moses gesê: “Jy en die volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar van hier af verder trek. Gaan na die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob beloof het. Toe het Ek belowe dat Ek hierdie land vir hulle nageslag sal gee. 2Ek sal ’n engel voor julle uitstuur. Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf. 3Dit is ’n baie vrugbare land.
“Ek sal egter nie verder saam met julle trek nie. Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek saamgaan, sal Ek julle dalk vernietig.”
4Toe die volk hierdie harde woorde hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle wou nie langer juweliersware dra nie. 5Die Here het dan immers vir Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek ’n tree verder saam met julle moet trek, gaan Ek julle vernietig. Haal af julle juweliersware. Ek sal kyk wat Ek met julle moet doen.” 6Vandat hulle van Sinai af weg is, het die Israeliete nie weer juweliersware gedra nie.
Die tent buite die kamp
7Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af opgeslaan. Hy het dit “die ontmoetingstent” genoem. As iemand by die Here raad gesoek het, het hy na die ontmoetingstent buite die kamp gegaan.
8Wanneer Moses uit die kamp na die tent toe gegaan het, het al die mense by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het Moses agternagestaar tot hy in die tent van ontmoeting ingegaan het. 9Die oomblik wanneer hy die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgesak. Dit het oor die deur van die tent bly hang terwyl die Here daar met Moses gepraat het. 10Wanneer die volk die wolkkolom oor die tent se deur sien hang het, het hulle opgestaan en by die ingang van hulle tente gekniel om die Here te aanbid. 11Binne-in die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk. Wanneer Moses daarna weer na die kamp toe teruggekom het, het Josua die seun van Nun wat hom gehelp het, daar agtergebly. Hy het nie van die tent af weggegaan nie.
Moses wil sien hoe die Here lyk
12Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie. U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.
13“As dit dan so is, sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag. Hierdie mense is tog u eie volk.”
14Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?”
15Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie. 16As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?”
17Die Here het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.”
18Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?” 19Die Here sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die Here’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil; en ontferming aan dié wat Ek wil.”
20Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die Here lyk nie.”
21Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. 22Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. 23Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling