YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 19

19
Paulus begin met sy derde sendingreis
1Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry. 2Hy het vir hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?”
“Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,” het hulle hom geantwoord.
3“Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra.
Hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.”
4Paulus sê toe: “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God.#19:4 Grondteks Johannes het die doop van bekering gedoop. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.”
5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer#19:6 Of hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het die woord van God verkondig.. 7Altesaam was dit ongeveer twaalf mans.
In Efese triomfeer die evangelie van Jesus Christus oor die bose magte
8Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God. 9Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”#19:9a, 23 Of die leer van die Here. Vir die naam “Die Pad”, vgl by 9:2.. Toe het Paulus die sinagoge#19:9b Grondteks hulle. verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.
10So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap#19:10 Of woord. van die Here gehoor het.
11God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen. 12Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.
13Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!” 14Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva. 15Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?” 16Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het.
17Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak. 18Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely. 19Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke#19:19 Een silwermuntstuk was destyds die tipiese dagloon van ’n kontrakarbeider.. 20So het die woord van die Here#19:20a Of die boodskap oor die Here. kragtig gegroei en sterk geword#19:20b Of sy krag getoon en al hoe meer versprei..
Paulus bots met die ambagsmanne van Efese
21Hierna het Paulus, deur die Gees gedring, besluit om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Ná ek daar was,” het hy gesê, “moet ek ook Rome sien.” 22Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, met ’n mandaat Masedonië toe gestuur; self het hy nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.
23Juis in daardie tyd was daar ’n taamlike groot opskudding oor “Die Pad”#19:9a, 23 Of die leer van die Here. Vir die naam “Die Pad”, vgl by 9:2.. 24Dit het begin by ’n silwersmid met die naam Demetrius. Hy het silwer Artemistempeltjies gemaak en vir ambagsmanne ’n beduidende verdienste verskaf. 25Hy roep toe die ambagsmanne en ander wat soortgelyke werk doen, en sê vir hulle: “Manne, julle weet dat ons voorspoed uit dié bedryf kom. 26En nou sien en hoor julle dat hierdie Paulus ’n beduidende klomp mense van sy standpunt oortuig het, naamlik dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. En dit gebeur nie net in Efese nie, maar in byna die hele provinsie Asië! 27Dis nie net ’n geval van ons bedryf wat gevaar loop om sy goeie naam te verloor nie. Die gevaar bestaan ook dat die tempel van die groot godin Artemis, wat die hele Asië én die wêreld as godin vereer, as nikswerd beskou word en dat sy van haar grootheid beroof gaan word!”
28By die aanhoor hiervan het hulle woede oorgekook en hulle het begin skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” 29Die hele stad was in rep en roer, en soos een man het die mense amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargus, albei Masedoniese reisgenote van Paulus, saamgesleep. 30Paulus wou saam met die betogers ingaan, maar die gelowiges wou hom nie toelaat nie. 31Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat Paulus se vriende was, vir hom ’n boodskap gestuur en hom gewaarsku om dit nie in die amfiteater te waag nie.
32Binne die amfiteater het party dít geskreeu en ander dát. Die vergadering was regtig in die war en die meeste het eintlik nie eers geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.
33Sommige van die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en hulle het uit die skare vir hom gesê wat hy moet doen. Hy het met sy hand beduie dat hy iets ter verdediging vir almal#19:33 Grondteks vir die volk. wil sê. 34Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, was daar vir byna twee uur lank één kreet van die kant van die skreeuende skare: “Groot is Artemis van die Efesiërs! Groot is Artemis van die Efesiërs!”
35Uiteindelik het die stadsklerk die betogers tot bedaring gebring. “Geagte Efesiërs#19:35 Grondteks Manne-Efesiërs.,” het hy gesê, “daar is verseker geen mens wat nie weet dat die stad Efese die tempelbeskermer is van die groot Artemis, wie se beeld hier by ons uit die hemel geval het nie! 36Dít staan soos ’n paal bo water. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.
37“Julle het hierdie mans hierheen gebring, alhoewel hulle nie iets uit ons tempel gesteel of ons godin beledig het nie. 38As Demetrius en sy ambagsmanne dus ’n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is goewerneurs. Laat hulle mekaar daar gaan aankla. 39En as julle verdere klagtes het, moet die saak op ’n wettige volksvergadering ter tafel gebring word. 40Ons loop eerlikwaar gevaar om oor vandag se gebeure van opstand aangekla te word. Daar is geen gronde vir hierdie betoging nie, en ons kan dit nie verantwoord nie.”
Hiermee het hy die vergadering verdaag.

Currently Selected:

HANDELINGE 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy