YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 16

16
Timoteus sluit by Paulus aan
1Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige#16:1 Grondteks ’n dissipel.; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek. 2Daar was van die kant van die gelowiges#16:2 Grondteks broers. in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus. 3Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek. 4Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef. 5So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword.
Paulus ontvang in Troas ’n visioen wat hom Europa toe lei
6Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe.
9Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” 10Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons#16:10 Die oorskakeling van “hulle” na “ons” dui waarskynlik aan dat die skrywer van Handelinge nou deel van Paulus se reisgeselskap uitmaak, of dat hy van ’n bron gebruik maak wat in die “ons”-vorm geskryf was. onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig.
Lidia, die eerste bekeerling op Europese bodem
11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. 13Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het#16:14 Vgl by 13:16b.. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. 15Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.
Lofliedere weerklink in die tronk op Filippi
16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.”
18Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus#16:18 Of op gesag van Jesus Christus.: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan.
19Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode. 21Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.”
22Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word. 23Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie. 24In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem.
25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing#16:25 Of besig om biddend tot lof van God te sing.. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! 27Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak. 28Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!”
29Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”
31Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.” 32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig. 33Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense. 34Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.
35Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!” 36Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.”
37Maar Paulus het geantwoord: “Ons is sonder dat ons skuldig bevind is, in die openbaar geslaan en in die tronk gestop – en dít terwyl ons Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons sommerso stilletjies ontslaan. Volstrek nie! Laat hulle ons self kom uitlei!”
38Die polisie het hierdie boodskap vir die stadsowerhede vertel, en hulle het groot geskrik toe hulle hoor Paulus en Silas is Romeinse burgers. 39Hulle het hulle om verskoning gevra, hulle uit die tronk gelei en hulle gevra om die stad te verlaat. 40Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges#16:40 Grondteks broers. gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek.

Currently Selected:

HANDELINGE 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy