YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 4

4
Petrus en Johannes lewer hulle getuienis voor die Joodse Raad
1Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm. 2Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood#4:2; 4:10 Grondteks tussen die dooies uit. in Jesus verkondig het. 3Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit. 4Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000.
5Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou. 6Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester. 7Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?”
8Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk, 9word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n ver-lamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is? 10Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood#4:2; 4:10 Grondteks tussen die dooies uit. opgewek het. 11Hy is:
‘Dié klip wat deur julle bouers
geminag is;
Hý het nou die sluitklip#4:11a ’n Sluitklip is ’n bouklip wat in wigvorm gekap is. Dit is in die destydse geboue gebruik om die boogopening van (bv) ’n deur of venster te laat sluit en te verhoed dat die gebou inmekaartuimel. geword.’#4:11b Ps 118:22.
12“Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde#4:12 Grondteks onder die hemel. wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”
13Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was. 14Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie. 15Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal#4:15 Grondteks Sanhedrin. gestuur en die saak met mekaar bespreek.
16“Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie. 17Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.”
18Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie.
19Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom?
20“Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”
21Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys 22vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak!
Die gelowiges bid vir waagmoed
23Toe hulle vrygelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het. 24Toe het al die gelowiges saam tot God gebid#4:24 Grondteks hulle stemme tot God laat opgaan.: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin – 25U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê:
‘Waarom het die nasies
tekere gegaan?
Waarom het die volke
sinlose planne beraam?
26Die konings van die aarde
het hulle slaggereed gemaak;
die heersers het saamgespan
teen die Here
en teen sy Messias#4:26 Grondteks sy Christus..’#4:25-26 Ps 2:1-2.
27“Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak#4:27 Grondteks deur U gesalf is.. 28Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit. 29En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. 30Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”
31Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig.
Die gelowiges deel hulle besittings met mekaar
32Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het.
33Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade#4:33 Of onverdiende goedheid. ryklik aan elkeen gegee. 34Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.
36So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat#4:36 Grondteks dit beteken “seun van bemoediging”.). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore. 37Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.

Currently Selected:

HANDELINGE 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy