YouVersion Logo
Search Icon

JOËL 2

2
Sprinkane val die land binne
1Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die Here kom en is naby. 2Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie.
3Voor die leër brand vuur en agter volg ’n brandende vlam. Voor hulle lê die land soos die Tuin van Eden, maar agter die leër is ’n verlate verwoesting gelaat. Niks kan hulle ontsnap nie. 4Hulle lyk soos perde en hulle galop soos oorlogsperde. 5Hulle klink soos strydwaens wat oor die heuweltoppe voortdreun! Hulle raas soos vuur wat ’n grasveld verteer of soos ’n magtige leër wat gereed is om oorlog te maak.
6Angs oorweldig die mense; hulle gesigte is bleek van vrees. 7Die dapper soldate storm vorentoe, soos opgeleide manskappe klim hulle oor die mure. Hulle marsjeer doelgerig vorentoe, niks laat hulle van hulle koers afwyk nie. 8Hulle stamp nooit teen mekaar nie, elkeen bly op sy regte plek. Hulle bars deur die verdediging, geen wapen kan hulle stop nie. 9Hulle oorval die stad en hardloop op die mure. Hulle val die huise binne, en klim soos diewe deur vensters.
10Soos hulle voortbeweeg, skud die aarde en bewe die hemel. Die son en die maan verdonker en die sterre skyn nie meer nie.
11Die Here roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die Here is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?
Kom terug na My toe!
12Maar nou sê die Here: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur! 13Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie. 14Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die Here julle God kan offer!
15Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom. 16Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die Here. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer.
17Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”
’n Belofte van herstel
18Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry. 19Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie. 20Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.”
Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!
21Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen! 22Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra. 23Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die Here julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen. 24Daar sal weer hope koring op die dorsvloere wees. Die parskuipe sal oorloop van wyn en olyfolie.
25Die Here sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur.
26“Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie. 27Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die Here julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.”
Die Here beloof sy Gees
28“Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien.#2:28 2:28-32 is in die grondteks 3:1-5. 29In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort.
30“Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme. 31Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die Here aanbreek.
32“Enige persoon wat tot die Here bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg#2:32 Sionsberg verwys na die berg waarop die tempel in Jerusalem gebou is. en in Jerusalem wees, net soos die Here gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die Here geroep het.”

Currently Selected:

JOËL 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy