LUKAS 7
NLV
7
Die geloof van ’n Romeinse
offisier
1Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan. 2’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd. 3Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak.
4Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help. “As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,” het hulle gesê, 5“want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.”
6Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie. 7Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. 8Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan: of ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.”
9Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!” 10En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond.
Jesus wek ’n weduwee se enigste
seun en steunpilaar op
11Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg. 12Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar. 13Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê.
14Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!”
15Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.
16Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!” 17Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.
Johannes vra of Jesus werklik
die Messias is
18Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep 19en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?”
20Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’”
21Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel.
22Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. 23En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’”
24Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word? 25Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie. 26Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet. 27Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit,
en hy sal die pad voor jou
gereedmaak.’
28“Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!”
29Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop. 30Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word.
31“Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk? 32Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende:
‘Ons het vir julle
’n bruilofslied gespeel,
maar julle
wou nie dans nie.
Ons het ’n begrafnislied gesing,
maar julle het geweier
om te huil.’
33“Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’
34“En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’ 35Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.”
’n Sondige vrou salf Jesus se
voete
36Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet.
37En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. 38Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.
39Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!”
40Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord. “Simon,” het Hy vir die Fariseër gesê, “Ek het iets om vir jou te sê.”
“Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.”
41Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander. 42Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?”
43Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.”
“Dis reg,” het Jesus gesê. 44Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. 45Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het. 46Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf. 47Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!” 48Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.”
49Die mans aan tafel sê toe onder mekaar: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?”
50En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling