YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 22

22
Die gelykenis van die groot bruilofsfees
1Jesus het vir hulle ook nog ander gelykenisse vertel om God se koningsheerskappy uit te beeld. So het Hy byvoorbeeld gesê: 2“God se koningsheerskappy is soos ’n koning wat ’n bruilofsfees vir sy seun voorberei het. 3Toe die fees gereed was, het hy sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet dat dit tyd was om te kom, maar hulle wou nie kom nie. 4Daarop het hy weer ander slawe gestuur met die opdrag: ‘Sê vir die gaste: My feesmaal staan gereed. My beeste en vetmaakvee is klaar geslag. Alles is reg om te begin. Kom na die bruilof!’
5“Die genooides het egter net hulle skouers opgetrek en elders heen gegaan, die een na sy boerdery en die ander een na sy besigheid. 6Die res het die slawe gegryp en mishandel en selfs doodgemaak.
7“Daarop het die koning woedend geword. Hy het sy weermag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand. 8Hy sê toe vir sy slawe: ‘Die bruilof is gereed, maar die gaste wat ek genooi het, is hierdie eer onwaardig. 9Gaan staan nou op die straathoeke en nooi almal wat julle raakloop om die bruilof by te woon.’
10“Toe het daardie slawe op die strate uitgegaan en elkeen saamgebring wat hulle kon kry, slegtes sowel as goeies. So het die bruilofsaal vol gaste geword. 11Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het. 12Daarop sê hy vir die persoon: ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’ Maar hy kon geen verskoning aanbied nie.
13“Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.’ 14Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.”
Die vraag oor belasting
15Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik.
16Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag#22:16 Grondteks wat die pad van God is.. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. 17Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”
18Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang! 19Wys vir My die Romeinse belastingmunt.”
Hulle bring toe vir Hom die muntstuk#22:19 Grondteks ’n denarius.. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle.
20Hulle antwoord: “Die keiser s’n.”
21“Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.”
22Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas.
Daar gáán ’n opstanding wees
23Daardie selfde dag kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende: 24“Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man kinderloos sterf, moet sy broer met die weduwee trou en so vir hom ’n nageslag verwek.’#22:24 Deut 25:5. 25Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. 26Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe. 27Laaste van almal is die vrou ook dood.
28“Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.”
29Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie. 30Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees. 31Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê: 32‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’#22:32 Eks 3:6. Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.”
33Toe die skare hiervan hoor, was hulle diep beïndruk deur Jesus se onderrig.
Liefde is die belangrikste opdrag
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink.
35Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek: 36“Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’#22:37 Deut 6:5. 38Dit is die eerste en belangrikste opdrag. 39Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’#22:39 Lev 19:18. 40Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”
Jesus stel ook ’n strikvraag
41Omring van Fariseërs het Jesus die volgende vraag aan hulle gestel: 42“Wat is julle standpunt oor die Messias? Wie se seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s’n.”
43Waarop Jesus vra: “Hoe noem Dawid Hom dan ‘Here’, terwyl hy tog onder die inspirasie van die Gees praat? Hy sê:
44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand#22:44a Die regeerposisie.
totdat Ek jou vyande
heeltemal aan jou
onderwerp#22:44b Grondteks onder jou voete geplaas. het.’#22:44c Ps 110:1.
45“As Dawid Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”
46Niemand kon Hom hierop antwoord nie. En daarna het niemand dit meer gewaag om nog verdere strikvrae aan Hom te stel nie.

Currently Selected:

MATTEUS 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy