MATTEUS 18
NLV
18
Wie die belangrikste in God se
koninkryk is
1In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag: “Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?”
2Jesus roep toe ’n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
3Toe sê Hy: “As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.
4“Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk. 5En elkeen wat ’n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My. 6Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ’n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ’n meulsteen om sy nek in die see te verdrink.
7“Dié wat ander tot ’n val bring, bring ellende in die wêreld! Daar sal noodwendig sulke mense wees, maar God sal die mens straf wat iemand anders tot ’n val bring.
8“Daarom, as jou hand of jou voet jou laat sondig, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel te lewe as om met al twee jou hande en al twee jou voete in die vuur gegooi te word wat nooit geblus sal word nie. 9En as jou oog jou laat sonde doen, pluk dit uit en gooi dit weg. Dit is vir jou beter om halfblind in die hemel in te gaan as om met twee oë en al in die hel se vuur gegooi te word.
10“Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien nie. Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van my hemelse Vader verkeer?”
Die gelykenis van die
weggeraakte skaap
12“As iemand 100 skape het en een van hulle raak weg, wat dink julle sal hy doen? Sal hy nie die 99 net daar tussen die rantjies los en die wegloop-een gaan soek nie? 13En as hy hom wel kry, wil Ek julle verseker hy sal blyer wees oor daardie een as oor die 99 wat nie weggeraak het nie!
14“Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.”
Hoe ons medegelowiges moet
reghelp
15“As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen het, gaan wys hom daarop. Maar hou dit tussen julle twee. As hy sy fout insien en erken, het jy hom teruggewen. 16Maar as jy nie daarin slaag nie, neem nog een of twee saam met jou. So sal daar twee of drie getuies wees om te bevestig wat gesê word. 17Maar as hy nog steeds weier om te luister, moet jy dit aan die gemeente gaan meedeel. As hy egter ook weier om na die gemeente te luister, moet hy vir jou wees soos ’n ongelowige of ’n tollenaar. 18Dít verseker Ek julle: Watter dinge julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees. En watter dinge julle ook op die aarde losmaak, sal in die hemel losgemaak wees.
19“Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. 20Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar.”
Die gelykenis van die
amptenaar met dubbele
standaarde
21Daarop kom vra Petrus Hom: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?”
22“Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!
23“Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ’n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. 24Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. 25Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. 26Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ 27Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.
28“Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal jou skuld!’ 29Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ 30Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi, waar hy sou moes bly totdat hy al sy skuld afbetaal het.
31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. 32Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. 33Moes jy jou nie ook oor jou medeamptenaar ontferm het soos ek my oor jou ontferm het nie?’ 34Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het.
35“So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling