YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 8

8
Die oorwinning oor Ai
1Die Here het toe vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie. Moenie moedeloos word nie. Vat al jou manskappe en gaan veg teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk en sy stad en sy land in jou mag. 2Maak met Ai en sy koning net soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Hierdie keer mag julle egter die buit en die vee vir julleself vat. Stel ’n hinderlaag aan die agterkant van die stad op.”
3Josua en al sy manskappe het toe teen Ai opgetrek. Josua het 30 000 dapper manskappe uitgekies en hulle gedurende die nag uitgestuur. 4Hy het hulle beveel: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg. Moenie te ver van die stad af gaan nie. Hou julle gereed. 5Ek en almal saam met my sal die stad van voor af nader. Wanneer hulle soos die vorige keer uittrek om teen ons te veg, sal ons op die vlug slaan. 6Hulle sal uit die stad uit kom om ons agterna te sit. Hulle sal dink ons vlug weer vir hulle soos die vorige keer. Ons sal voor hulle uit padgee. 7Julle moet dan uit julle skuilplek opstaan en die stad inval. Die Here julle God sal dit in julle mag gee.
8“Wanneer julle beheer van die stad oorgeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Maak soos die Here gesê het. Julle het nou my bevele.”
9Josua het hulle weggestuur. Hulle het die hinderlaag gaan opstel en hulle ingegrawe tussen Bet-El en die westekant van Ai. Josua self het daardie nag in die kamp geslaap.
10Josua het die môre vroeg opgestaan en sy manskappe opgeroep. Hy en die aanvoerders van Israel het die manskappe teen Ai gelei. 11Al die manskappe het saam met hom opgetrek en nader aan die stad beweeg. Hulle het kamp opgeslaan aan die noordekant van Ai. Daar was ’n laagte tussen hulle en Ai. 12Josua het ongeveer 5 000 man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai aan die westekant van die stad. 13Die hoofkamp was dus noord van die stad en die manskappe in die hinderlaag aan die westekant van die stad. Josua self het daardie nag in die laagte geslaap.
14Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en sy leër haastig klaargemaak en vroeg die môre uitgetrek om teen Israel oorlog te maak. Hy en sy mense is na ’n plek regoor die Jordaanvallei. Hy het egter nie geweet van die hinderlaag wat agter die stad gelê het nie.
15Josua en die hele Israel het omgevlieg en op die vlug geslaan in die rigting van die woestyn. 16Almal in die stad is opgeroep om hulle te agtervolg. Hulle is agter Josua aan en is so van die stad af weggelok. 17Daar was nie ’n man in Ai of Bet-El#8:17 Die byvoeging van Bet-El kom nie in al die oorspronklike manuskripte voor nie. oor wat nie agter die Israeliete aan was nie. Hulle het egter die stad net so oop gelos toe hulle agter Israel aan is.
18Toe sê die Here vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.”
Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek. 19Toe hy sy hand uitsteek, was dit die teken. Die manskappe wat weggekruip het, het vinnig uit hulle skuilplekke opgespring en die stad bestorm. Hulle het die stad ingestorm en dit verower. Hulle het dit dadelik aan die brand gesteek.
20Toe die mans van Ai omkyk, sien hulle hoe die rook uit die stad in die lug optrek. Hulle kon absoluut nêrens heen vlug nie. Die mense wat in die rigting van die woestyn gevlug het, het nou teen hulle agtervolgers omgedraai. 21Josua en al die Israeliete het gesien dat die hinderlaag gewerk het. Toe die rook uit die stad begin opstyg, het hulle omgedraai en die mans van Ai aangeval. 22Die manskappe van Israel het uit die stad gekom en hulle van agter aangeval. Die mense van Ai het nou Israeliete voor en agter hulle gehad. Die Israeliete het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat kon oorleef of vrykom nie.
23Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua toe gevat. 24Nadat die Israeliete al die inwoners van Ai wat hulle op die oop stuk veld en die woestyn agternagesit het, doodgemaak het, is hulle terug na Ai toe en het al die mense in die stad doodgemaak. 25Die mense van Ai wat daardie dag dood is, sowel mans as vroue, was 12 000. 26Josua het nie sy hand met die spies wat hy uitgesteek het, teruggetrek voordat almal wat in Ai gebly het, uitgewis#8:26 Die term vir die ban word hier gebruik. was nie. 27Net die vee en die oorlogsbuit van die stad het oorgebly. Israel het dit vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua gesê het.
28Josua het Ai#8:28 Die naam beteken ruïne. afgebrand en daarvan ’n verlate ruïneheuwel gemaak. Dit is vandag nog so. 29Josua het die koning van Ai aan ’n boom opgehang. Hy het hom daar laat hang tot die son ondergegaan het. Josua het toe opdrag gegee om sy liggaam van die boom af te haal. Hulle het dit in die ingang van die stad gaan gooi en dit met ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar.
’n Altaar by Ebal
30Josua het daarna ’n altaar op die Ebalberg vir die Here, die God van Israel, gebou. 31Hy het dit gebou soos Moses, die dienaar van die Here, dit vir die Israeliete voorgeskryf het. So staan dit geskryf in die wetboek van Moses: “Maak vir my ’n altaar met klip wat nie met ’n ysterinstrument bewerk is nie.” Hulle het op die altaar brandoffers vir die Here gebring en ook maaltydoffers geoffer. 32Terwyl die Israeliete staan en kyk, het Josua ’n afskrif van die wet van Moses op die altaar se klippe uitgraveer.
33Al die Israeliete, sy leiers, sy beamptes en sy regters, is in twee groepe aan weerskante van die ark verdeel. Daar was vreemdelinge sowel as burgers. Een deel het aan die voet van die Gerisimberg gestaan en die ander deel onder die Ebalberg. Hulle het na mekaar gekyk met die Levitiese priesters wat die ark dra tussen hulle. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het, toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang.
34Josua het toe vir hulle alles wat die wet sê oor seën en straf voorgelees, soos in die boek van die wet geskryf staan. 35Josua het voor almal van Israel wat daar bymekaar was, vroue en kinders en vreemdelinge wat saam met hulle gebly het, alles gelees wat Moses beveel het. Hy het niks uitgelaat nie.

Currently Selected:

JOSUA 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy