YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 5

5
Mense wat die kamp moet verlaat
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete hulle moet enige persoon wat ’n aansteeklike velsiekte#5:2 Gewoonlik vertaal met melaatsheid. Dit dui eerder op ’n verskeidenheid aansteeklike velsiektes. het, of wat ’n onreëlmatige afskeiding het, of besoedel geraak het deur aan ’n lyk te raak, uit die kamp uit wegstuur. 3Dit geld vir sowel mans as vroue. Sit hierdie mense uit die kamp uit sodat die kamp waar Ek tussen julle bly nie deur hulle besoedel word nie.” 4Die Israeliete het so gemaak en die persone weggestuur soos die Here gesê het.
Vergoeding vir onreg
5Die Here sê toe vir Moses: 6“Sê vir die Israeliete: Enige man of vrou wat ’n ander persoon verontreg, is ontrou aan die Here en is skuldig. 7Hulle moet hulle oortreding bely. Hulle moet die persoon vergoed vir wat hulle aan hom gedoen het en twintig persent bysit wanneer hulle hom vergoed. 8Indien die benadeelde persoon reeds dood is en daar is nie ander familie vir wie dit gegee kan word nie, behoort dit aan die Here. Dit moet vir die priester gegee word saam met ’n ram wat geslag kan word sodat die oortreder se sonde vergewe kan word. 9Alles wat die Israeliete as ’n offer vir God na die priester toe bring, sal aan die priester behoort. 10Elke ding wat iemand vir God bring, is sy geskenk aan God. Die priester mag dit egter ná die tyd vir homself hou.”
’n Vrou wat verdink word van ontrouheid
11Die Here het vir Moses gesê: 12“Sê vir die Israeliete: Dit kan gebeur dat ’n man se vrou begin rondloop en ontrou is aan hom. 13’n Ander man kan by haar slaap en met haar gemeenskap hê sonder dat haar man dit weet, of sonder dat sy uitgevang word omdat daar geen getuie was nie. 14Hy kan vermoedens begin kry en agterdogtig begin raak of sy skuldig is of nie. 15In hierdie geval moet die man sy vrou na die priester toe bring saam met ’n offer van een en ’n half kilogram garsmeel om namens haar te offer. Daar mag nie olie daaroor uitgegooi word of wierook daaroor gestrooi word nie. Dit is ’n offer om te bepaal of sy skuldig is of nie.
16“Die priester moet haar dan nader bring en voor die Here laat staan. 17Hy moet dan van die heilige water in ’n houer vat en dit met stof van die vloer van die tabernakel af meng. 18Ná die priester die vrou voor die Here laat kom staan het, moet hy haar hare losmaak en die offer in haar hande sit. Hy moet die bitter water in sy hand hou. Die water kan ’n vloek bring oor die een wat skuldig is. 19Die priester moet haar dan laat sweer en vir haar sê: ‘Mag hierdie bitter water wat vervloeking bring, niks aan jou doen as jy nie by ’n ander man geslaap het nie en nie jouself besoedel het deur ontrou aan jou man te wees nie. 20As jy wel ontrou was aan jou man en oortree het en by ’n ander man as jou eie geslaap het’ 21– en hy herinner haar dat sy onder eed is – ‘mag die Here dan ’n vloek oor jou bring voor jou mense deur jou onvrugbaar te maak#5:21 Of dat die Here jou ’n miskraam sal laat hê.. 22Hierdie water wat vervloeking bring, sal dan vir jou ’n miskraam gee#5:22 Of jou onvrugbaar maak..’ Die vrou moet dan sê: ‘Amen. Laat dit so wees.’ 23Die priester moet hierdie vervloeking dan neerskryf op ’n papier en dit afwas in die bitter water. 24Hy moet die vrou laat drink van die bitter water wat die vervloeking bring. As sy skuldig is, sal die water groot swaarkry vir haar bring.
25“Die priester vat dan die offer wat bepaal of sy skuldig is of nie, uit die vrou se hande, hou dit uit na die Here toe en sit dit dan op die altaar. 26Hy vat ’n hand vol van die meel en verbrand dit op die altaar. Hy laat dan die vrou van die water drink. 27As sy die water drink en sy het wel oortree deur aan haar man ontrou te wees, sal die water ’n vervloeking oor haar bring. Dit sal haar bitter swaar laat kry en veroorsaak dat sy ’n miskraam het#5:27 Of haar maag sal swel en haar heupe sal inmekaarval.. Die vrou sal ’n vervloekte in haar gemeenskap word. 28As sy nie oortree het nie en onskuldig is, sal sy kinders hê.
29“Dit is die prosedure wat gevolg word wanneer ’n vrou ontrou was aan haar man en haarself besoedel het, 30of wanneer ’n man rede het om te vermoed dat sy vrou ontrou was aan hom. Die man moet sy vrou voor die Here bring en die priester moet volgens hierdie voorskrifte optree. 31Die man sal onskuldig wees, maar sy vrou sal verantwoordelik gehou word vir haar oortreding.”

Currently Selected:

NUMERI 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy