YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 29

29
1Wie hom hardkoppig
teen teregwysings
bly verset,
stort skielik ineen.
Niks kan dan weer vir hom
herstel bring nie.
2’n Volk juig
wanneer regverdige mense
regeer,
hulle sug wanneer goddeloses
aan bewind is.
3’n Man wat lief is vir wysheid
maak sy pa baie gelukkig.
Een wat hom besig hou
met prostitute,
mors sy geld.
4’n Regverdige koning
bring bestendigheid
in sy land.
Een wat
buitengewone belasting wil hê,
ruïneer sy land.
5Iemand wat sy medemens vlei,
is besig om ’n valstrik te stel.
6’n Goddelose mens se eie sonde
is sy ondergang.
Iemand wat reg doen,
kan vrolik sing.
7’n Regverdige mens gee om
vir arm mense se regte.
’n Goddelose mens
het geen begrip daarvoor nie.
8Ligsinnige mense
kan ’n hele stad op hol jaag;
wyse mense
laat gemoedere bedaar.
9Wanneer ’n wyse man
’n hofsaak maak
teen ’n dwaas,
sal die dwaas heftig raak
en hom beledig.
Daar sal nie kalmte
in die hofsaal wees nie.
10Moordenaars
haat ’n opregte mens;
eerlike mense
help mense
wat eerbaar lewe.
11’n Dwaas bars uit in woede.
Iemand wat wys is,
hou homself in toom.
12Iemand wat regeer
en hom aan leuens steur,
stel goddeloses aan in sy diens.
13’n Arm mens
en sy onderdrukker
het een ding in gemeen:
Die Here gee aan al twee
die lewenslig.
14’n Koning
wat armes billik behandel
in die regspraak,
sal lank regeer.
15’n Pak slae en ’n teregwysing
bring wysheid.
’n Kind
wat aan homself oorgelaat is,
steek sy ma in die skande.
16As goddeloses vermeerder,
word oortredings ook meer.
Die regverdiges sien
die ondergang
van goddeloses.
17Leer jou seun wat dissipline is
en jy sal gerus wees oor hom.
Hy sal jou vreugde verskaf.
18Wanneer ’n volk
nie duidelikheid het
oor die wil van God nie,
verloor hulle koers.
As hulle leef volgens sy wet
is hulle gelukkig.
19Jy kan nie ’n slaaf
net met woorde
op die regte pad hou nie.
Hy sal verstaan wat jy sê,
maar tog nie na jou luister nie.
20Jy sien self daar is meer hoop
vir ’n dwaas
as vir iemand wat praat
sonder om eers te dink.
21’n Slaaf
wat van kleins af bederf is,
is opstandig wanneer hy groot is.
22’n Mens wat gou kwaad word,
veroorsaak rusies.
’n Humeurige mens
veroorsaak sonde.
23’n Mens se hoogmoedigheid
lei na vernedering.
Iemand wat nederig is,
ontvang uiteindelik eer.
24Iemand wat deel
in wat ’n dief steel,
gee nie om vir sy lewe nie.
Hy word opgeroep
om ’n getuie te wees,
maar hy durf nie praat nie.
25Jy stel vir jouself ’n slagyster
as jy vir mense bang is.
Jy beveilig jou lewe
as jy op die Here vertrou.
26Baie mense soek na die guns
van die regeerder,
maar dis net die Here
wat aan ’n mens
werklik reg kan laat geskied.
27Dié wat lewe
volgens die wil van die Here
verafsku iemand wat oneerlik is;
’n goddelose mens
verafsku hulle
wat reg lewe.

Currently Selected:

SPREUKE 29: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy