YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 16

16
Die Dag van Versoening
1Die Here het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns wat gesterf het toe hulle in die teenwoordigheid van die Here gekom het. 2Die Here het vir Moses gesê: “Waarsku jou broer Aäron om nie sommer wanneer hy wil by die Allerheiligste plek agter die voorhangsel in te gaan nie. Die straf hiervoor is die dood. Die deksel van die ark wat die plek van versoening is, is daar en Ek is daar in ’n wolk bo die deksel van die ark.
3“Wanneer Aäron die heiligdom ingaan, moet hy hierdie instruksies volledig nakom. Hy moet eers ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer bring. 4Nadat hy homself van kop tot toon gewas het, moet hy sy linnekleed bo-oor die ander klere teen sy lyf aantrek. Hy moet die linnegordel om sy middel bind en ’n linnetulband op sy kop sit. Dit is sy heilige klere. 5Die volk Israel moet dan twee bokramme as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer vir hom bring.
6“Aäron sal dan die bul bring as ’n sonde-offer met die oog op versoening vir homself en sy huis. 7Dan moet hy die twee bokramme vir die Here na die ingang van die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. bring. 8Hy moet die heilige lot werp om te bepaal watter bok vir die Here geoffer gaan word en watter een die sondebok#16:8 Sondebok is letterlik die bok vir Asasel. gaan wees. 9Aäron sal die bok wat as ’n sonde-offer geoffer moet word, vir die Here bring. 10Die bok wat die sondebok moet wees, moet bly leef. Wanneer die bok die woestyn in gestuur word, sal dit versoening bring vir die volk.
11“Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het, 12moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan. 13Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie. 14Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark.
15“Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het. 16Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete. 17Niemand word in die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. toegelaat terwyl Aäron daar besig is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek nie. Niemand mag daar ingaan voordat hy nie daar uitgekom het nadat hy versoening gedoen het vir homself, sy huis en vir al die Israeliete nie.
18“Dan sal Aäron uitgaan om versoening te doen vir die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan deur van die bloed van die bul en die bok aan elk van die altaar se horings te smeer. 19Dan moet hy sy vinger in die bloed druk en dit sewe keer oor die altaar sprinkel. Op dié manier sal hy die altaar reinig van die onreinheid van Israel.
20“Wanneer Aäron klaar is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. en die altaar, moet hy die lewende bok naderbring. 21Hy moet al twee sy hande op die kop van die bok lê en al die sondes en opstand van die Israeliete daaroor bely. Op dié manier sal hy die volk se sondes op die kop van die bok lê. Dan sal hy die bok die woestyn in jaag, gelei deur iemand wat gekies is vir die taak. 22Die man moet die bok in die woestyn agterlaat. So sal die bok al die sondes van die volk na ’n afgeleë plek wegdra.
23“Wanneer Aäron die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. binnegaan, moet hy al die linneklere uittrek wat hy aangehad het toe hy in die Allerheiligste plek ingegaan het. Hy moet die klere daar laat. 24Dan moet hy sy hele liggaam op ’n heilige plek met water gaan was, sy gewone priesterklere aantrek, en weer uitgaan om sowel sy eie brandoffer as die brandoffer vir die volk te offer. Op dié manier sal hy versoening doen vir homself en vir die volk. 25Hy moet ook al die vet van die sonde-offer op die altaar verbrand.
26“Die man wat gekies is om die bok as sondebok na die woestyn te vat, moet sy klere was en homself in water bad. Dan mag hy terugkeer na die kamp toe.
27“Die geofferde bul en die bok wat gegee is as sonde-offers, waarvan Aäron die bloed in die Allerheiligste plek ingebring het om versoening vir Israel te doen, moet buite die kamp geneem word om daar verbrand te word. Dit sluit die diere se velle, binnegoed en die mis in. 28Die man wat dit moet verbrand, moet sy klere was en homself in water was voordat hy na die kamp toe terugkeer.
29“Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. 30Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die Here gereinig word. 31Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle. 32In die toekoms sal die versoeningshandeling gedoen word deur die gesalfde hoëpriester wat in die plek van Aäron sal dien. Hy sal heilige linneklere aantrek, 33die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting#16:7, 16, 17, 20, 23, 33 Of tabernakel. en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele volk. 34Om een keer elke jaar versoening te doen vir die Israeliete is ’n permanente wet vir julle.”
Moses het al hierdie instruksies wat die Here vir hom gegee het, gevolg.

Currently Selected:

LEVITIKUS 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy