YouVersion Logo
Search Icon

PREDIKER 7

7
Wysheid vir die lewe
1’n Goeie naam
is beter as goeie reukolie,
die dag van sterwe
beter as die geboortedag.
2Dis beter om na ’n huis te gaan
waar gerou word.
Die dood is elkeen se bestemming.
En elkeen wat nog lewe,
kan dit ter harte neem.
3Droefheid is beter
as om te lag;
’n droewige gebeurtenis
laat ’n mens dikwels goed nadink.
4Die gemoed van die wyse
voel tuis
waar daar gerou word.
Die dwase se gemoed voel tuis
waar daar plesier is.
5Dis beter om ag te slaan
op die kritiek
van iemand wat wys is,
as om te luister
na die lied van dwase mense.
6Soos die geknetter
van doringtakke onder ’n pot,
so klink die gelag
van ’n dwaas.
Dit alles is sinloos.
7Afpersing maak ’n verstandige
’n dwaas.
’n Omkoopgeskenk vernietig
goeie oordeel.
8’n Taak wat voltooi is,
is beter as die begin.
Geduld is beter as hoogmoed.
9Moenie gou kwaad word nie;
ergernis hoort by dwase.
10Moenie sê:
“Waarom was die ou dae
beter as die huidige?” nie.
Dit is nie uit wysheid
dat jy daaroor vra nie.
11Wysheid is net so goed
as ’n erfdeel;
dit help hulle
wat nog die son sien.
12Wysheid beskerm jou
soos geld beskerming bied.
Maar die voordeel van kennis
is dat wysheid
die lewe van hom wat dit besit,
beskerm.
13Kyk hoe God te werk gaan:
Wie kan iets reguit maak
wat Hy krom gemaak het?
14Geniet die dag van voorspoed.
Maar wanneer teëspoed kom,
onthou, God gee die een
sowel as die ander
sodat die mens nie sal weet
wat met hom sal gebeur nie.
Beperkings van menslike wysheid
15In my lewe van sinloosheid
het ek alles gesien:
Die regverdige gaan dood,
al doen hy wat reg is;
’n bose mens geniet ’n lang lewe,
al doen hy verkeerd.
16Moenie te regverdig lewe nie.
Moenie aanspraak maak
op meer wysheid
as wat jy het nie.
Hoekom wil jy jouself vernietig?
17Moet ook nie te goddeloos
lewe nie.
Moenie ’n dwaas wees nie!
Hoekom moet jy voortydig
doodgaan?
18Dit is goed om een vas te hou
en die ander nie te los nie.
Hy wat vir God respekteer,
ontkom aan albei.
19Wysheid versterk ’n wyse
met meer mag
as wat tien belangrike leiers
in ’n stad het.
20Want daar is niemand op aarde
wat regverdig is nie,
niemand wat net goeddoen
en nooit sondig nie.
21Moenie jou steur aan alles
wat mense sê nie.
Dalk hoor jy hoe jou werknemer
jou verwens!
22Jy onthou immers hoe dikwels
jy self ander verwens het.
23Ek het dit alles
met die hulp van wysheid
getoets.
Ek wou regtig wys wees,
maar kon dit nie regkry nie.
24Wat wysheid ook al is,
dit lê buite bereik
en baie diep.
Wie kan dit vind?
25Ek het alles moontlik probeer
om te wete te kom,
na te vors en te ondersoek
wat wysheid en insig is,
en om die dwaasheid
van goddeloosheid te verstaan,
en dwaasheid as malligheid te ken.
26Wat ek wel gevind het,
is dat ’n vrou wat verlei,
bitterder is as die dood.
Haar hart
is ’n gevaarlike vangnet.
Haar hande is boeie.
Wie voor God goed is,
vermy haar,
maar die sondaar
word deur haar gevang.
27“Dis wat ek geleer het,”
sê die Prediker,
“toe ek een en een
bymekaargetel het
om die regte insig te kry.
28Wat ek nog altyd gesoek het,
het ek nie gevind nie.
Ek het wel een man
uit duisend gevind.
Maar só ’n vrou
het ek nie
onder al dié gevind nie.
29Die één ding
wat ek wel gevind het, is dit:
God het die mense goed
en opreg gemaak,
maar hulle het allerlei slimmighede
gesoek.”

Currently Selected:

PREDIKER 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy