YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 23

23
Die feeste
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Gee vir die Israeliete instruksies oor die feeste wat die Here aangewys het, feeste waarheen julle almal opgeroep word om My te kom aanbid. 3Jy mag elke week vir ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet alle werk tot stilstand kom. Dit is die Here se Sabbatdag van algehele rus. Dit is ’n heilige dag om bymekaar te kom vir aanbidding. Dit moet nagekom word waar julle ook al woon. 4Behalwe die Sabbatdag, het die Here ook feeste ingestel, heilige byeenkomste wat op spesifieke tye gedurende die jaar gehou moet word.”
Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood
5“Die Paasfees van die Here begin teen skemer op die veertiende dag van die eerste maand. 6Die dag na die Paasfees begin die Fees van die Ongesuurde Brood. Die fees vir die Here hou vir sewe dae lank aan en gedurende dié tyd mag julle net brood eet wat gemaak is sonder suurdeeg. 7Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom. 8Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die Here bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”
Die Fees van die Eerste Opbrengs
9Toe het die Here vir Moses beveel 10om die volgende instruksies vir die Israeliete te gee: “Wanneer julle in die land bly wat Ek aan julle gee, en julle samel die eerste oes in, bring vir die priester die eerste gerf van die graanoes. 11Die priester sal dit op die dag ná die Sabbat in die teenwoordigheid van die Here oplig sodat dit ter wille van julle aanvaar kan word. 12Dieselfde dag moet julle ’n jaaroud skaapram sonder enige liggaamsgebrek as ’n brandoffer vir die Here bring. 13Dit moet saam met ’n graanoffer gebring word. Dit sal bestaan uit drie kilogram meel gemeng met olyfolie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Saam met die offer moet julle ook een liter wyn as ’n drankoffer offer. 14Op dié dag mag julle nie brood of geroosterde of rou graan eet voordat julle eers die offer vir julle God gebring het nie. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.”
Die Oesfees
15“Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel. 16Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here. 17Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die Here opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die Here wees uit die eerste opbrengs van julle oes. 18Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die Here bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die Here gebring word en sal aangenaam vir Hom wees. 19Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring.
20“Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die Here oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die Here en behoort aan die priesters. 21Daardie selfde dag moet julle ophou met werk en vir ’n heilige byeenkoms vergader. Dit is ’n permanente reël vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.
22“Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die lande afoes nie. Moet ook nie alles optel wat die mense wat oes, laat val het nie. Los dit vir die armes en vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”
Die Fees van die Trompette
23Die Here het vir Moses beveel 24om hierdie instruksies vir die Israeliete te gee: “Op die eerste dag van die sewende maand in die vroegherfs moet julle ’n dag van rus vier. Alle werk moet op dié dag tot stilstand kom. Die volk word met die harde geblaas van ’n trompet opgeroep tot ’n heilige byeenkoms, die Fees van die Trompette. 25Julle mag geen werk doen op dié dag nie. Julle moet eerder vuuroffers vir die Here bring.”
Die Versoendag
26Toe het die Here vir Moses gesê: 27“Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die Here bring. 28Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die Here julle God versoening gedoen word. 29Enige persoon wat homself nie op dié dag verootmoedig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. 30Ek sal ook enige persoon wat op dié dag werk, om die lewe bring. 31Julle mag hoegenaamd geen werk doen nie. Dit is ’n permanente reël en moet nagekom word waar julle ook al woon. 32Dit sal ’n Sabbat van rus vir julle wees, ’n dag waarop julle julleself moet verneder. Die tyd van rus en vas sal die aand voor die Dag van Versoening begin en dit sal duur tot die aand van daardie dag.”
Die Huttefees
33Die Here het vir Moses gesê: 34“Die Israeliete moet op die vyfde dag ná die Dag van Versoening begin met die Huttefees. Hierdie fees vir die Here duur sewe dae.
35“Dit begin met ’n heilige byeenkoms en al julle werk moet tot stilstand kom. 36Op elk van die sewe feesdae moet julle vuuroffers vir die Here bring. Op die agtste dag moet julle weer bymekaarkom vir ’n heilige byeenkoms en nog ’n vuuroffer vir die Here bring. Dit moet ’n plegtige byeenkoms wees en geen werk mag op dié dag gedoen word nie.
37“Dit is al die Here se jaarlikse feeste, die feeste met heilige byeenkomste, en bring al die verskillende vuuroffers vir die Here: brandoffers, graanoffers, offermaaltye, drankoffers, elkeen op die gepaste dag. 38Hierdie feeste moet gehou word bo en behalwe die Sabbatdae van die Here. Die offers wat gebring word, word gegee naas julle persoonlike gawes en die offers wat julle maak om ’n gelofte na te kom of enige vrywillige offer wat julle vir die Here bring.
39“Die Huttefees val op die vyftiende dag van die sewende maand nadat julle die opbrengs van die land geoes het. Dit duur sewe dae lank. Onthou dat die eerste en die agtste dag van die fees rusdae sal wees. 40Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en ook palmblare en ander takke waaraan daar blare is en ook wilgers wat by riviere groei, bymekaarmaak. Vier dan sewe dae lank met blydskap fees in die teenwoordigheid van die Here. 41Julle moet hierdie fees van sewe dae vir die Here elke jaar vier. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word. 42Vir sewe dae lank moet alle gebore Israeliete in hutte woon wat van hierdie takke gemaak is. 43Dit sal elke nuwe geslag Israeliete herinner aan hulle voorouers wat so in hutte moes leef toe Ek hulle uit Egipte gered het. Ek, die Here, is julle God.”
44So het Moses dan hierdie instruksies oor die jaarlikse feeste van die Here vir die Israeliete gegee.

Currently Selected:

LEVITIKUS 23: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy