YouVersion Logo
Search Icon

NEHEMIA 9

9
Die Israeliete bely hulle sonde
1Op 31 Oktober het die Israeliete vir ’n vasdag bymekaargekom.
Hulle het klere van sakmateriaal aangetrek en stof op hulle koppe gegooi. 2Die mense van Israelitiese afkoms het toe alle bande met vreemdelinge verbreek. Hulle het daar gestaan en hulle sondes en ook die skuld van hulle voorouers bely. 3Hulle het vir omtrent ’n kwart van die dag gestaan terwyl die wetboek van die Here hulle God vir hulle voorgelees is.
Vir die volgende kwart van die dag het hulle om die beurt belydenis van hulle sondes gedoen en die Here hulle God aanbid. 4’n Paar Leviete het op die trappe van die Leviete gestaan en hardop die Here hulle God gesmeek. Hulle name was Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani.
5Toe het die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja, vir die volk gesê: “Staan op! Loof die Here julle God, want Hy leef van ewigheid tot ewigheid!” Toe het hulle die Here geloof:
“Mag u wonderlike Naam
geprys word!
Geen lofprysing
of danksegging
kan dit ooit beskryf nie.
6U alleen is die Here.
U het die hemele, die hoë hemel
en al die sterre gemaak.
U het ook die aarde en die see
en alles daarin gemaak.
U gee lewe aan alles,
die hemelse engele aanbid U.
7U is die Here God,
U het Abram gekies
en hom gebring
uit Ur van die Galdeërs.
U het hom Abraham genoem.
8Toe U sien dat hy getrou was,
het U ’n verbond gesluit met hom
om aan hom en sy nageslag
die land van die Kanaäniete,
die Hetiete en Amoriete,
die Feresiete, Jebusiete
en Girgasiete te gee.
U het gedoen
wat U beloof het,
want U is getrou aan u woord.
9“U het gesien
hoe ons voorouers
swaarkry in Egipte,
U het gehoor
hoe hulle roep by die Rietsee.
10U het wonders en tekens
teen die farao gedoen,
teen sy diensknegte
en al die mense van sy land.
U het geweet dat hulle u volk
sonder respek behandel.
U dwing tot vandag toe nog
net soveel respek af.
11U het die see voor hulle oopgekloof
sodat u volk
op droë grond kon deurtrek!
Maar U het hulle agtervolgers
in die diep waters gegooi,
soos ’n klip in magtige waters.
12Bedags het U ons voorouers
deur ’n wolkkolom gelei
en snags deur ’n vuurkolom.
So kon hulle weet
watter rigting om te gaan.
13“U het uit die hemel
na Sinaiberg toe afgekom
en met hulle gepraat.
U het vir hulle gegee:
voorskrifte wat regverdig is
en gebooie wat seker is,
voorskrifte en bevele
wat goed is.
14U het hulle geleer
van u heilige Sabbatdag,
hulle beveel om die opdragte,
voorskrifte en gebooie
wat U gegee het
deur u dienskneg Moses
te gehoorsaam.
15“Toe hulle honger was,
het U uit die hemel
vir hulle brood gegee.
Toe hulle dors was,
water uit die rots.
U het hulle opdrag gegee
om die land in te neem
wat U met ’n eed
aan hulle beloof het.
16Maar ons voorouers
was verwaand en hardkoppig,
hulle wou u bevele
nie gehoorsaam nie.
17“Hulle was ongehoorsaam
en het vergeet
van al die wonders
wat U vir hulle gedoen het.
Hulle was hardkoppig.
Hulle het ’n leier aangestel
om hulle terug te vat
na hulle slawerny in Egipte.
Maar U is ’n God wat vergewe,
genadig en vol deernis.
U word nie vinnig kwaad nie,
U is liefdevol en getrou.
U het hulle
nie in die steek gelaat nie,
18selfs toe hulle vir hulle
’n beeld van ’n kalf gemaak het.
Hulle het gesê:
‘Hierdie is julle god
wat julle gebring het
uit Egipte!’
Hulle het verskriklike,
godslasterlike dinge gedoen.
19Maar in u groot liefde
het U hulle nie in die woestyn
aan hulle lot oorgelaat nie.
In die dag het die wolkkolom
steeds vir hulle
die koers aangedui.
In die nag het die vuurkolom
steeds hulle pad verlig.
20U het u goeie Gees gegee
om hulle te leer.
U het ook nie opgehou
om vir hulle brood uit die hemel
te gee en water
om hulle dors te les nie.
21U het hulle vir 40 jaar
in die woestyn onderhou.
In dié tyd
het hulle niks kortgekom nie.
Hulle klere het nie verweer nie,
hulle voete nie geswel nie!
22“U het ons voorouers gehelp
om koninkryke en nasies
te oorwin.
U het groot dele land
aan hulle toegewys.
Hulle het die grondgebied
van koning Sihon
van Hesbon
en koning Og van Basan
oorgeneem.
23U het hulle kinders
so baie gemaak
soos die sterre in die hemel.
U het hulle gebring in die land
wat U gesê het
hulle voorouers
moet in besit neem.
24Hulle het die land ingegaan
en dit in besit geneem.
U het die mense van die land
aan hulle onderwerp.
Selfs die konings
en die Kanaäniete
wat in die land gebly het,
was magteloos!
U volk kon met hulle doen
net wat hulle wou.
25Ons voorouers
het versterkte stede
ingeneem
en vrugbare grond ingepalm.
Hulle het ook huise
vol kosbaarhede oorgeneem.
Die putte was klaar gegrawe,
die wingerde, olyfbome
en vrugteboorde was volop.
Hulle het geëet, en vet geword,
en die voorspoed geniet
wat U gegee het.
26“Ten spyte hiervan
was hulle ongehoorsaam
en opstandig teen U.
Hulle het u wet verwerp.
U profete
het hulle probeer oortuig
om na U toe terug te keer.
Maar hulle het
hulle doodgemaak
en godslasterlike dinge gedoen.
27Daarom het U hulle oorgegee
aan hulle vyande
wat die lewe
vir hulle moeilik gemaak het.
Toe dit met hulle swaar gaan,
het hulle by U om hulp geroep.
U het hulle gehoor
uit die hemel.
In u groot goedheid
het U mense gestuur
om hulle te verlos
uit die mag van hulle vyande.
28Maar sodra dit goed gaan,
begin u volk weer sondig.
U het toegelaat dat hulle vyande
hulle weer oorwin.
Elke keer as u volk hulp vra,
het U maar weer gehoor
uit die hemel.
U het hulle keer op keer vrygemaak
omdat U so baie
vir hulle omgee.
29U het hulle gewaarsku
om u wet te gehoorsaam,
maar hulle was hoogmoedig
en wou nie u wette
gehoorsaam nie.
Mense wat u voorskrifte gehoorsaam,
ontdek wat die lewe werklik is.
Maar u voorskrifte
het hulle oortree.
Hulle het die rug op U gedraai
en geweier om na U te luister.
30U was vir baie jare
geduldig met hulle.
U het gereeld deur u Gees
profete gestuur
om hulle te waarsku,
maar hulle
wou nie luister nie!
Daarom het U hulle weer oorgelewer
aan die heidense inwoners
van die land.
31Maar omdat U meegevoel
met hulle het,
het U hulle
nie heeltemal uitgeroei
of verwerp nie.
U is ’n God wat liefdevol is
en baie genade het!
32“U is ons God,
U is groot en magtig!
U is die ongelooflike God.
U hou die verbond
en is getrou in u liefde.
Moet tog nie al ons swaarkry
geringskat nie.
Ons en ons konings,
ons leiers, priesters, profete,
ons voorouers en die hele volk
het gely vanaf die tyd
van die Assiriese konings
tot vandag toe.
33Elke keer as U ons straf,
was dit regverdig.
U was reg,
ons het verkeerd gedoen.
34Ons konings en leiers,
priesters en voorouers
was ongehoorsaam
aan u wet.
Hulle het hulle nie gesteur
aan u bevele
en u waarskuwings nie.
35Selfs in die tyd
toe hulle eie konings
oor hulle regeer het
en U hulle
baie voorspoedig gemaak het,
het hulle U nie gedien nie.
Al het U vir hulle
’n groot, vrugbare land gegee,
het hulle nog steeds aangehou
om verkeerde dinge te doen.
36“En nou is ons vandag slawe!
U het vir ons voorouers
’n vrugbare land gegee
waar hulle voorspoed kon geniet.
Nou is ons slawe daarin!
37Die oorvloed van die land
behoort nou aan die konings
wat U aangestel het
om oor ons te heers.
Omdat ons gesondig het,
het hulle mag oor ons
en ons vee.
Ons kry baie swaar,
want hulle doen met ons
net wat hulle wil.
38 # 9:38 In die grondteks is dit 10:1. “Ten spyte hiervan maak ons ’n plegtige belofte wat ons op skrif stel. Op hierdie verseëlde dokument staan die name van ons leiers, ons Leviete en priesters.”

Currently Selected:

NEHEMIA 9: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy