RUT 2
NLV
2
Rut beland op Boas se landerye
1In Betlehem was daar ’n welgestelde, invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimelek.
2Eendag vra Rut, die Moabitiese vrou, vir Naomi: “Mag ek gaan are optel op die landerye by iemand wat my sal toelaat om dit te doen?”
Naomi antwoord haar: “Dis goed so, my dogter, gaan gerus.”
3Rut is na die landerye toe om agter die snyers te gaan are optel. Dit gebeur toe dat sy op die landerye van Boas, die bloedverwant van haar skoonpa, beland.
4Boas kom toe juis van Betlehem af en groet sy werknemers: “Die Here is met julle!” het hy gesê.
“Mag die Here u seën!” antwoord die snyers.
5Toe vra Boas vir sy voorman: “Wie is daardie jong vrou?”
6Die voorman antwoord hom: “Sy is die jong vrou uit Moab wat saam met Naomi teruggekom het. 7Sy het vir my gevra of sy die are agter die snyers mag optel. Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir die kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gaan rus het.”
Boas nooi Rut uit om by sy land
te bly
8Toe loop Boas na haar toe en sê vir Rut: “Luister, my dogter: Bly net hier by ons en tel hier are op. Moenie na ander landerye toe gaan nie. Bly gerus by die vroue wat vir my werk. 9Kyk op watter deel van die landerye hulle oes en gaan saam met hulle. Ek het die werksmense opdrag gegee om jou nie lastig te val nie. As jy dors word, gaan drink gerus van die water in die houers wat my werkers vir hulle uit die put geskep het.”
10Rut het diep voor hom gebuig en hom gevra: “Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ’n buitelander is?”
11Boas antwoord haar: “Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy ná die dood van jou man aan jou skoonma betoon het. Ek het gehoor dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het om hier tussen vreemde mense te kom woon. 12Mag die Here, die God van Israel, onder wie se vlerke jy kom skuiling soek het, jou ten volle beloon.”
13“U laat my goed voel, Meneer,” antwoord sy. “U het my bemoedig deur so vriendelik met my te praat al is ek nie eers een van u slavinne nie.”
14Teen etenstyd laat roep Boas haar: “Kom hiernatoe en eet van ons brood en doop dit in die suur wyn.”
Sy het toe saam met die werkers gaan sit. Boas het vir haar geroosterde koring gegee – meer as wat sy kon eet.
15Toe Rut weg is om weer te gaan are optel, sê Boas vir sy werkers: “Julle moet haar toelaat om are tussen die gerwe op te tel sonder dat sy gepla word. 16Trek ook van die are uit die gerwe uit en laat dit met opset op die grond val sodat sy dit kan optel. Moenie haar keer om dit op te tel nie.”
17Rut het die hele dag lank are opgetel en toe sy dit die aand uitslaan, was dit omtrent ’n halwe mandjie vol. 18Sy het dit opgetel en saamgeneem dorp toe. Haar skoonma het gesien hoe baie sy opgetel het. Rut het ook van die kos wat oorgebly het, vir haar gegee.
Rut doen verslag aan Naomi
19“Waar het jy vandag are opgetel?” vra Naomi haar toe. “Mag die Here die een seën wat jou gehelp het!”
Rut vertel toe vir haar skoonma van die man op wie se landerye sy gewerk het. Sy sê verder: “Die man op wie se landerye ek vandag gewerk het se naam is Boas.”
20“Mag hy geseënd wees deur die Here wat nie opgehou het om getrou te wees aan dié wat lewe en dié wat dood is nie!” sê Naomi vir haar skoondogter. Sy voeg by: “Daardie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.”
21Rut vertel toe verder: “Boas het boonop vir my gesê om weer terug te kom en by sy werkers te bly totdat die hele oes ingesamel is.”
22“Dis wonderlik!” roep Naomi uit. “Maak soos hy vir jou sê. Bly by sy werkers vir die duur van die oestyd. Daar sal jy veilig wees, maar op ’n ander land kan jy dalk gemolesteer word.”
23So het Rut saam met die werkers tot die einde van die garsoes en die graanoes gebly en op Boas se landerye are opgetel. Sy het steeds by haar skoonma gewoon.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling