YouVersion Logo
Search Icon

MARKUS 3

3
Jesus maak iemand op die Sabbat gesond
1Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ’n man met ’n misvormde hand. 2Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou. Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou hulle Hom kon aankla. 3Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier in die middel.” 4Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.
5Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.”
Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword. 6Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.
Groot skares kom na Jesus toe
7Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom – van Galilea, Judea, 8Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom.
9Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. 10Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.
11Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!” 12Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.
Jesus kies twaalf apostels om koninkrykswerk te doen
13Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom. 14Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem#3:14 In sommige manuskripte ontbreek en Hy het hulle apostels genoem.. Hy wou hulle stuur om te gaan preek, 15en om met volmag bose geeste uit te dryf.
16Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het:
Simon (Jesus het sy naam verander
na Petrus),
17Jakobus en Johannes (die seuns
van Sebedeus, maar Jesus het hulle
die bynaam “Seuns van die
Donder” gegee#3:17 Grondteks die bynaam Boanerges gegee, dit beteken Seuns van die Donder.),
18Andreas,
Filippus,
Bartolomeus,
Matteus,
Tomas,
Jakobus (die seun van Alfeus),
Taddeus, Simon (die Yweraar#3:18 Iemand met besondere godsdienstige of politieke ywer.),
19Judas Iskariot (wat Hom later
uitgelewer#3:19 Of verraai. het).
Jesus se vyande beweer Hy is van ’n bose gees besete
20Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie. 21Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.”
22Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie prins van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.”
23Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra. 24“’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie! 25En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie! 26Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom. 27Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof.
28“Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word, 29maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid#3:29 In sommige manuskripte ontbreek tot in ewigheid. nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.” 30Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was.
Jesus se ware gesinslede is hulle wat aan God gehoorsaam is
31Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom. 32Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters#3:32 By sommige belangrike manuskripte ontbreek en u susters. staan buite en vra na U!”
33Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?” 34Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers. 35Elkeen wat aan God gehoorsaam is#3:35 Of Elkeen wat die wil van God uitvoer., is my eintlike gesinslede.”

Currently Selected:

MARKUS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy