YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 19

19
Die rooi koei
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Hier is nog ’n opdrag wat die Here bepaal het: Sê vir die Israeliete hulle moet ’n gesonde rooi koei vat wat geen foute het nie. Sy moes ook nog nooit onder ’n juk ingespan gewees het nie. 3Gee haar vir die priester Eleasar. Hy sal haar buite die kamp vat waar sy voor hom geslag sal word. 4Eleasar sal dan van die bloed vat en dit met sy vinger sewe keer voor die tabernakel gaan sprinkel.
5“Terwyl hy toekyk, moet die vel, die karkas, die bloed en die binnegoed verbrand word. 6Hy moet sederhout, ’n hisoptakkie en rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word.
7“Die priester moet dan sy klere en homself met water was. Daarna kan hy na die kamp toe teruggaan. Die priester is egter onrein#19:7 Rein en onrein verwys nie na higiëniese omstandighede nie, maar na die kultiese status van ’n persoon voor God. tot die aand toe. 8Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere en homself met water was. Hy is ook onrein tot die aand toe. 9Iemand wat rein is, moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n plek gaan uitgooi wat daarvoor eenkant gesit is. Dit sal daar gehou word vir die gemeenskap van Israel om in die water van die reinigingseremonie te gebruik. 10Die man wat die as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was. Hy is ook onrein tot die aand toe. Dit is ’n onveranderbare voorskrif vir sowel die Israeliete as die vreemdelinge wat tydelik by hulle bly.”
Iemand wat aan ’n lyk vat
11“Iemand wat aan ’n lyk vat, is sewe dae lank onrein. 12Hy moet homself op die derde en op die sewende dag reinig. As hy dit nie op die derde en sewende dag doen nie, sal hy onrein bly. 13Iemand wat aan ’n lyk vat en homself nie reinig nie, maak die Here se tabernakel onrein. Hy sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word. Omdat daar nie reinigingswater oor hom gesprinkel is nie, sal hy onrein bly.
14“Die reël vir iemand wat in ’n tent doodgaan, is dat almal wat in daardie tent ingaan en almal wat reeds in die tent was toe hy dood is, onrein is vir sewe dae. 15Enige leë houer waarop daar nie ’n deksel was nie, is ook onrein. 16Iemand wat buite in die veld aan ’n lyk vat van iemand wat met ’n swaard doodgemaak is of vanself doodgegaan het, en iemand wat aan ’n mens se beendere of ’n graf vat, is vir sewe dae onrein.
17“Vat van die as van die offer wat buite die kamp verbrand is, sit dit in ’n houer en gooi vars water daaroor uit om daarmee die onreinheid weg te vat. 18Iemand wat rein is, moet ’n hisoptakkie vat en dit in die water doop. Hy moet daarvan teen die tent sprinkel en oor alles wat daarin is en oor enige mens wat daarbinne was. Hy moet dit ook sprinkel oor iemand wat aan doodsbeendere gevat het, of verontreinig is deur iemand wat vanself dood is of aan ’n graf gevat het. 19Die rein persoon moet op die derde dag en die sewende dag water sprinkel oor dié wat onrein is. Op die sewende dag moet dié wat onrein was, hulle klere en hulleself was. Daardie aand sal hulle weer rein wees.
20“Iemand wat onrein geword het en nie hulleself reinig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. Hulle het die Here se tabernakel onrein gemaak. Daar is nie reinigingswater oor hulle gesprinkel nie. Hulle bly onrein. 21Dit is vir julle ’n reël wat onveranderlik vas staan. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet ook sy klere was. Enigeen wat aan die reinigingswater vat, sal onrein wees tot die aand. 22Enigeen aan wie die persoon wat onrein is, vat, sal ook onrein wees tot die aand toe.”

Currently Selected:

NUMERI 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy