YouVersion Logo
Search Icon

MARKUS 15

15
Jesus deur Pilatus verhoor
1Vroegoggend het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifkenners – trouens, die volle Sanhedrin – tot ’n besluit gekom. Hulle het Jesus geboei en toe aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.
2Pilatus het Jesus begin ondervra: “Is jy die Koning van die Jode?”
Jesus het hom geantwoord: “Ja, dit is soos u sê.”
3Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring. 4Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?” 5Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.
6Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het. 7Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het. 8Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat. 9“Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe – 10hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het. 11In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat. 12Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?”
13Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!”
14“Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”
Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”
15Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels#15:15 ’n Gésel was ’n veelpuntige sweep met stukkies metaal om die maksimum pyn te veroorsaak. te slaan en daarna te kruisig.
Die soldate gésel en bespot Jesus
16Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier#15:16 Grondteks na die binnehof, dit is die praetorium. gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en 17trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop. 18Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” 19Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon. 20Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.
Jesus word gekruisig
21’n Man met die naam Simon, wat van Sirene#15:21 ’n Stad in Noord-Afrika. Jode uit die buiteland het op ryper leeftyd graag na Jerusalem teruggekeer. afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra. 22Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek. 23Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie. 24Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis.#15:24 Vgl Ps 22:19. 25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.”
27Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.#15:27 Sommige manuskripte het ook nog ’n vers 28: En die Skrifte is vervul wat sê: “Hy was onder die misdadigers gereken.” Vgl Jes 53:12. 29Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Ha-ha, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! 30Red jouself nou, en kom van die kruis af!”
31Die priesterhoofde en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. 32Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
Jesus sterf en ’n Romeinse offisier verklaar dat Hy die Seun van God was
33Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag. 34Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?”#15:34 Ps 22:2.
35Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia. 36Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!”
37Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas. 38Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. 39Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!”
40Daar was ook vroue wat alles op ’n afstand dopgehou het, onder andere Maria Magdalena, Maria – die ma van Jakobus junior en Joses – en Salome. 41Hulle was volgelinge van Jesus en het vir Hom gesorg toe Hy in Galilea was. Baie ander vroue wat saam met Jesus Jerusalem toe gekom het, was ook daar.
Jesus se liggaam in ’n geëerde raadslid se graf
42Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was#15:42 Die Sabbat begin Vrydagaand om sesuur; daarna was dit verbode om ’n lyk te versorg., 43het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry. 44Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het. 45Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee. 46Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.

Currently Selected:

MARKUS 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy