YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 4

4
Mordegai stuur Ester na die koning
1Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy is in die stad in en het hard en droewig loop en huil. 2Hy het voor die ingang van die paleis gaan staan. Iemand met rouklere aan was nie toegelaat om deur die hek in te gaan nie. 3In elke provinsie waar die besluit en opdrag van die koning afgekondig is, was die Jode baie hartseer. Hulle het gevas en gehuil en getreur. Baie het rouklere aangetrek en as oor hulle gegooi.
4Koningin Ester se diensmeisies en die haremamptenare het haar van Mordegai kom vertel. Sy was baie ontsteld. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy rouklere aan te trek. Hy het geweier.
5Ester het vir Hatak laat kom. Hy was een van die koning se haremopsigters wat haar moes oppas. Hy moes by Mordegai gaan uitvind wat aan die gang is en hoekom hy so maak.
6Hatak gaan toe na Mordegai waar hy op die plein voor die ingang van die koninklike paleis is. 7Mordegai het hom ingelig oor alles wat gebeur het en van die bedrag wat Haman aangebied het aan die skatkis van die koning om die Jode te kan doodmaak. 8Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is om hulle uit te roei. Hatak moes dit aan Ester wys en vir haar alles verduidelik. Hy moes by haar aandring om na die koning toe te gaan en by hom om genade te smeek vir haar volk. 9Hatak het met Mordegai se boodskap na Ester toe teruggegaan.
10Sy het Hatak weer na Mordegai gestuur om vir hom te sê: 11“Elke amptenaar van die koning en die volke in die provinsies van die koning weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, volgens voorskrif net daar doodgemaak word, tensy die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek. Dit is nou al 30 dae sedert die koning my laas laat kom het.”
12Ester se woorde is aan Mordegai oorgedra. 13Mordegai het haar laat weet: “Moenie vir een oomblik dink dat jy daar in die koning se paleis gaan vrykom van die lot van die ander Jode nie. 14As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ’n ander plek af kom. Jy en jou familie sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!”
15Ester het hom geantwoord: 16“Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas. Al is dit in stryd met die voorskrif sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.”
17Mordegai het toe gegaan en alles gedoen wat Ester hom laat weet het.

Currently Selected:

ESTER 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy