YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 5

5
Die skrif teen die muur
1Koning Belsasar het vir 1 000 van sy vooraanstaande amptenare ’n groot fees gehou. Hy het saam met hulle wyn gedrink. 2Terwyl Belsasar so aan die drink was, het hy beveel dat die goue en silwer voorwerpe wat sy voorganger#5:2, 11, 18 Of pa. Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem verwyder het, daarnatoe gebring word. Die koning wou saam met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit drink. 3Hulle het toe die goue eetgerei gebring wat uit die woonplek van God in Jerusalem gevat is. Die koning het toe saam met sy amptenare, sy vroue en byvroue daaruit begin drink. 4Terwyl hulle wyn gedrink het, het hulle hulle afgode wat van goud, silwer, brons, yster, hout en klip gemaak is, geloof.
5Net toe het die vingers van ’n mens se hand verskyn en reg teenoor die kandelaar op die pleister van die muur van die koning se paleis begin skryf. Die koning het gesien hoe die hand begin skryf. 6Hy het bleek geword. Hy het baie bang geword en sy knieë het teen mekaar begin klap en hy het homself vuilgemaak.
7Die koning het geskreeu dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gehaal moes word. Hy het vir die wyse mans van Babel gesê: “As enige persoon kan lees wat hier geskryf staan en kan verklaar wat dit beteken, sal hy pers klere soos ’n koning kry, en ’n goue ketting sal om sy nek gehang word en hy sal derde in rang in my ryk aangestel word.” 8Al die koning se wyse mense het toe gekom. Niemand kon egter lees wat daar geskryf staan, of vir die koning verduidelik wat dit beteken nie. 9Koning Belsasar het daarom nog banger geword. Sy gesig was nou spierwit. Sy hoë amptenare was verbyster.
10Toe sy ma#5:10 Of die koningin. Dit kan sy vrou of sy ma, die koninginmoeder, wees. hoor van die debakel waarin die koning en sy amptenare is, gaan sy na die saal waar die fees gehou is. Toe sy binnekom, sê sy: “Mag die koning lank lewe! Moenie jou so ontstel en bang wees nie. 11Daar is ’n man in jou koninkryk in wie die gees van die heilige gode woon. In die dae van jou voorganger#5:2, 11, 18 Of pa. het dit duidelik geword dat hy insig, begrip en wysheid het soos dié van die gode self. Jou voorganger Nebukadnesar het hom aangestel as hoof oor sy towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers. 12Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, is buitengewoon skerpsinnig en begaafd. Dit het aan die lig gekom dat hy weet hoe om drome uit te lê, raaisels op te los en probleme te ontknoop. Laat Daniël dan nou kom dat hy dit kan lees en kan verklaar wat dit beteken.”
Daniël verklaar die skrif
13Daniël is toe voor die koning gebring. Die koning vra vir Daniël: “Is jy Daniël uit die Judese ballinge wat my voorganger uit Juda gebring het? 14Ek hoor dat die gees van die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het. 15Die geleerdes en towenaars het probeer om te lees wat hier geskryf staan en te verklaar wat dit beteken. Maar hulle was nie in staat om dit te verduidelik nie. 16Ek het gehoor jy kan verklarings gee en raaisels oplos. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my sê wat dit beteken, sal ek vir jou die pers klere van ’n koning gee, ’n goue ketting om jou nek hang en jou in die derde posisie in my koninkryk aanstel.”
17Daniël antwoord die koning: “U kan maar die geskenke vir uself hou of die beloning maar vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en vir u sê wat dit beteken. 18U Majesteit, God die Allerhoogste het die koninkryk met sy grootsheid, eer en aansien vir u voorganger#5:2, 11, 18 Of pa. Nebukadnesar gegee. 19Hy het hom so groot gemaak dat volke, nasies en tale vir hom bang was. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat lewe wie hy wou. Hy het aangestel wie hy wou en verneder soos hy lus gekry het. 20Toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy van sy troon afgesit en sy eer is van hom weggeneem. 21Hy is van die mense af weggejaag en het soos ’n dier geword. Hy het tussen die wilde donkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Die dou van die lug het op hom geval, totdat hy erken het dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die wêreld en daaroor aanstel wie Hy wil.
22“Belsasar, u is sy opvolger. Alhoewel u dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie. 23U het u teenoor die Heer van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster, hout en klip gemaak is, wat nie eers kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid en nie die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal, vereer nie. 24Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf.
25“Daar staan geskryf: ‘Mene, mene, tekel, ufarsin.’ 26Dit beteken:
“‘Mene’ – God het die aantal dae van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ’n einde.
27“‘Tekel’ – u is op die skaal geweeg en te lig gevind.
28“‘Peres’#5:28 Parsin is die meervoud van Peres, die Aramese naam vir die Perse. – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.”
29Belsasar het toe opdrag gegee en daar is vir Daniël die pers klere van ’n koning aangetrek, ’n goue ketting is om sy nek gehang en ’n dekreet is uitgevaardig dat hy derde in rang in die koninkryk sal wees.
30Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs#5:30 Grondteks Galdeërs., doodgemaak.

Currently Selected:

DANIËL 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy