MARKUS 5
NLV
5
Jesus genees iemand met baie
bose geeste
1Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom. 2Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop. 3Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie. 4Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie. 5Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap.
6Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer. 7Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In Godsnaam, moenie my seermaak nie!” 8(Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”)
9Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”
“My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.”
10Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie. 11Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei.
12Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.”
13Jesus het hulle dit toegelaat. Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in. Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het.
14Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel. Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het. 15Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik. 16Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het. 17Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.
18Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan. 19Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”
20Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.
Jesus verwag dat mense Hom
vir genesing sal vertrou
21Daarna het Jesus weer per skuit die see oorgesteek. Daar het ’n groot skare op die strand om Hom saamgedrom. 22’n Leier van die plaaslike sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe na Hom toe. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer 23en pleit ernstig by Hom: “My dogtertjie is op haar laaste. Kom sit tog u hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe.”
24Jesus het toe saam met hom gegaan. ’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom en teen Hom saamgedrom. 25Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan.
27Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak. 28Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”
29Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is.
30Jesus het dadelik agtergekom dat daar genesingskrag van Hom uitgegaan het. Daarom het Hy so tussen die baie mense omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” 31Sy dissipels protesteer toe: “U sien tog hoe die massa U verdring. Hoe kan U vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’”
32Maar Jesus het bly rondkyk om te sien wie dit gedoen het. 33Onder die besef van wat met haar gebeur het, het die vrou, bewend van angs, voor Hom kom neerval en vir Hom alles openhartig vertel. 34Hy het vir haar gesê: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees vir altyd genees van jou kwaal.”
35Terwyl Hy nog besig was om met haar te praat, kom daar boodskappers van Jaïrus se huis af met die boodskap: “Jou dogter is dood. Dit sal nie help om die leermeester langer lastig te val nie.”
36Jesus het die boodskap egter gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.”
37Jesus het die menigte gestop en niemand toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en sy broer Johannes. 38Toe hulle by die huis van die leier van die sinagoge aankom, sien Jesus die hele gedoente van mense wat huil en klaagkrete laat hoor. 39Hy gaan toe in die huis in en sê vir die mense: “Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.”
40Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitentoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê. 41Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kind: “Dogtertjie, staan op!” 42Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase. 43Maar Jesus het hulle opdrag gegee om dit heeltemal stil te hou en vir haar iets te ete te gee.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling